Twee gemeentes steek ’n brug oor

Twee Kaapse gemeentes het onlangs, letterlik, ’n brug oorgesteek na mekaar toe. Hulle verhaal van merkwaardige vergifnis en versoening oorspan ’n kloof van 65 jaar.

Die N2 snelweg skei hulle van mekaar. Aan die een kant, rustige Pinelands, waar niemand onveilig voel nie. Aan die ander kant, Athlone, waar almal onophoudelik koes. Hier trek die koeëls daagliks. Dis twee wêrelde wat mekaar nie ken nie.

Ds Stephen Snyman (van die Calvynse Protestantse Kerk) en dr Tiana Bosman (van Pinelands se NG gemeente) het mekaar leer ken in Athlone by die Konvent van Reformatoriese Kerke, twee jaar gelede.

Tydens die Konvent skiet bendes ’n 16-jarige seun, op pad van die skool af, buite die kerk dood. Oorweldig hierdeur, gaan wys Stephen vir Tiana hoe leef Athlone se mense in hierdie moeilike konteks van sy bediening: bendes, dwelms, geweld.

Kort hierna sê Stephen se kerkraad: “Ons kom mos uit die NG Kerk. Waarom tel ons nie weer die bande op nie? Kom ons begin met Pinelands. Dit is duidelik dat hulle omgee.”

Hulle eerste tree was ’n gesamentlike kerkraadsvergadering – wat so goed verloop dat mense daarna met mekaar kontak behou. Stephen beskryf dit as “een van die mees emosionele oomblikke van my lewe”. Om die omvang hiervan te verstaan, moet jy die ontstaansgeskiedenis van die Calvynse Protestantse Kerk ken.

Sondag, 15 Oktober 1950: Die CPK word uit pyn gebore. As uiterste protes teen apartheid. Die vorige week lewer eerwaarde ID Morkel van die destydse NG Sendingkerk, sy laaste preek agter op die bak van ’n lorrie. Sy gemeente sit buite. Hulle is van hulle kerkgrond vervreem deur regeringsbeleid.

Die CPK se belydenis begin so: “Ons is spyt dat daar, by die baie ander kerke, nog ’n kerk gestig moes word …” Hulle wou nie, maar hulle kon nie anders nie.

Daar is wonde wat ekstra diep slaan. Dié wat ’n mens opdoen omdat jy reg doen. Hiervan hoor Pinelands se lidmate tydens hulle eerste gesamentlike kerkraadsvergadering met hulle broers en susters uit Athlone. Tiana onthou dit as ’n “aangrypende eerste gesprek”.

’n Paar maande daarna word die CPK 65 jaar oud. Pinelands maak daardie dag hulle kerkdeure toe. Die hele gemeente gaan vier saam die CPK se verjaardag. En gee so ’n volgende tree nader aan mekaar.

Vanjaar, op 14 Februarie, het hulle vir die eerste keer saam nagmaal gevier in Pinelands se kerk. “Ons het gedink dis makliker vir Pinelands om na Athlone toe te gaan, as andersom,” vertel Tiana. Hulle het nie verwag dat daar meer as 60 mense van Athlone sou opdaag nie. “Toe daag daar meer as 180 op! En niemand sit eenkant nie.”

Mense van dieselfde kerkfamilie. Wat, almal, op verskeie maniere, deur apartheid in hulle menswaardigheid geknou is. Wat mekaar (her)ontdek as gelykwaardige begenadigde kinders van God. Wat saam aanbid; saam sing:  “O God, our help in ages past, our hope for years to come …”

“Die oorsteek van die brug oor die pad, was letterlik en geestelik ’n oorgang van een tyd na ’n ander,” sê Stephen. “Ons sal nooit weer dieselfde kan wees nie!”