10 Vrae aan Danny Fourie

Danny Fourie se boek, Vir ewig en altyd saam – ’n reis van liefde, verlies en hoop, oor sy kortstondige huwelikslewe met die vorige redakteur van Kerkbode en LiG, wyle Adri-Louise van Renen-Fourie, het pas verskyn. Frits Gaum het met hom gesels.


1. Wie is jy, Danny?

Allereers is ek die pa van vyf wonderlike en begaafde kinders. Hulle het saam met my en Adri-Louise die moeilike kankerpad geloop. Hulle blywende ondersteuning is onmisbaar. Ek is ’n mediamens, die kommunikasie met ’n onsigbare gehoor fassineer my steeds. Alhoewel ek ’n private mens is, geniet ek die kuiers en geselskap van my naby vriende. Ek is baie lief vir houtwerk en gek oor die Karoo, waar ook Adri-Louise se wortels lê. Ek is bly ek ken die Here, of Hy vir my, en dat my lewe in sy hande is, want soos die dominee by Adri-Louise se roudiens aangehaal het: “How small we are, how little we know …”

Danny Fourie

Danny Fourie

2. Jy het jou en Adri-Louise se liefdesverhouding op ’n baie besondere manier geboekstaaf. Was dit vir jou moeilik om die boek te skryf?

Tegnies was dit nie moeilik om struktuur en inhoud aan die boek te gee nie. Ons kort lewe saam is in my geheue ingebrand en ek wou dit graag vertel. Dit het my egter emosioneel verrinneweer om by elke fase en opdraand, maar ook by talle mooi oomblikke, stil te staan en die diepte en betekenis van daardie oomblikke te beskryf. Menige dag het ek deur trane heen na die rekenaarskerm voor my gekyk en gewonder of ek die krag sal hê om by die laaste sin uit te kom.

3. Wat wou jy graag met dié boek bereik?

Ek het die boek geskryf vir mense wat met kanker te doen het. Veral vir diegene wat ’n geliefde deur terminale kanker verloor het en steeds treur. Ek hoop dat ek vir daardie mense sal help om woorde en taal vir hulle hartseer te kry. Die sekondêre uitvloeisel van die boek is dat ek die geleentheid gehad het om déúr my eie hartseer te werk en saam met God te worstel oor hierdie tragedie wat my en Adri-Louise en ons liefde getref het.

4. Wat was vir jou, as jy nou terugkyk, die hoogte-punt van julle verhouding?

Ons hele kort huwelikslewe was vir my ’n hoogtepunt. Ek vertel graag van die eerste kaartjie wat sy vir my gegee het met op die buiteblad ’n lopende buitekraan en ’n gehawende emalje-bekertjie wat daaraan hang. Binne-in het sy geskryf: “Die foto op die kaartjie? Die tyd van hongersnood en dors is vir ons verby – daar is nou ’n ‘ons’. ” Daardie “ons” het ons verhouding gekenmerk in alles wat ons gedoen en in alles wat oor ons pad gekom het. Adri-Louise het graag gesê: “Ons is ’n team”.

5. Wat, dink jy, was die mooiste eienskap van Adri-Louise?

Ongetwyfeld haar innemende persoonlikheid. Sy sou met haar volle aandag na iemand luister, uitvra, saamdink, meeleef. Haar liefdestaal was om te gee. Sy was ’n gewer van geskenke, nommerpas uitgesoek en kunstig opgemaak en toegedraai. Sy was ook ’n gewer van haarself. Haar kundigheid en kennis het sy met haar redaksie gedeel en met enigiemand wat daarna gevra het. En saam daarmee haar ondubbelsinnige lojaliteit en sin vir wat reg en verkeerd is. En dan kon sy natuurlik lag dat jy haar doer hoor!

6. Jy het onlangs ook ’n boek oor Regardt van den Berg gepubliseer. Waarom juis oor hom?

Hy was gereed om oor sy lewe te praat en Lux Verbi het my gevra om die boek saam met hom te skryf. Hy het ’n merkwaardige loopbaan as filmregisseur – ’n veteraan in alle opsigte – en daarmee saam ’n veelbewoë lewe. Sy dramatiese bekering en voortgesette Christenskap is besonders. Ek kon met baie aspekte van sy persoonlike lewe identifiseer en die emosie agter baie van sy trauma verwoord. In die proses het ons baie goeie vriende geword.

7. Jy was in jou jonger dae by die SAUK (TV1) betrokke. Wat onthou jy veral van daardie tyd?

Dit was ’n tyd van ongekende kreatiwiteit en skeppende stimulering. Ek is betaal om prentjies te maak en die land en die wêreld te sien! Met die godsdiensprogram “Kruis en Kroniek” kon ek my teologiese opleiding gebruik. Later was ek die programbestuurder van joernaalprogramme soos “Antenna” en “Pasella”. By die nuus-aktualiteitsprogram “Netwerk” het ek saans saam met Freek Robinson die storie agter die storie gaan haal. “Top Billing” is ’n program wat ek saam met ’n vervaardiger geskep het en wat vandag nog uitgesaai word.

8. Jy was lank ’n uitgewer. Watter drie boeke waarvan jy die uitgewer was het die grootste indruk op jou gemaak?

Eerstens Ben du Toit se God? Geloof in ’n postmoderne tyd, waarvoor hy die Andrew Murrayprys gekry het. Dan is daar Willie Jonker se boek wat ek ná sy dood uitgegee het, Relevansie van die kerk. Die derde boek gaan oor gebed – die insiggewende teks van Vincent Brümmer, Wat doen ons wanneer ons bid? (Die eerste is boek is by CLF uitgegee. Die ander twee by Bybel-Media – Red.)

9. Waaroor gaan jou volgende boek?

Ek begin nou saam met RSG en ’n uitgewer aan ’n boek oor die wetenskap werk. Die verwerking van ’n rolprentdraaiboek in ’n boek is dalk ’n volgende projek. En dan hoop ek ek kan tyd vind vir ’n spanningsverhaal oor die konflik wat morele keuses noodwendig by mense bring.

10. Hoe lyk jou toekoms?

Wat maak ek die res van my lewe sonder Adri-Louise? Jy vra hoe lyk my toekoms? Vir my onseker en onduidelik. Ek gaan aan en doen wat my hande vind om te doen. God het toegelaat dat Adri-Louise sterf toe ons huwelikslewe pas begin het … Hy kan mos alles wat gebeur het, ten goede gebruik? Ek verwonder my daaraan dat God uit soveel pyn die goeie te voorskyn bring …