10 vrae aan Elna Mouton

Elna Mouton is die mederedakteur van vanjaar se wenboek van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys. Sy het met Frits Gaum oor die projek wat tot hierdie merkwaardige boek gelei het, gesels.


1. Wie is jy, Elna?

In my diepste wese is ek ’n aardse mens, lief vir eenvoud en stilte. Ek het op Ceres grootgeword met magtige bergspitse, vars vrugte en helder water, én vier woelige jonger broers. My spiritualiteit is veral diep gestempel deur ons moeder se lewe van gasvryheid, met wortels in die Skotse piëteit. Ons huis se naam kon net sowel Slegs vir almal gewees het. Ná skool loop my pad via Stellenbosch en Hugenote Kollege op Wellington na die Oos-Kaap waar ek 25 jaar sou werk – vir 15 jaar in diens van die NG sinode en daarna vir 10 jaar as dosent in Nuwe Testament by die destydse UPE. Dié jare sou my geheel en al núút na die lewe laat kyk, en my identiteit op fundamentele maniere stempel. Om boonop sedert 2000 by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch betrokke te kan wees, spreek van buitengewone genade!

2. Elna, jy was maatskaplike werker, Bybelkunde-dosent, professor in die Nuwe Testament en dekaan van die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch. Wat was vir jou die hoogtepunt van jou loopbaan … en waarom?

Van vroeg reeds was ek oortuig dat ek ’n sendeling moes word, en het ná skool in ’n BA-rigting beweeg, met Bybelkunde en Xhosa as hoofvakke. Dit was 20 jaar voor die NG Kerk vroue tot die predikantebediening sou toelaat. My loopbaan begin 41 jaar gelede as kerklik-maatskaplike werker in die destydse NGKA-gemeente Canzibe, Transkei, gevolg deur fabriek- en hospitaalbediening in Port Elizabeth, en die vrouebediening van die Oos-Kaapse Sinode. Hierdie ervaring sou my latere betrokkenheid by die opleiding van studente mateloos verryk. Elke moment was vir my ’n unieke geleentheid. As ek ’n hoogtepunt moet uitsonder, was dit die pastorale werk by die Livingstone-hospitaal, wat my naby aan mense in nood gebring het, en die 10 jaar by UPE – veral die aandklasse met gemotiveerde studente wat voltyds gewerk en deeltyds gestudeer het. En wat nagraadse studies betref, besondere ryk jare by UPE en UWK.

3. Jy is mederedakteur van die wenboek van vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutuprys, Living with dignity: African perspectives on gender equality. Die samestelling van dié boek is ’n merkwaardige prestasie met teoloë van dwarsoor Afrika wat daaraan meegewerk het. Waarom handel dit juis oor “gender equality”?

Die boek is voorafgegaan deur soortgelyke projekte wat deur die Network for African Congregational Theology (NetACT) geïnisieer is. Verskeie kweekskole regoor Afrika vorm sedert 2000 deel van dié netwerk en kom gereeld bymekaar om brandende kwessies in gemeentes en gemeenskappe te bespreek, en te vra watter soort leierskap nodig is om dié kwessies aan te spreek. Hulle eerste uitdaging was die oorweldigende MIV/Vigspandemie op daardie stadium. ’n Omvattende studie hieroor het tot die besef gelei van watter sleutelrol vroue elke dag in dié harde werklikheid speel, en hoe uiters broos hulle is as gevolg van die onderwaardering van hulle liggaam, stem en rol in kerk en samelewing. Die hoofsaaklik manlike leiers van NetACT-instansies was bereid om saam met vroue te werk ten einde die omvang en implikasies van geslagsongelykheid in hulle omgewings te probeer peil. Dit het gelei tot die publikasie, Men in the pulpit, women in the pew? Addressing gender inequality in Africa (SUN MeDIA, 2012). Dié prentjie van miskenning van en geweld teenoor vroue het diep geskok en ontroer, en ons het dadelik aan die werk gespring met ’n opvolgprojek wat na ’n radikale alternatief gesoek het, en wat veral as hulpmiddel vir predikante en teologiestudente regoor Afrika kon dien. Die grootste uitdaging was om diep gevestigde (kulturele) denkraamwerke oor die posisie van vroue te help skuif …

4. Hoe lank is aan die boek gewerk?

Nadat die droom vir die projek gebore is, het ons in Augustus 2011 ’n werksessie in Limuru, Kenia, gehad waar skrywers hul eerste konsepte voorgedra het. Dit is in 2012 met ’n tweede rondte voordragte en besprekings ty­dens die NetACT-jaarvergadering by die Instituut vir Do­wes in Worcester opgevolg. Die entoesiasme van skry­wers (vroue én mans) was deurgaans aansteek­lik en het mekaar wedersyds besiel om moed te hou met herhaalde pogings tot verfyning van ons skryfwerk. Die boek het uiteindelik in Januarie 2015 verskyn – dus ’n reis van ongeveer drie en ’n half jaar.

5. Hoe het julle dit reggekry om teoloë van onder meer Suid-Afrika, Namibië, Zambië, Malawi, Kenia en Nigerië saam in één span te laat trek?

