Wysheid in die gestalte van dwaasheid

Die Bybelse verhaal in Genesis 22 waar vertel word van Abraham wat van God die opdrag kry om sy seun Isak te offer, het in al drie die sogenaamde “Abrahamitiese” godsdienstradisies gelei tot interessante verdere nadenke. Veral opvallend is ver­skeie pogings om ’n oplossing te vind vir die onder­lig­gende morele problematiek van God se vreemde op­drag en Abraham se gewilligheid om daaraan uit­voe­ring te gee.

In die Joodse tradisie waar daar na hierdie verhaal verwys word as die Akedah (die “bind” van Isak), word die problematiek vanuit verskillende hoeke beredeneer: dat dit nooit God se bedoeling was dat Abraham vir Isak moes offer nie, maar dat Hy net Abraham se ge­loof wou toets; dat dit Abraham se verbeelding was wat hom laat glo het dat God hierdie opdrag aan hom gegee het; dat dit God se manier was om Abraham te straf vir die onbarmhartige manier waarop hy Ismael behandel het …

Een meer resente Joodse geleerde wys daarop dat dit teen die agtergrond van die omliggende offerpraktyke in die ou Nabye Ooste eintlik verrassend is dat God juis die bring van ’n kinderoffer verhoed het.

In latere Joodse denke het die verhaal as ’n paradigma vir Joodse martelaarskap begin funksioneer, met spesifieke fokus op die bereidwilligheid van toegewyde Joodse gelowiges om hulle lewe ter wille van die verheerliking van God se Naam prys te gee.

In die Christelike tradisie is daar veral klem gelê op die geloofsdaad van Abraham wat bereid was om dit wat hom die naaste aan die hart gelê het, prys te gee as dit is wat God van Hom vra. In Hebreërs 11:17-19 word daar trouens gesê dat Abraham inderdaad vir Isak geoffer het en dat hy dit gedoen het omdat hy oortuig was dat God Isak uit die dood sou opwek.

In ’n groot deel van die Christelike tradisie word Isak as ’n tipe van Christus beskou en word die verhaal verstaan as ’n heenwysing na God se bereidheid om sy Seun as plaasvervanger vir die sonde van die mensdom aan die kruis te laat sterf.

In die Moslem-tradisie waar hierdie gebeure bekend staan as die Dhabih (die “slagting”), is dit nie Isak wat geoffer moet word nie, maar Ismael. Nadat Abraham in ’n visioen die opdrag van God gekry het, maak hy dit aan Ismael bekend. Ismael stem vrywillig in om geoffer te word, en nadat pa én seun hulle aan die wil van God onderwerp het, word verklaar dat daar aan sy opdrag voldoen is. Die geboorte van Isak word in hierdie tradisie beskryf as ’n beloning vir Abraham se gewilligheid om Ismael te offer.

’n Kunswerk waarin die morele problematiek van die verhaal treffend uitgebeeld word, is die Joods-­Israeliese skilder, Avraham Ofek (1935-1990), se skil­dery Die Bind van Isak.

In hierdie skildery word al drie die kernelemente van die verhaal – Abraham, Isak én die plaasvervangende skaap­ram – as één onlosmaaklik verstrengelde geheel in die lyf van die don­kie uitgebeeld. Daarmee sou die gebeure by voorbaat as ’n vorm van (donkie-ag­tige) dwaasheid beskou kon word.

Abraham word met ’n onverbiddelike, vasberade trek op sy gesig geskilder, in skerp teenstelling met die vrome toewy­ding waarmee hy in die meer tradisionele voorstellings van die verhaal uitgebeeld word. Ook Isak word anders as in die meer algemene voorstellings nie met ’n soort willose gelatenheid uitge­beeld nie, maar as ’n vreesbevange fi­guur op die rug van Abraham. Die ag­ter­hoede word gevorm deur twee figure, moontlik engele, wat vorentoe gedruk word deur ’n derde figuur, wat waarskynlik as ’n voorstelling van God bedoel is.

Die landskap waardeur hierdie bisarre prosessie onderweg is, bevat verspreide fragmente van menslike bewoning: woon­huise, ’n trap wat oënskynlik nêrens heen lei nie, en verskeie ander on­iden­tifiseerbare objekte. Die kleurkontras tussen die landskap en die optog van mense, diere en agterhoede beklemtoon die vreemdheid van die gebeure wat hier afspeel.

Dat God self agter die sameloop van hierdie dwase gebeure staan, verteenwoordig enersyds die tragiese problematiek van hierdie verhaal: dat die God van die belofte ’n weersinwekkende opdrag gee wat op koel­bloedige wyse ’n streep deur die vervulling van hierdie selfde belofte trek. Andersyds verteenwoordig dit terselfdertyd die hoopvolle moment in die verhaal: dat God die mens nie alleen laat wanneer hy op sy vrees­aanjaende lewensreis onderweg is nie, maar sy verteen­woordigers agterna stuur om die dreigende ramp af te weer.

En dan is die oplossing vir die morele dilemma ook reeds aanwesig – nie as ’n soort deus ex machina wat van buite onverwags op die toneel verskyn nie, maar as ’n wesenlike element van die geheel wat in die pro­ses van onderweg-wees ontdek word.

’n Uitbeelding soos hierdie weerhou ons daarvan om hierdie vreemde verhaal met ’n soort naïewe romantiek te tooi, terwyl dit ons help om iets raak te sien van die wysheid van God wat meermale in die gestalte van dwaasheid ’n werklikheid in ons lewens­ervaring word.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.