Die saad sal groei en ’n oes oplewer

Die gelykenis van die saaier (Matt 13:3-8) het klaarblyklik ’n besondere fassinering vir die Nederlandse skilder, Vincent van Gogh (1853-1890), ingehou. Dwarsdeur sy loopbaan as kunstenaar het hy verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om hierdie verhaal uit te beeld, maar eers byna twee jaar voor sy dood het hy daarin geslaag om die twee werke te skep wat by hierdie artikel afgedruk word.

Dat hy bewustelik uitdrukking aan die religieuse betekenis van die Bybelverhaal wou gee, hang saam met die feit dat sy strewe as kunstenaar beskryf kan word as ’n daadwerklike poging om sy idees oor godsdiens, kuns en die natuur in ’n samehangende geheel met mekaar te integreer.

Sy godsdienstigheid is sterk beïnvloed deur die feit dat hy as predikantskind in ’n streng Gereformeerde pastorie grootgeword het – maar met ’n ma wat ’n ama­teurkunstenaar was en haar liefde vir die natuur en die skilderkuns aan haar seun oorgedra het.

’n Liefdesteleurstelling tydens sy verblyf in Londen in sy vroeë twintigerjare lei tot ’n senuwee-ineenstor­ting waarna hy van al sy boeke, behalwe die Bybel, ontslae raak. Hy besluit om sy lewe aan God te wy en gee ’n tyd lank Bybelonderrig by ’n Metodisteskool in Isleworth in Engeland waar hy ook as lekeprediker optree.

Daarna wou hy teologie in Amsterdam studeer, maar moes sy voorstudies staak omdat hy geweier het om Latyn as vak te neem.

Steenkoolmyne

Hy werk vervolgens vir ’n tyd lank as vrywillige prediker by ’n steenkoolmyn in die suide van België waar hy onder die mynwerkers die bynaam “Christus van die steenkoolmyne” verwerf. Teenstand van die kerklike owerhede onder wie se toesig hy werk, bring egter ’n einde aan sy planne om sy lewe aan die bediening te wy.

Die Saaier 2

Nog ’n uitbeelding van Die Saaier deur Vincent van Gogh.

Nadat hy op 27-jarige leeftyd besluit het om voor­taan voltyds as kunstenaar te werk, sou hy steeds poog om deur sy kuns uitdrukking te gee aan sy geloofsoortuigings – sonder om egter sy kuns as ’n vorm van godsdienstige propaganda te beoefen.

In talle van sy skilderye funksioneer koringlande as metafoor vir die lewensiklusse van die mens, en oor die simboliese betekenis van die prosesse van saai en oes het hy die volgende gesê:

“One does not expect to get from life what one has already learnt it cannot give; rather one begins to see more clearly that life is a kind of sowing time, and the harvest is not here.”

Die eerste werk hierbo wat in Junie 1888 geskilder is, word oorheers deur ’n sitroengeel sonsondergang wat met sy strale die hele boonste kwart van die skildery in beslag neem. In kontras daarmee word die onderste driekwart deur ’n omgeploegde land, wat in blou en geel geskilder is, beslaan.

Elemente uit die Bybelse gelykenis wat in die skildery opgeneem is, is – naas die saaier self – die hardgetrapte voetpad op die voorgrond en die voëls wat van die saad wat op die pad geval het, opgepik het.

Hoopvolle dinge

Sonder om al die elemente in die Bybelverhaal uit te beeld (byvoorbeeld die rotsbank en die onkruid), word daar tog aangesluit by die basiese strekking van die gelykenis, naamlik dat dit ten spyte van alles wat op die teendeel dui, tog die moeite werd is om voort te gaan om hoopvolle dinge met die oog op die toekoms te doen.

Vir Van Gogh was die son in sy werk gewoonlik ’n metafoor vir die goedheid van God. In hierdie geval dui die feit dat die son besig is om onder te gaan, op die naderende duisternis en ’n daarmee gepaardgaande gevoel van Godverlatenheid.

Dit word versterk deur die koringland agter die vars geploegde land wat reg is om geoes te word: Die seisoen van lewe en groei is byna verby en al wat oorbly, is die naderende dood. Terwyl die son vir oulaas nog verblindend helder skyn, is daar reeds tekens van verganklikheid en verlies.

Hierdie gedagte kom in die tweede werk hierbo nog meer intens tot uitdrukking: Die ondergaande son beslaan ’n veel groter deel van die skildery en die saaier is met donker kleure (en met dik winterklere) geskilder. Die laaste herfsblare wat aan die boom op die voorgrond vasklou, bevestig dat die einde van die seisoen reeds aangebreek het.

Teenoor hierdie werklikheid van ’n naderende einde staan die figuur van die saaier in albei skilderye. Met sy rug op die ondergaande son gaan hy voort met sy werk om die saad te saai. Daarmee gee hy uitdrukking aan die oortuiging dat die naderende einde van die seisoen nie die einde van die hoop op ’n nuwe toekoms beteken nie: Die nuwe saad sal groei en ’n nuwe oes oplewer, en na die nag sal die son weer opkom en sy vriendelike lig weer oor alles laat skyn.

Binne twee jaar na die voltooiing van dié twee werke het Van Gogh op 35 as gevolg ’n selftoegediende skietwond gesterf. Tydens sy lewe was hy redelik onbekend en het hy feitlik geen skilderye verkoop nie. Eers meer as ’n dekade na sy dood is ’n omvattende uitstalling van sy werk in Parys gehou en het hy skielik oornag beroemd geword.

▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.