Ackland se Laaste Avondmaal sluit almal in

Die Laaste Avondmaal van die Australiese kunstenaar, Margaret Ackland (1954-) is ’n skil­dery wat bewustelik bedoel is as kritiese kommentaar op die wyse waarop die laaste maaltyd van Jesus oor die algemeen in die Christelike kunstradisie voor­gestel word.

Tradisioneel word 12 manlike dissipels saam met Jesus aan tafel uitgebeeld. Die Jesusfiguur word gewoonlik sentraal geplaas en sy dissipels redelik strak rondom Hom gerangskik. Die brood en die wyn neem meermale baie spesifiek die vorm van elemente in ’n sakramentele maaltyd aan – die wyn gewoonlik in ’n duidelik herkenbare nagmaalbeker en die brood in klein porsies gebreek.

In Ackland se skildery word ons getref deur ’n meer informele groepering van ’n groep mense wat as vriende saam aan tafel kuier. Die wyn is in gewone wynglase geskink en daarmee saam is ’n gewone brood op die tafel geplaas. Die helder, dramatiese beligting vestig wel besondere aandag op hierdie twee elemente, maar sonder om die “gewoonheid” daarvan op te hef.

Die Joodse agtergrond van hierdie maaltyd word belig deur ’n sewe-armige kandelaar (menorah) wat ’n prominente plek in die Judaïsme inneem as simbool van die roeping van God se mense om ’n lig vir die nasies te wees.

Die figuur van Jesus word wel sentraal geplaas, maar anders as in die tradisionele voorstelling word Hy net van agter gesien. As gevolg van die beligting is geen meer detail as net sy buitelyne sigbaar nie. Dit wek die vermoede dat hierdie skildery nie net bedoel is as ’n uitbeelding van die spesifieke maaltyd die aand voor Jesus se kruisiging nie, maar uitdrukking gee aan die oortuiging dat die opgestane Heer altyd teenwoordig is wanneer sy volgelinge saam aan tafel is om brood te eet en wyn te drink.

’n Ander moontlikheid is dat die ongedefinieerde buitelyne van die Jesusfiguur gesien sou kon word as ’n soort “plekhouer” vir al die naamlose geringes in wie Hy incognito onder sy volgelinge teenwoordig is. Soos wat Jesus self in Matteus 25: “Vir sover julle vir een van dié geringstes iets gegee het om te eet toe hy of sy honger was, en iets om te drink toe hy of sy dors was, het julle dit aan My gedoen.”

Die mees opvallende aspek van Ackland se skildery is egter die radikale inklusiwiteit wat daarin tot uitdrukking kom. In plaas van net ’n groep mans, tref ons hier ook ’n hele aantal vroue en kinders saam rondom die tafel aan. Een van die vroue is besig om haar kind te borsvoed – waarskynlik ’n toespeling op die welbekende Madonna-en-kind-motief in die Christelike kunstradisie.

Die insluiting van vroue en kinders (en van die naam- en gesiglose vreemdelinge) in hierdie weergawe van die laaste avondmaal is natuurlik vol­kome in lyn met dit wat ons weet van Jesus se tafel­gemeenskap: Letterlik enigiemand was wel­kom in sy geselskap – tot ergernis van die vrome gods­diensleiers wat uiters krities was oor die men­se saam met wie Hy geëet het. Vroue was deel van die kring mense wat hulle rondom Hom geskaar het, en ook kinders is nie uitgesluit uit die seën van sy teenwoordigheid nie.

Ook die persoon wat voor die skildery staan, word nie uitgesluit nie, maar word in die toneel ingenooi deur die gesigte van ’n paar van die tafelgaste wat verby die Christusfiguur na die onsigbare toeskouer kyk.

En dan is daar ook nog die boetvaardige Judas, waarskynlik verteenwoordig deur een van die twee huilende figure wat die kunswerk aan die linker- en regterkant omraam. Ook vir hom is daar plek wanneer daar saam met Jesus aangesit word.

Só moet die gemeenskap van mense lyk wat hulleself as volgelinge van Jesus identifiseer: net so ruim en verwelkomend as hulle Meester en net so ge­reed soos Hy om ’n ieder en ’n elk by die tafel te verwelkom. Het Hy dan nie gesê nie: “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee”?

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.