10 vrae aan Chris van der Merwe

Chris van der Merwe is ’n letterkundige wat jare lank aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was. Nou skryf hy oor godsdienstige sake. Sy jongste boek, Gesprek sonder einde, het so pas by Lux Verbi verskyn. Frits Gaum het met hom gesels.


1. Wie is jy, Chris?

Ek is ’n afgetrede dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde wat baie jare navorsing oor die letterkunde gedoen het en ná my aftrede oor teologiese temas begin skryf het. Ek is ook die eggenoot van Biebie, die vader van Amelia en Marelise en die trotse grootvader van Liam.

2. Innige simpatie met die verskriklike dood van jou suster, Winnie Rust. In jou nuwe boek, Gesprek sonder einde, wat kort voor Winnie se dood gepu­bliseer is, skryf jy: “Dit is wel menslik om aan­vank­lik, ná ’n groot verlies, deur jou verdriet oor­­weldig te wees en jou pyn te koester, maar uit­ein­delik kan lyding ’n mens tot groter medelye met ander lydendes bevry” (bl 172). Dink jy nou nog so?

Die verwerking van die dood van Winnie het vir my deur verskillende fases gegaan. Aan die begin was daar veral die verlies van ’n geliefde suster en geesgenoot en die kwelling hoe die laaste oomblikke van haar lewe verloop het. Maar hierdie verdriet het algaande ’n groter verdriet geword, ’n verdriet oor die sondes en ellendes van ons land. En saam met hierdie verdriet kom die begeerte om in eie kring iets te doen om die nood te help verlig.

Chris_van_der_Merwe

3. Waarom het jy hierdie boek geskryf?

Die temas wat in die boek bespreek word, lê al lank in my gedagtes en die notas was in my lessenaar se laai. Noudat ek afgetree is, kan ek my akademiese skryfwerk opsy skuif om vir die godsdiens plek te maak.

4. Jy skryf: Baie mense wil vandag niks met God, die Christendom en die kerk te doen hê nie. Daar is heelwat redes vir hulle wantroue, en baie daarvan is begryplik (bl 11). Hoe kry jy, ’n letterkundige uit ’n omgewing wat bra skepties is oor God en kerk, dit reg om te bly glo, Chris?

Deur die genade van God wat met my ’n gesprek sonder einde voer.

5. Jy skryf: “Dit is nie net verkeerd om ander gods­diens­te te verkleineer nie, dit is ook verkeerd om alle nie-Christene as verdorwe te beskou” (bl 54). Is Jesus Christus na jou mening een van méér weë na God toe?

As alle weë ons ewe goed na God bring, dan het Jesus tevergeefs gely en gesterwe. Christus is by uitnemendheid die weg na God. Maar as ’n mens dit glo, beteken dit nie dat jy met ’n hooghartige, veroordelende blik moet kyk na almal wat anders dink en glo as jy nie. Ons moet onthou dat ons gesindheid en ons dade meestal veel luider spreek as ons woorde.

6. Jy skryf: “Ons het ’n dialoog tussen die kerk en die kunste nodig” (bl 109). Hoe moet dit in die prak­tyk gebeur en wie, reken jy, moet die inisiatief neem?

Dit kan op baie maniere gebeur. Ek onthou dat ’n Afrikaanse dominee jare gelede ’n samekoms van Sestigers bygewoon het om na hulle te luister en van hulle te leer; dit het groot waardering ontlok. Ek merk verder tot my blydskap dat daar op LitNet ’n aantal opstelle van teoloë verskyn het wat oor literêre werke handel. Ekself het heelwat opstelle geskryf oor spiritualiteit in die letterkunde. Die spirituele element in die literatuur is dikwels subtiel, en literatore het nie voldoende daarvan kennis geneem nie.

7. Jy skryf dat alles na die een sentrale deug in die Christelike geloof heenwys – die deug van die lief­de (bl 211). Wat verstaan jy onder dié (voos­ge­bruikte?) woord?

Hieroor het ek ’n boek geskryf – Die wonder van die goddelike liefde. Moeilik om die vraag in ’n kort paragraaf te beantwoord! Ek dink dat die liefde al die ander Christelike deugde insluit – deugde soos nederigheid, geloof, vrede, geregtigheid. Verder is die liefde uit ’n Christelike oogpunt altyd wederliefde – dit begin met die liefde van God soos geïllustreer in die lewe en sterwe van Jesus; ons liefde is ’n dankbare reaksie daarop, ’n gewilligheid om met God se genade en vergiffenis na al sy skepsels te kyk.

8. Jy was jare lank professor aan die Universiteit van Kaap­stad. Jou mening oor die huidige woelinge aan dié universiteit?

Dit is baie jammer dat geregverdigde protes (soos teen die hoë tariewe wat baie studente uitsluit uit ’n akade­miese opleiding) deur kriminele elemente gekaap is.

9. Het Afrikaans as akademiese taal ’n toekoms?

Ek is nie ’n profeet nie. Maar ek praat Maarten Luther se taal: As ek weet die wêreld sal môre vergaan, plant ek vandag ’n appelboom. As ek weet Afrikaans het geen akademiese toekoms nie, plant ek nog steeds appelbome dat dit bars!

10. Werk jy al aan ’n nuwe boek?

Ek het begin werk aan ’n boek oor geregtigheid en genade. Daar is nog twee (miskien drie) godsdienstige boeke in my kop. As hulle uit is, kan ek op die stoep gaan sit en rus.