O, rykdom van die onvoltooide

Die kortste Nederlandse gedig wat ooit ge­skryf is lui: “O rijkdom van het onvoltooi­de” (JH Leopold). Hierdie vyf woorde het my herinner aan die teks in die afskeidsgesprekke in Johannes waar die dissi­pels getroos word dat die Gees hulle in die volle waar­heid sal lei.

Dit is woorde van Jesus aan sy dissipels wat bedoel is as troos en ingebed is in ’n liturgiese konteks: in hoofstuk 13 saam aan tafel en later is daar die wan­deling na die ete. Hierdie teks in Johannes is om­geef met die geur van brood en wyn en natuurlik die water van die voetewassing (tradisioneel ook die leesroosterteks vir Drie-eenheidsondag).

Dit is ’n teks wat bedoel is om mense te bemoedig wie se Leier “weggaan” en wat wonder wie de drommel nou vir hulle leiding gaan gee en hoe hulle gaan weet wat die regte ding is om te doen of te besluit.

Die Gees lei ons, net soos die Johannes-gemeenskap van ouds, in die waarheid in tye waarop dit soms voel asof Jesus nie by ons is om vir ons direk te wys wat ons moet doen of besluit nie. In sulke tye is die behoefte groot om die waarheid reeds in pag te hê, om aan die waarheid vas te hou soos om aan ’n Jesus van vlees en bloed vas te hou.

Die teks wys ons egter iets anders. Die waarheid is volgens hierdie verse nie soos ’n skat op ’n eiland netjies pasklaar in ’n houtkissie wagtend vir ons om dit te vind nie. Die waarheid is oop en dinamies en ons word in daardie waarheid deur die Gees gelei.

Daar is min dominees wat nie al die belewenis gehad het dat hulle oor presies dieselfde Skrifgedeelte op verskillende geleenthede totaal verskillen­de preke gelewer het nie. Beteken dit dat die waarheid totaal relatief is en ek in die teks vind net wat ek wil en dit dan kan opdis vir die waarheid?

Natuurlik nie, in die werkwoord hoe ons in die waar­heid gelei word (hodogeo) wat die Johannes­teks gebruik, sit daar ’n sleutel. In daardie werkwoord is die woord “hodos” ook te vinde wat dui op die “weg” en dit is Jesus.

Die kriterium vir die waarheid waarin ons gelei word, is Jesus: die dienende Jesus met ’n doek om sy lyf; wat vir ons die liefdesgebod gegee het; wat ons nie as weeskinders agterlaat nie, maar wie se Gees by ons is, ook op sinodesittings.

Om só oor die waarheid te dink, is sekerlik nie die maklike opsie of die opsie waardeur almal tevrede gestel word nie, inteendeel. Soos Darius Botha te­reg in sy proefskrif aantoon, is een van die eerste dinge wat Jesus in die afskeidsgeprekke doen, om sy volgelinge een minder te maak. Hy was dus verseker nie ingestel op “crowd pleasing” nie.

Ja, die NG Kerk het ook al ’n paar keer in die ge­skie­denis haar opinie verander, van vroue in die amp tot apartheid (besnydenis, varkvleis en slawerny was reeds uitgesorteer). Daarvoor is daar regoor die wêreld ontsaglik baie respek, al kom daardie respek inisieel merendeels nie in die vorm van lof nie.

Soos Richard Kearney tereg skryf: In die begin was die Woord, so in die begin was hermeneutiek. O, rijkdom van het onvoltooide!

Prof Cas Wepener doseer praktiese teologie aan die Universiteit Pretoria.