NG Kerk word volle lid van die Wêreldraad

Die NG Kerk is weer ’n volle lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK).

Die wêreld se grootste ekumeniese organisasie het Maandagmiddag (27 Junie) op die vergadering van sy Sentrale Komitee in Trondheim Noorweë, die NG Kerk se aansoek om lidmaatskap goedgekeur.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, wat die vergadering in Noorweë bywoon saam met ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, laat weet dat dit vir hulle ’n historiese en emosionele oomblik was. “Met trots kon die NG Kerk weer sy plek inneem tussen afgevaardiges van kerke oor die wêreld.”

Claassen vertel die stigting van die WRK het op 22 Augustus 1948 in Amsterdam plaasgevind. Verteenwoordigers van die Transvaalse Kerk asook die Kaapse Kerk het dit aanvanklik as waarnemers bygewoon. Formele lidmaatskap het later gevolg.

Die NG Kerk het van meet af aktief aan die bedrywighede van die WRK deelgeneem.

Tydens die Tweede Algemene Vergadering van die WRK, te Evanston Augustus 1954, was die tema “Christus – die hoop van die wêreld”. Klem is gelê op die eenheid van die kerk, ter wille van die kerk self én ter wille van sy getuienis in ’n verskeurde na-oorlogse wêreld. Alle vorme van diskriminasie en rassisme is bevraagteken.

Dit het ’n tydperk ingelui waartydens die afgevaardiges van die NG Kerk telkens vrae oor die rassesituasie in Suid-Afrika en die kerk se steun vir apartheid moes beantwoord.

Toe 69 mense op 21 Maart 1960 in Sharpeville deur die polisie doodgeskiet is, is gevra wat die kerke doen om die plofbare situasie te ontlont. Die WRK het ʼn beraad gereël op 7 Desember 1960 in Cottesloe, Johannesburg. Dié beraad se besluite oor die gesamentlike aanbidding, die oortuiging dat die Skrif geen verbod op gemengde huwelike plaas nie, die reg van algemene grondbesit en oor Kleurlingverteenwoordiging in die Parlement het lynreg teenoor die apartheidsbeleid gestaan.

Die NG Kerk se afgevaardigdes, onder wie dr Beyers Naudé, het die besluite gesteun, maar dr HF Verwoerd, destyds eerste minister, het dit in sy Nuwejaarsboodskap verwerp.

Politieke druk op die kerk het toegeneem en een na die ander van die sinodes van die NG Kerk het in 1961 die besluite verwerp. Daar is toe ook besluit om die bande met die WRK te beëindig.

Die kerkorde van die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk, Oktober 1962, het bepaal dat die NG Kerk wel ekumeniese betrekkinge wil handhaaf, maar dat kontak veral met kerke van Gereformeerde belydenis en kerkregering, asook met kerke van algemene Protestantse Christelike belydenis, gesoek moet word. Lidmaatskap of selfs net kontak met die WRK was nie ter sprake nie.

Dit het van die donkerste tye in die NG Kerk ingelui wat sy ekumeniese verhoudinge betref. Na Cottesloe sou nie net die verhouding met die WRK nie, maar ook met ander ekumeniese liggame soos die SA Raad van Kerke, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in gedrang kom.

Claassen sê met terugskoue kan gesê kan word dat die NG Kerk grootliks verarm is deur die wegstap vanaf die WRK. Ekumeniese organisasies is kernbelangrik om geloofstandpunte van kerke met mekaar te kan toets. Daar moet sáám met ander kerke na die waarheid gesoek word. Die skuif uit die WRK het die NG Kerk in baie opsigte verarm maar tegelykertyd ook die WRK. Die organisasie was ook armer sonder die NG Kerk.

Die pad terug het begin in Junie 2007 toe die NG Kerk se Algemene Sinode in Boksburg eenparig besluit het om weer aansoek te doen om lidmaatskap van die WRK.

Dié hertoelating is ’n lang, stapsgewyse proses wat nou in Noorweë voltrek is.

Claassen sê die sirkel het sy volle loop geneem, die NG Kerk is weer tuis waarhy hoort. Ander Suid-Afrikaanse afgevaardigdes – prof Jerry Pillay, dr Frank Chikane, prof Mary-Ann Plaatjies van Huffel en Biskop Malusi Mpulwana van die SARK wat spesiaal na Trondheim gereis het vir die terugkeer van die NG Kerk – het die vreugde van die NG Kerk gedeel.