10 Vrae aan Flip Loots

Dr Flip Loots is al dekades lank betrokke by godsdiensuitsendings oor die radio: vroeër by Transwêreldradio en Radiokansel, waarvan hy die besturende direkteur was, toe by Christen-Netwerk (Radio) en deesdae by RSG. Frits Gaum het met hom gesels.


1. Het jy nog altyd ’n passie vir uitsaai, Flip?

Dit was van jongs af my passie om by die radio betrokke te raak. Ek en ’n vriend het met behulp van sy bandopname-masjien op skool programme vervaardig wat ons by die destydse KJV-byeenkomste voorgespeel het. Toe die geleentheid hom voordoen om eers by Transwêreldradio en toe Radiokansel en later by die SAUK/SABC betrokke te raak, was dit soos ’n droom wat werklikheid geword het. Ek was gelukkig om radio-opleiding onder andere in Cambridge, Engeland, en in Nederland by Evangelische Omroep te kry. My passie vir radio het deur die jare net toegeneem en ek vind groot bevredi­ging in die vervaardiging van spesiale programme soos hoorbeelde, dokumentêre programme, Kersdag- en Paasfees-dramas, asook onderhoudsprogramme. Ek kan nie sien dat hierdie passie ooit sal vervaag nie. Daarom dat my radio-opleidingskursus by Tukkies geakkrediteer is om ander aan te steek en op te lei om ’n soortgelyke passie te ontdek.

2. Koerante kry swaar, sosiale media floreer … en die radio?

Dit lyk tog asof radio steeds gewild bly onder mense. Dis mos deesdae moontlik om selfs op selfone, die rekenaar en ander sosiale media daarna te luister. Ons ervaar dit veral met RSG se oorsese luisteraars. Die “dood” van die radio is jare gelede met die koms van TV en die groei van die sosiale media voorspel, maar dit lyk asof die teen­oorgestelde gebeur en radio steeds vir baie mense die een vriend is wat hulle nie kan of wil prysgee nie.

3. By watter godsdiensprogramme is jy deesdae betrokke?

Ons maatskappy, TripleM-Produksies, vervaardig vir RSG die vroegoggend- en aandgedagtes, die eredienste wat landwyd opgeneem word, asook die ateljeedienste. Daarby is ek die regisseur van die baie gewilde interaktiewe “Fiks vir die lewe”-besprekingsprogram wat elke Sondagaand net ná die seweuur-nuus regstreeks uitgesaai word. Ek skryf ook die kinderprogram “Die avonture van Manie Mier” wat Sondagaande om 18:10 gehoor kan word, en is elke jaar betrokke by die beplanning en aanbieding van ’n Kersdagprogram sowel as ’n Paasprogram.

4. 1994 en die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika – wat ook groot implikasies vir die SAUK/SABC se uitsaaibeleid gehad het – lê al meer as twee dekades in die verlede. Wat in die huidige situasie is vir godsdiensuitsendings beter en wat is slegter as in die vorige bedeling?

Ek glo nie dat die oorgang na die nuwe bedeling ernstige negatiewe implikasies vir die uitsaai van godsdiensprogramme gehad het nie. Dit het myns insiens eerder ’n wyer blootstelling aan kleiner geloofsorganisasies gebied om ook betrokke te raak. Wat wel verander het, is die destydse pro rata-toekenning van uitsaaibeurte aan die hand van lidmaatgetalle. Tans is die wagwoorde radiomatigheid, verteenwoordiging van Suid-Afrika se bevolkingsgroeperinge, asook verdeling tussen mans- en vroue-aanbieders, ongeag die lidmaattalle van die betrokke kerke waaraan die uitsaaiers behoort. RSG pro-beer om fokus te plaas op godsdiens en die waardes wat daarmee gepaard gaan, eerder as op kerke en kerkverbande. Laasgenoemde word egter nie weggelaat nie, soos die huidige reeks oor kerkleiers Sondagoggende vroeg bevestig. Daar word ook probeer om deur godsdiensprogramme en -inhoud verdraagsaamheid en respek tussen gelowe en geloofsgroepe te bevorder en die boodskap van barmhartigheid, hoeder van jou naaste en liefde uit te dra.

5. Is daar teologiese keuring vir die godsdiensprogramme wat deur die SABC uitgesaai word, of verkondig elke uitsaaier die evangelie soos hy of sy goed dink?

