Kyk, daar is die mens!

Die frase Ecce Homo is die Latynse weergawe van die woorde “Kyk, daar is die mens” (Johannes 19:5) waarmee Pon­tius Pilatus die gegeselde Jesus met die koningskleed om sy skouers en die doringkroon op sy kop aan die skare in Jerusalem voorgestel het.

Dit is terselfdertyd ’n bekende motief in die Christelike kunsge­skie­denis. Aanvanklik het dit bloot gefunksioneer as die voorstelling van een van die taferele in die ly­dens­verhaal van Jesus. Jesus word op so ’n wyse uitgebeeld dat die toe­skouer as ’t ware ingetrek word om hom of haar met sy lyding te ver­een­selwig. Die fokus is op Christus wat ter wille van die mense lyding ondergaan – die Lam van God wat die sonde van die wêreld op Hom neem.

Met verloop van tyd het daar ’n verskuiwing gekom en funksioneer Jesus al meer as universele simbool van menslike lyding en dien die Ecce Homo-motief veral in die negentien­de en twintigste eeu as uitbeel­ding van die lyding van mense as gevolg van oorlog en geweldpleging. Hier is die fokus op Christus wat deur sy lyding die gewelddadi­ge aard van die geskiedenis ontmasker.

ecce-homo-port2

’n Voorbeeld van hierdie verruiming van die tradisionele motief is die Ecce Homo wat die Russiese kunstenaar Zinovii Tolkatsjef (1903-1977) in 1945 geskilder het. Hierdie werk vorm deel van ’n reeks van vyf skilderye met die titel Jesus in Majdanek.

Majdanek was ’n Nazi-uitwis­sings­kamp aan die buitewyke van die stad Lublin in Pole. Tussen Oktober 1941 en Julie 1944 is bykans 150 000 mense in hierdie kamp aangehou: 79 000 van die gevangenes, waaronder 59 000 Jode, het in die gaskamers in Majdanek omgekom.

Tolkatsjef was deel van die Russiese leërafdeling wat die kamp in Julie 1944 ontset het en vir die eerste keer op konkrete getuienis afgekom het van die gruweldade wat in die Duitse konsentrasiekampe gepleeg is. As kunstenaar het hy die opdrag gehad om soveel as moontlik van dit wat hy gesien het, te dokumenteer met die oog op die oorlogsmisdaadverhore wat toe reeds deur die Geallieerdes beoog is.

Die reeks Jesus in Majdanek is bedoel as die kunste­naar se refleksie op die aaklige werklikheid waarvan hy ’n getuie was en beeld Jesus se lydensweg uit as dié van ’n slagoffer van die Nazi-uitwissingsprogram.

In die eerste skildery word Jesus van agter gesien waar hy by die hekke van die kamp ingaan in ’n kleed wat in groot rooi letters gemerk is “KL” (die afkorting vir “Konzentrationslager”, of konsentrasiekamp); die tweede werk is die Ecce Homo; in die derde werk dra Jesus ’n swaar las wat toegewikkel is in doringdraad en wat saam die kruis en doringkroon in gedagte roep. Daarna volg ’n uitbeelding van Jesus saam met ander slagoffers in ’n gaskamer met sy arms uitgestrek soos in die geykte kruistonele van die Christelike tradisie en in die laaste werk word die liggaam van Jesus in ’n krema­torium ingeskuif om verbrand te word.

In die Ecce Homo word die tradisionele koninklike mantel vervang met die blou en wit gestreepte kamp­uniform wat gevangenes in die Nazi-kampe moes dra. Op die uniform is ’n hele reeks van die kentekens aangebring waar­mee verskillende groepe ge­van­ge­nes geïdentifiseer is: on­der andere die geel Dawidster vir Jode en die rooi driehoek vir politieke gevangenes. Op sy een arm is sy kampnom­mer getatoeëer. Weers­kan­te van die Jesusfiguur en ook op die ag­ter­grond is spottende SS-offisiere. Die donker at­mos­feer van die skildery dra by tot die on­heil­spellende som­berheid van die toneel wat uitgebeeld word.

Met hierdie skildery word die lyding van Jesus direk in verband gebring met die ly­ding van Joodse en ander ge­vangenes in kampe soos Majdanek. Die effek van hierdie identifikasie werk op twee ma­niere: Enersyds word die uni­versele aard van die ly­dings­verhaal van Jesus in die spesifieke historiese omstandighede van die Nazi-uitwis­singsbeleid ontdek. Andersyds word die moderne toe­skouer gehelp om die eenmalige ly­ding van Jesus te verstaan as ’n uitdrukking van solidariteit met alle menslike lyding – ook die lyding as ge­volg van eietydse verguising van mense.

Wat hierdie reeks skilderye nog meer aangrypend maak, is dat Tolkatsjef van Joodse afkoms was en tydens die oorlog in diens van die Sowjet-weermag was. Ten spyte van eeue se vyandskap tussen Jode en Christene en die talryke voorbeelde van Christelike medepligtigheid aan die vervolging van Jode (ook tydens die Holocaust), vind hy tog aansluiting by die Jesus-figuur en sy lydensweg wanneer hy gekonfronteer word met die verbystering en verskrikking van die Joodse ervaring tydens die oorlog.

Na die oorlog is Tolkatsjef deur die Russiese owerhede daarvan beskuldig dat hy deur sy kunswerk Westerse kapitalisme en mistisisme wou bevorder en het hy weinig erkenning as kunstenaar ontvang. Die reeks Jesus in Majdanek is vir die eerste keer in 2005, meer as ’n dekade ná die val van die Sowjet-Unie, in die openbaar uitgestal.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.