‘Dat hulle een mag wees’

Met die dertigste herdenking van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as belydenisskrif van die destydse NG Sendingkerk vars in die geheue, eggo Jesus se gebed in Johannes 17 ook opnuut in ’n mens se ore.

Jesus bid vir sy dissipels, maar nie net vir hulle nie. Hy bid “ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom”. En Hy bid “dat hulle almal een mag wees”.

Party mense mag Belhar nou wel as ’n politieke belydenis probeer uitmaak, maar die belydenis oor eenheid daarin, is ’n eggo van Jesus se gebed. Dit is ook ’n belydenis van ’n waarheid wat op verrassende maniere op verskillende tye en verskillende plekke opnuut aktueel word.

So ’n geleentheid vind ons in die debat wat nou in die NG Kerk gevoer word oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Dis ’n debat waarin daar skerp me­ningsverskille is en waarin gelowiges teenoor mekaar te staan kom. Boonop is dit ’n debat waarin mense aan ver­skillende kante hulle almal op die Skrif beroep, en waarin na hulle mening almal die beste interpretasie van die Skrif probeer nastreef.

Ook in sulke omstandighede klink Christus se gebed op: “… dat hulle een mag wees …”

Die vraag is hoe ons die eenheid waarvoor Christus bid, in hierdie omstandighede kan behou.

Miskien moet ons ons kollektiewe verleentheid er­ken. Dalk moet ons bloot eerlik wees dat ons nie konsen­sus oor die saak het nie.

Dalk moet ons dink in die rigting van ’n besluit wat nie een kant van die debat se waarheid op die hele kerk van toepassing maak nie, maar wat erken dat hier twee bot­sende oortuigings in die kerk leef – maar wat tog die volle ruimte bied vir elke groep om hulle oortuigings vol­ledig uit te leef.

Dalk moet ons met dié teenstrydigheid saamleef ten einde met mekaar te kan saamleef, en ten einde die eenheid te behou waarvoor Christus gebid het.