Moeder en kind soos die Bybel dit beskryf

Die Madonna en Kind is waarskynlik een van die oudste en mees bekende motiewe in die Christelike kunstradisie.

Die vroegste weergawe waarin Maria met die Jesus­kind op haar skoot uitgebeeld word, word in een van die katakombes in Rome aangetref, maar veral ná die konsilie van Efese (431 nC) waar die titel Theotokos (“draer van God”) aan Maria toegeken is, het dit ont­wik­kel tot die mees algemene religieuse uitbeelding in die Christendom – ten minste tot in die tyd van die Re­naissance.

Dit is opvallend dat Maria toenemend in hierdie kuns­werke uitgebeeld word as ’n verhewe, byna bo-aard­se karakter, meestal geklee in die klere van iemand uit die hoër, aristokratiese kringe van die samelewing. In baie gevalle word sy as “koningin van die hemel” (een van haar eretitels in die Katolieke kerk) op ’n troon voor­gestel met ’n kroon op haar kop en geklee in ’n blou gewaad wat enersyds uitdrukking gee aan haar maagdelikheid, maar andersyds ook aan haar koninklike status.

Dit is natuurlik lynreg teen die manier waarop Maria in die Bybel aan ons voorgestel word. In die Evangelies word daar klem gelê op haar nederige afkoms, byvoorbeeld in die Magnificat-gedig waar gesê word dat die Here in haar “geringheid” na haar omgesien het en groot dinge aan haar gedoen het ondanks haar geringe status (Luk 1:48 en 49).

Gewone jongmeisie

In Lukas se weergawe van die geboorteverhaal van Jesus (Lukas 2) word sy uitgebeeld as ’n gewone jongmeisie uit die agterlike dorpie, Nasaret. Ten spyte van haar swangerskap moes sy saam met Josef, haar verloofde, na Betlehem toe reis en daar onder haglike omstandighede geboorte skenk aan haar Kind. Die feit dat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie, beklemtoon die feit dat hulle nie onder die gerekendes van die samelewing van hulle tyd getel het nie.

Matteus wys in sy weergawe van die geboorteverhaal daarop dat Maria saam met Josef en haar Kind ’n tyd lank as vlugtelinge in Egipte moes vertoef om die politieke geweld onder koning Herodes in Palestina vry te spring.

In die res van die Nuwe Testament tref ons haar aan as deel van die kring van Jesus se volgelinge, sonder dat sy klaarblyklik ’n uitsonderingsposisie op grond van haar status as moeder van Jesus beklee het. Trouens, dit was eers nadat sy haar weerstand teen Jesus se vreemde lewenstyl te bowe gekom het, dat sy haar plek in die nuwe geloofsgemeenskap kon inneem.

’n Skildery wat as ’n soort regstelling van die uitbeelding van Maria in die kunstradisie beskou sou kon word, is die Sigeunervrou met kind deur die doofstom Hongaarse skilder, Lajos Tihanyi (1885-1938).

Hoewel dié kunswerk nie spesifiek deur die kuns­tenaar as Madonna en Kind-voorstelling aangedui word nie, is dit tog moontlik om dit as ’n kritiese kommentaar op die tradisionele weergawe van hierdie motief te interpreteer. Dit blyk onder andere uit die ma­nier waarop die vrou met die kind op haar skoot uit­gebeeld word, asook uit die oorheersende gebruik van skakerings van blou in die skildery.

Nederige agtergrond

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die vrou in dié skildery nie van hoë afkoms is nie, maar eerder iemand met ’n nederige agtergrond. Die byna verbete uitdrukking op haar gesig, is dié van iemand wat al armoede en heelwat swaarkry beleef het. Haar growwe hande dui daarop dat sy deur harde fisiese werk ’n bestaan moet maak. Uit die manier waarop sy na die kind in haar arms kyk, is dit nie duidelik of sy hom as lus of as las beskou nie.

Die feit dat sy in die titel van die skildery spesifiek as sigeunervrou aangedui word, versterk die indruk wat deur die visuele uitbeelding geskep word. Die sigeuners as reisende groep mense wat met handewerk en handeldryf ’n bestaan maak, is oral waar hulle gekom het, met agterdog bejeën en as skelm en agterbaks gestereotipeer. Hulle donkerder velkleur het dikwels aanleiding gegee tot erge diskriminasie teen sowel die groep as sodanig, as teen individuele lede van die groep. As gevolg van hulle status as “outsiders” was hulle meermale die teiken van marginalise­ring en selfs vervolging.

Die uitbeelding van die moeder en kind in hierdie werk bring ons baie nader aan die Bybelse beeld van Maria en Jesus. Maria was immers geen “koningin van die hemel” nie, maar een van die geringes in die samelewing, een van die “armste van die armes”, oor wie God Hom ontferm en wat deur Hom ingetrek word in sy heilswerk onder mense. Net so was Jesus nie ’n lid van die bevoorregte klas van sy tyd, maar die “seun van die mens” wat nie eens ’n plek gehad het om sy hoof snags neer te lê nie.

Juis in die armoede en ellende van Jesus en Maria word dit duidelik dat God in ’n besondere sin die God van die armes en die noodlydendes, die weduwees en die wese, en die vreemdelinge in die poorte is.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.