Die SABC, as openbare uitsaaier, is nie ’n kerklike instansie nie en onderskryf daarom nie bepaalde geloofsgemeenskappe se godsdienstige oortuigings nie. Daar word nie amptelik met verskillende kerke saamgewerk nie, maar die verwagting is dat elke kerk wie se lede geleentheid kry om oor die SABC uit te saai, sy eie teologiese toesig oor sodaniges sal hou. Vanweë die verskeidenheid van affiliasies onder luisteraars, bly dit die standpunt van die SABC dat geen teologiese sake waaroor daar ’n verskil van oortuiging bestaan, eensydig aangeroer sal word nie. Wat die Christelike uitsendings betref, word die mense wat vir uitsendings genooi word, vooraf behoorlik ingelig oor wat van hulle verwag word in terme van die SABC se uitsaaibeleid, terwyl die opgeneemde boodskappe voor uitsending gemonitor word.

6. En ander godsdienste?

Die SABC het ’n amptelike godsdiens-uitsaaibeleid wat bepaal dat geen geloofsgroep enigiets oor die lug mag verkondig wat ’n ander geloofsgroep aanval of aanvegbare stellings maak rakende die regering van die dag, bepaalde kerkgroepe bevorder of fondse daarvoor insamel nie.

7. Is al die godsdiensprogramme wat die SABC uitsaai, uitgekontrakteer, of maak die uitsaaier self sommige radio- en TV-godsdiensprogramme?

By RSG is die huidige beleid dat die Afrikaanse godsdiens-programme uitgekontrakteer word onder bepaalde voorwaardes en toesig deur die stasiebestuur. Daar is egter sommige van die SABC se dienste – soos Ukhozi FM, Umhlobo Wenene, Lotus FM en van die TV-stasies – wat hulle eie godsdiensprogramme vervaardig.

8. Gee die openbare uitsaaier na jou mening genoeg tyd vir godsdiensuitsendings in die verskillende amptelike tale van Suid-Afrika?

Volgens die SABC se godsdiens-uitsaaibeleid is Suid-Afrika per se ’n godsdienstige nasie en moet daar in alle amptelike tale aan die godsdienstige verwagtinge en behoeftes van die luisteraars voldoen word. Gevolglik word daar tyd op die verskillende uitsaai-platforms daarvoor ingerig. Hieroor moet ’n mens baie dankbaar wees, gedagtig daaraan dat die SABC ’n openbare uitsaaier is en nie ’n godsdiens-radiostasie nie. Of die tyd wat beskikbaar is, genoeg is, is debatteerbaar. Wat is “genoeg”? My ervaring by RSG is dat  die SABC nie apaties staan teenoor godsdiensprogramme nie en selfs bereid is om tyd te vind vir addisionele godsdiensvoorstelle wat waarde kan toevoeg tot die wyer programskedule. RSG saai 300 minute per week se godsdiensprogramme uit van 7 980 minute per week se regstreekse uitsaaityd (05:00-00:00 daagliks) = 3,76%.

9. Hoe dink jy: Is daar nodigheid in ons land vir “private” godsdiensuitsaaiers soos Radiokansel en Radio Tygerberg?

Ek glo dat daar altyd ruimte sal wees vir “private” godsdiensuitsaaiers omdat hulle ’n vryer mandaat het as die openbare uitsaaier en bepaalde nis-markte kan bedien. Daar is luisteraars wat graag na hierdie godsdiens-uitsaaiers luister, veral waar hulle reekse van bekende predikers uitsaai en deurlopende godsdienstige musiek speel. Dit is veral diegene wat om een of ander rede (hospitalisering, afstand vanaf kerke, ouderdom, vragmotorbestuurders ens) nie gereeld by ’n kerk kan kom nie, wat groot baat vind by sulke godsdiensuitsaaiers.

10. Wat wil jy nog graag met jou uitsaaiwerk bereik?

Ek is tans besig met ’n tweede D-graad by die Radboud-universiteit in Nederland wat fokus op die narratiewe prediking soos by Jesus as riglyn vir radiopre­diking. Ek wil graag ’n model skep wat die ra­dio­­predikers in Suid-Afrika kan help om die evangelieboodskap (’n narratief – verhaal – in sy wese) nog meer aktueel en innoverend te verkondig. Dan is ek ook gedurig aan die peins oor nuwe en interessante soorte godsdiensprogramme wat selfs onverskilliges se nuuskierigheid kan prikkel en terselfdertyd opbouend kan wees. My groot droom bly om ’n gods­diensradioprogram sonder woorde en net met by­klanke en musiek te vervaardig. Wie weet, dalk in 2016!