Kerk moet weer vreugde vind

In hul werk, Joy and human flourishing, reflekteer ’n groep gerekende teoloë (onder andere Jürgen Moltmann, NT Wright en Miroslav Volf) oor die wesenlike belang van vreugde vir die Christelike geloof.

Hulle wys daarop hoedat God in die Bybel as die Skepper en Verlosser bekendgestel word, wat alles wat goed is voorsien wat ons vreugde moontlik maak. Vreug­de is daarom die spontane reaksie op dit wat goed, reg en mooi in die wêreld is.

So ontlok die viering van die liefde met ’n huwelik, of die inbring van ’n oorvloedige oes, uitbundige vreug­de in die Bybel.

Vreugde is egter in die Nuwe Testament meer as net ’n onwillekeurige reaksie. Dit is ook ’n opdrag. Só be­veel Paulus in Filippense 4:4 gelowiges “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Dié oproep vra nie dat daar vreugde in die wêreld gevind moet word nie, maar eerder in God. God en ware vreugde is naamlik met mekaar verweef. Nie alleen is God die gewer van dit wat vreugde ontlok nie, maar Hy vind ook self vreugde in sy werksaamhede soos duidelik te sien is in drie gelykenisse in Lukas 15.

In die eerste gelykenis word God uitgebeeld as ’n herder wat hom verheug oor die terugvind van ’n verlore skaap en wat sy vriende uitnooi om in sy vreugde te deel.

In die daaropvolgende gelykenis (Luk 15:8-10) is God soos ’n vrou wat jubel oor die vind van ’n verlore muntstuk en wat haar vriendinne nooi om saam met haar bly te wees.

In die laaste gelykenisse word God uitgebeeld as ’n vader wat hardloop, dans en feesvier oor ’n verlore seun wat tuisgekom het (Luk 15:11-32).

God se vreugde is volgens Lukas aansteeklik – die engele (Luk 11:7, 10) en ons deel daarin. Kerklike byeenkomste behoort daarom ’n kleedrepetisie vir God se ewige vreugdefees te wees. Ons moet ons vreugde vind in die vergifnis en versoening wat God skenk.

Die tragiese is egter dat dié wat verlore is dikwels eerder hul afsydige ouer broer, wat kleef aan die verlede, as hul dansende vader in die kerk ontmoet.

Dit het daarom vir die kerk nodig geword om weer vreugde te vind in dit wat aan die Here vreugde gee: vergifnis eerder as veroordeling, en versoening eerder as verwerping. Dit is immers dié hemelse vreugde oor die terugvind van verlorenes wat aansteeklik is.

Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.