Nicole gee die genade nou aan

Op 23 is Nicole Robarts ’n spreker, skrywer en lewensafrigter. Dis die manier waarop sy as ’n gelowige ’n verskil in ander se lewe maak. NEELS JACKSON vertel.


“Huisma, vriendin, die kwaai een …”

So som Nicole Robarts haar rol in die Echo-huis in Centurion op. Dit is een van die groeiende aantal Echo-huise in Suid-Afrika waar jongmense soos Nicole as betalende vrywilligers bly.

Hulle deel die huis dan met ander jongmense, soms jongmense om wie die moeilikheid soos ’n wolk hang. Maar in die klein huisgemeenskap wat mettertyd groei, help hulle dié jongmense om die lewe te navigeer, om die moeilikheid af te skud, om ’n goeie lewenspad te loop.

Daarvoor kry hulle nie betaling nie. Dit is liefdes­diens, iets van Jesus se selfopofferende liefde wat hulle naleef. En soms vra dit dat hulle ook moet kwaai wees.

As Nicole oor haar huismaats gesels, hoor ’n mens egter net mooi dinge. Een het ’n droom om ’n mode-ontwerper te wees. ’n Ander wil altyd iets regmaak. Saam met nog een is Nicole in ’n 30 dae fiksheidsuitdaging.

nicole-se-boek

Genade, die boek wat Nicole Robarts self gepubliseer het. Sy versprei dit ook self.

’n Mens moet vir Nicole por om iets van die moeilikheid te hoor. En selfs dan is sy vaag. Dalk omdat positiwiteit een van haar sterkpunte volgens Gallup se Strengthfinder is. Ook omdat dit haar rol is om positief te praat, om ander mense so op te bou.

Dit is alles kwaliteite wat bygedra het daartoe dat Nicole vandag ’n “happiness coach” is. Sy help mense om gelukkig te wees. En daarvoor put sy uit haar eie lewenstorie.

Dié storie het sy onlangs self gepubli­seer onder die titel Genade. Op die oor af klink dit mooi, maar vir ’n groot deel vertel dié boek ’n verskriklike storie van ’n klein dogtertjie wat oor jare gemolesteer is.

Dit vertel van ’n kind wat dit alleen moes dra, uit vrees vir wat die molesteerder aan haar ma sou doen as sy sou vertel.

Eers heelwat later, as tiener, het sy vir van haar vriendinne vertel – en toe gehoor van hulle het soortgelyke ervarings. Dis toe dat sy besef het sy is nie alleen nie.

En toe begin die soeke na ’n pad van herstel – met ’n ma wat haar ondersteun, ’n pastorale terapeut wat haar begelei, ander mense wat haar help dra het – en baie wat sy self moes uitsorteer.

Dis ’n pad wat haar gebring het by die punt waar sy regtig kon vergewe en self kon heel word.

Op hierdie pad het Nicole in ’n stadium besluit om teologie te gaan studeer. Sy wou ’n dominee van die NG Kerk word.

Sy sou altyd ’n onkonvensionele dominee wees. Een wat byvoorbeeld meer kaalvoet loop as wat sy skoene dra.

Maar in haar derde jaar het sy besluit dis genoeg. Sy sou nie haar roeping kon uitleef as sy ’n dominee is nie. Die blote titel sou ’n struikelblok tussen haar en ander mense bring.

Sy vertel van ’n tyd toe sy gereeld gaan pool speel het in die plaaslike kroeg, sodat sy die mense kon leer ken, verhoudings kon bou. Maar sodra iemand hoor sy is ’n teologiestudent, hou hulle ’n front voor. Dan is hulle jammer dat hulle netnou ’n kru woord gebruik het. Dan is hulle nie langer hulleself nie.

Dis daarom dat sy besluit het om nie ’n dominee te word nie.

“Dis nie asof die kerk my verloor het nie,” sê sy. “Ek wil net deel van die bewegende kerk wees.”

Dit kan sy doen deur mense te leer om gelukkig te wees. Sy het ’n kursus ontwerp wat bestaan uit vyf sessies van ’n uur tot ’n uur-en-’n-half elk. Daardeur gee sy iets van die genade wat sy self ontvang het, deur na ander toe.

Vir elke mens is daar dinge wat hom of haar gelukkig maak, vertel Nicole. Sy help mense om te bepaal wat dit is wat hulle gelukkig maak. Dan help sy hulle om daarop te fokus en weg te fokus van die negatiewe af.

Dit beteken nie dat ’n mens die negatiewe ontken nie, voeg sy dadelik by. Jy moet dit net erken vir wat dit is.

Dít illustreer sy met ’n vinnige vraag en antwoord:

“Hoe was jou dag?”

“O, daar was iemand wat só ongeskik was met my, vir vyf minute.”

Met daardie laaste paar woorde relativeer sy die ontsteltenis heeltemal. Sy erken dit vir wat dit is: iets wat baie kleiner is as wat ’n mens se emosies dalk vir jou sê.

Geluk is soos ’n legkaart, sê Nicole. Maar daar is nie ’n vaste resep nie. Elkeen het sy eie legkaart.

Saam met ’n vriendin, Nicolette Steel, tree Nicole ook deesdae as spreker op. Hulle praat by vrouetees, by ouetehuise. Onlangs het hulle in Komatipoort opgetree. Eersdaags is Nicole op pad Tzaneen toe.

En terwyl sy besig is om haar op hierdie terreine te vestig, doen sy allerlei ander dinge om die pot aan die kook te hou. Sy verkoop parfuum. Sy is au pair vir kinders. Sy help huishulpe en hulle werkgewers met werkskontrakte.

Die pad wat sy so kaalvoet loop, is onkonvensioneel, maar haar koers is vir haar duidelik.

Want in haar jong lewe het sy nie net ’n klomp lewenservaring opgedoen nie. Sy het ook ’n klomp wys­heid versamel.

Kontak vir Nicole by 6funnybunny6@gmail.com of 079 494 4250. Soek haar op facebook by Happiness Coach.