Hoe lank sal Franciskus kan uithou?

Om te sê dat pous Franciskus I en die Rooms-Katolieke kurie – dié kerk se magtige “re­ge­ring” in die Vatikaan – in ’n burgeroorlog ge­wikkel is, sou dalk oordrewe wees. Maar van ’n klip­­harde magstryd kan ’n mens wel praat.

Die pous is vasbeslote om die kurie se greep op die mag te breek. Die kurie is vasbeslote om sy voorregte te verdedig en desnoods die pous se lewe só moeilik te maak dat hy sy voorganger, Benediktus XVI, se voorbeeld volg en self bedank.

Volgens kenners was dít juis wat agter Benediktus se onverwagse bedanking in 2013 – ’n unieke gebeur­tenis in die Kerk se geskiedenis – gesit het. Benediktus het essensieel altyd gebly wat hy was, die teologiese prof Joseph Ratzinger van die Universiteit van Regensburg, pleks van ’n magspolitieke taktikus wat die mag­tige kurie kon uitoorlê. Dus was alle oë reg van die be­gin op Franciskus, die Argentynse kardinaal Jorge Bergo­glio, om die kurie vas te vat.

Die kurie bestaan uit ’n horde kardinaals en biskoppe in die Vatikaan wat die administrasie en daaglikse “regering” van die Kerk behartig. Dit is volgens kritici ’n onbeweeglike, konserwatiewe groep wat enige bewe­ging om die Kerk te moderniseer, telkens kelder.

Hulle verset teen hervormings word vergemaklik deur die hiërargiese struktuur van die Roomse Kerk, wat basies oorgeneem is van die Romeinse Ryk, met die keiser (pous) aan die hoof en goewerneurs (kardinaals en biskoppe) wat die (kerk)provinsies bestuur. Teoreties moet die kurie die pous se bevele uitvoer, maar volgens kritici tree hulle op soos ’n berg jellie wat alle aksie fnuik en alle beweging só vertraag dat dit uiteindelik doodloop.

Dis hiérin dat die pous verandering probeer bring.

Volgens Christopher Lamb, ’n joernalis wat die Vatikaan al jare lank analiseer, kan die opposisie teen Franciskus in drie groepe verdeel word.

Die eerste is middelrang-amptenare wat geduldig wag tot die pous verdwyn en ’n nuwe een kom. Ten tweede is daar ’n groep magtige kardinaals wat prinsipieel teen Franciskus se nuwe rigting gekant is en hom aktief probeer pootjie net waar hulle kan. Die laaste groep is sekere biskoppe elders in die wêreld, ver­al in Amerika, wat ook niks van sy “liberale” teologie hou nie.

Die pous se frustrasie het geblyk uit sy Kers­toespraak van 2014, toe hy die kurie lelik die kop gewas het. Hy het hulle van “15 siektes” beskuldig, onder meer “’n gevoel van onsterflikheid”, “geestelike verstar­ring”, “spirituele Alzheimer”, “magswellus” en die “terreur van geklets”.

Dit het groot onrus onder die kurielede meegebring en hul vasbeslotenheid om die pous te stuit vergroot.

Maar waaruit bestaan Franciskus se “liberale” rig­ting dan eintlik?

As ’n mens dit in ’n enkele begrip kan saamvat, wil hy terugkeer na wat die kerk oorspronklik was, ’n toe­vlugsoord vir diegene sonder stem, die magteloses, die armes. Die Rooms-Katolieke Kerk, so lui sy aan­klag in wese, het in die eeue sedertdien ’n kerk van die establishment geword, pleks van ’n plek van nederigheid en diens.

Verskeie finansiële skandale in die Vatikaan het sedertdien sy aanklag bevestig. Dit blyk dat korrupsie taamlik hoogty in die Vatikaan vier. Dit het byvoorbeeld uitgekom dat €550 000 (sowat R8,8 miljoen) alleen aan die bou van ’n Kersfees-krip op St Pietersplein bestee is, en dat daar geen verantwoordbaarheid is oor die miljoene wat aan die Vatikaan oorgedra word nie.

Dis om dié rede dat die pous in 2014 ’n nuwe Eko­nomiese Sekretariaat opgerig het, met die Australiese kardinaal George Pell aan die hoof. Pell se taak was om 136 afdelings in die Vatikaan se finansies te ondersoek. Binne ’n paar maande het hy €1,4 miljard se wegge­steekte geld wat nie in die state gereflekteer is nie, op­gespoor.

Onlangs moes die pous egter aan intense druk toegee deur sekere magte van Pell weg te neem. Dit was dui­delik ’n yslike nederlaag.

Nog ’n saak waaraan die pous nie veel kon doen nie, was om priesters wat hulle aan die seksuele misbruik van kinders skuldig gemaak het, te straf. Waar sulke mense riem gespring het, was dit hoofsaaklik aan bur­gerlike howe te danke, en slegs in beperkte mate aan die kerklike masjinerie.

Hy wil die Kerk voorts desentraliseer en van die kurie se mag aan die kerkprovinsies oordra. Maar ook dit het verstrik geraak in die spinneweb waarmee die kar­di­naals en biskoppe in die Vatikaan die pous probeer toespin.

Toekomstige planne sluit in om egskeiding te vereenvoudig. ’n Dokument van Franciskus se teenstan­ders wat luidens berigte in die Vatikaan versprei word, noem dit “’n bedenklike ontwikkeling”.

Wêreldwyd word pous Franciskus welwillend be­kyk. ’n Peiling het in Maart vanjaar bevind dat 54% van die wêreldbevolking ’n positiewe beeld van hom het, en dat net 12% hom as ongunstig sien. Dit sluit in 85% van die wêreld se Katolieke en 53% van die Protes­tante.

Maar in die Vatikaan groei die teenstand. Dis ’n ope vraag hoe lank Franciskus sal kan uithou.