Jy sien mense se hart raak

SLOW DOWN, LOOK AGAIN …
Deur Louis Botha
Uitgegee deur Christel Foord, 2015


Louis Botha is ’n fotograaf wat homself in Prins Albert in die Karoo gevestig het. Daar het hy sy kunsmedium onder meer ingespan om swart-en-wit foto’s van die mense van die bruin gemeenskap van Noordeinde aan die noordekant van Prins Albert te neem.

Die resultaat is Slow down, look again … ’n fotoboek wat jou tot in die hart van die gemeenskap laat kyk. Telkens kry ’n mens ’n foto van iemand, soms ’n paar mense, in hulle eie omgewing. Daarby is daar ’n by­skrif wat die persoon se naam gee en iets van sy of haar omstandighede.

By ’n foto van ’n man wat oor ’n gehawende onderdeur glimlag, staan daar byvoorbeeld net: Booi Tafel “Dit gaan goed dankie, net my vrou is maar siekerig.”

Wat my getref het van die boek, is hoe Louis daarin geslaag het om betekenisvolle grense soos ras en klas oor te steek om die gemeenskap van Noordeinde van binne af vir sy leser te wys.

slow-downWant is dit nie een van die groot uitdagings van mis­sionale kerkwees nie? Dat ons grense moet oorsteek om werklik by ander mense uit te kom.

Daar is heelwat in Slow down, look again … wat stof tot nadenke hieroor bied. Een daarvan is die titel van die boek, want om mense werklik te leer ken, is nie ’n kitsprojek nie. Vir baie mense in die NG Kerk is dit ook ’n betekenisvolle grens wat oorgesteek moet word: van ons gejaagde lewenstyl na iets baie stadiger.

Die foto’s spreek ook van ’n respekvolle manier om met mense te werk. Noordeinde se mense leef nie ’n Top Billing-lewe nie. Allesbehalwe. Maar nooit word hulle in die foto’s verneder of in die skande gesteek nie. Altyd behou hulle hulle waardigheid. Hoe belangrik is dit nie ook vir ’n kerk, veral vir ’n grootliks middel­klaskerk, as hy oor grense na minder gegoede mense uit­reik nie.

Verder leer ’n mens deur die foto’s en byskrifte ’n veel­kantige gemeenskap ken. Noordeinde het sy hartseer en sy vreugdes, daar is mense met ideale en frus­tra­sies, hulle het hulle trots te midde van omstandig­hede. Ook dit is belangrik vir die kerk om raak te sien. Arm mense is nie maar net arm mense nie. Daar is baie meer aan hulle menswees.

Behalwe dat die boek lieflike foto’s bevat, is dit ’n aan­skouingsles vir die oorsteek van grense.

Besoek louisbothaphotography.co.za vir meer inligting.