Die kerngroep skrywers was bestaande lede van Net-ACT wat die jaarlikse vergaderings bygewoon het. Hulle primêre agenda is om oor teologiese opleiding en die heil van die kontinent te besin, en geloofsonderskeidend te vra na wat die Here wil hê hulle moet doen. Een van die moedigste besluite, myns insiens, wat hierdie groep (hoofsaaklik manlike dosente en kerkleiers) tot dusver geneem het, was om in te stem om met vroue in hierdie projek saam te werk, en na hulle verhale te luister. Dit was allermins vanselfsprekend, en het geleidelik tot klein en groter skuiwe in die NetACT-gesprekke en -besluitnemingsprosesse gelei. Dit was daarom aangrypend om in enkele gevalle te sien hoe mans en vroue sáám aan ’n hoofstuk skryf.

6. Wat, sou jy sê, is die “sentrale boodskap” van die boek?

Die boek handel primêr oor die gelykwaardigheid van alle mense voor God – spesifiek oor geregtigheid teenoor vroue, wat in die geval van Afrika meestal in manlik-georiënteerde huishoudings en gemeenskappe funksioneer. Die boek is bedoel as bewusmaking en uitnodiging aan teologiestudente en predikante om deur middel van ingeligte gesprekke ’n konkrete alternatief in situasies van geslagsongelykheid te help skep. Juis daarom is die erkenning van die boek vir ons as redaksie en skrywers so kosbaar – dit plaas hierdie uitnodiging opnuut in die kollig.

7. Afrika-Christene verskil skerp oor sake soos die plek van die vrou in die samelewing en homoseksualiteit. Waarom meen jy hierdie boek kan gelowiges in hulle nadenke oor sulke sake help?

Living with dignityDie boek bestaan uit sewe afdelings wat deur die lens van God se liefde na die situasie van vroue in verskeie lewensverbande kyk – vroue en kultuur, vroue en die ekonomie, gesondheid en sekuriteit, en vroue in gesinsverband. Dit poog om sensitief met kulturele waardes om te gaan, te bevestig wat lewegewend is, maar radikaal uit te daag wat lewensbedreigend en verslawend is. Omdat die Bybel self meestal vanuit patriargale kontekste ontstaan het, is dit dikwels deel van die probleem, veral wanneer tekste letterlik, sonder inagneming van konteks en doel, as “God se wil” vertolk word. Die boek se droom is dat waar die goeie nuus van Jesus Christus en die basiese beginsels van gelykwaardigheid en respek vir alle mense begin sin maak, hulle verwante kwessies – soos seksualiteit, ras en klas – met groter verbeelding en wysheid sal kan hanteer. Die boek wil mense ánders laat kyk en dink. Soos die buiteblad, die skildery Angel Wings deur die Afrika-Amerikaanse kunstenaar Laverne Ross, uitbeeld. Die vroue wat so grasieus dans, sien duidelik ’n ander werklikheid, en nooi kykers om by hulle aan te sluit. Dit simboliseer die skrywers se passie en verlange dat elke persoon op ons kontinent sal floreer in die teenwoordigheid van dié God wat mens geword het sodat álmal lewe kan hê, en dit in oorvloed (Joh 10:10).

8. Is julle met ander soortgelyke projekte besig?

Ja, NetACT is reeds besig met ’n volgende navorsingsprojek, wat steeds voortbou op insigte uit die vorige projekte. Op die oomblik werk hulle aan ’n projek oor gemeenskapsontwikkeling vanuit teologiese perspektief. Die dryfveer is eenvoudig. Die kerk het nie ’n keuse anders as om armoede en swaarkry aan te spreek nie. Dit wil dominees, en – via hulle – lidmate toerus om gemeenskappe te help om iets aan hulle omstandighede te doen. Ons het besluit om die prysgeld vir Living with dignity aan NetACT te skenk vir toekomstige projekte soos hierdie.

9. Kom die vrou na jou mening tot haar volle reg in die NG Kerkfamilie?

Dit sou onbillik wees om te veralgemeen. Vir seker is daar bemoedigende tekens waar mans en vroue onbedreig sáám hulle gawes in gemeentes uitleef. My waarneming is egter dat die kerk oor die algemeen (nog) nie ’n veilige ruimte vir vroue is nie. Duisende jare van manlik-georiënteerde denke en praktyke verander nie oornag nie, ook nie in die kerk nie. En solank dit die geval is, kom mans (ironies) ook nie tot hulle volle reg nie! Dit is alleen wanneer ons die Gees van God toelaat om ons álmal vry te maak, dat ons gawes en energie in so ’n mate ontsluit kan word dat elkeen se potensiaal vervul kan word.

10. Wat is jou persoonlike grootste droom vir die pad vorentoe?

Eerstens dat Christengelowiges nuut sal leer kyk, gestaltes van God se helende teenwoordigheid in ons lewe van elke dag sal rááksien, en konsekwent vanuit die alternatiewe werklikheid van God se liefde en genade sal leef. Tweedens droom ek dat gesinne in vele gestaltes – as primêre konteks waar ons menswees en waardes gevorm word – veilige, instaatstellende ruimtes sal wees waar álmal geborge sal voel en sal gedy.