Wat sing ’n missionale kerk?

Die NG Kerk se Algemene Sinode het by herhaling besluit en bevestig dat die kerk ’n missionale kerk wil wees. Dit is ’n visie wat ook al meer deur gemeentes gekoop en uitgeleef word. Maar wat is die implikasies daarvoor vir die kerksang? NEELS JACKSON het gaan kers opsteek.


In die vroeë kerk het sang twee funksies gehad, sê die Nuwe-Testamentikus dr Stephan Joubert. Die eerste was lof aan God, maar die tweede was ’n leerfunksie.

In ’n kultuur waar min mense lees of skryf, word sang as ’t ware die katkisasieboeke. Dit is die eerste lyn van onderrig.

Hy verwys byvoorbeeld na Filippense 2:5-11, die gedeelte oor hoe Jesus Christus sy Goddelike bestaan neergelê het om die gestalte van ’n slaaf aan te neem, hoe Hy Homself verder verneder het deur tot in die dood gehoorsaam te wees, en hoe God Hom toe verhef het tot waar elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here”.

Dit is in die vorm van ’n lied geskryf – en eenvoudige liedere wat maklik aangeleer en gesing kon word, het geloofswaarhede by mense vasgelê.

Dr Breda Ludik, lid van die werkgroep VONNK wat nuwe liedere vir die kerk ontwikkel, identifiseer en keur, sê iets soortgelyk het tydens die kerkhervorming gebeur.

Toe Martin Luther by geleentheid gevra is of hy nie bang is al sy werk sal verlore gaan nie, was sy antwoord: “Nee, want die mense sing dit.” Die geloofwaarhede wat tydens die Reformasie herontdek is, is deur sang in mense se hart vasgelê.

Prof Nelus Niemandt, hoof van die Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap aan die Universiteit Pretoria, sê vir ’n missionale kerk moet sy musiek ook baie meer as ’n stukkie versiering wees. Dis ’n sterk uitdrukking van wat die kerk glo en het groot krag om mense te mobiliseer.

Die missionale credo kan soos volg saamgevat word:

God, die Vader, Seun en Heilige Gees, is besig om God se wêreld nuut te maak. God red ons, versoen ons met Hom, en roep ons om saam met God hieraan mee te werk. Daardeur word ons draers van liefde, vreugde, vrede, hoop, genesing, redding, versoening en geregtigheid. Dit is die getuienis van die evangelie van Jesus Christus. Hierdie roeping bind ons saam as God se kerk in sy wêreld.

Die probleem is dat die kerk, veral in sommige vorme van lofprysing en aanbidding (ofte wel Praise & Worship) besig kan wees met ’n verskraalde evangelie wat net gaan oor die gedeelte “God red ons en versoen ons met Hom.”

Dit word ’n verskraalde evangelie wat net gaan oor persoonlike redding, oor die persoonlike verhouding met God. En ’n mens hoor dit soms in liedere wat deurspek is van die voornaamwoorde “ek”, “my” en “U”.

Niemandt en Ludik waarsku albei teen sulke individualistiese lofprysing.

Ludik verbind dit ook aan die verbruikerskultuur, waarin dit alles oor my en my behoeftes gaan. Hy haal die sosioloog Peter Berger aan wat gesê het dat as jy saam met die duiwel uit dieselfde pot wil eet, jy ’n baie lang lepel moet hê. Dit geld ook die kerkmusiek en die verbuikerskultuur.

Die eensydige beklemtoning van die gedeelte oor die persoonlike redding, bring mee dat die eerste deel van die missionale credo op die agtergrond geskuif word. Dit is die deel wat handel oor God se betrokkenheid in die wêreld.

Trouens, Niemandt waarsku dat van die liedere wat gesing word, God op ’n afstand stel. Hy verwys na ’n lied soos “In die Hemel is die Heer en sy glans is soos kristal …” Dit hou God weg uit hierdie werklikheid –terwyl die uitgangspunt van missionale kerkwees is dat God helend en reddend in die wêreld teenwoordig is.

Die kerk het meer liedere nodig wat God se liefde en die rou werklikhede in die wêreld by mekaar uitbring, sê Niemandt. Iets soos die Taize-lied “Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.”

Die ander deel van die missionale credo wat verwaarloos word, is die gedeelte oor die mens se roeping om saam met God te werk aan die heling van die wêreld.

Niemandt sê ’n lied soos Johannes Kerkorrel se Gee jou hart vir Hillbrow, bevat amper beter teologie as van die liedere wat in kerke gesing word.

“Ons het meer liedere nodig wat ons bewus maak van ons taak in hierdie wêreld,” sê Niemandt. Hy sê dat rubrieke in die Liedboek oor kerkwees in die wêreld “bitter skraal” is.

Ludik sê dit is ’n probleem dat daar te min liedere met ’n missionale boodskap is. By VONNK en Flam word daar egter gewerk daaraan om dié leemte aan te vul.

▶ Om gemeentes te help om die missionale liedere te sing wat beskikbaar is, begin Kerkbode in hierdie uitgawe met die rubriek “Sing Missionaal”. In elke uitgawe word ’n teks of gedeelte van ’n lied wat die missionale boodskap dra, geplaas.