Wat beteken dit om lief te hê?

Ek gesels deesdae baie met mense oor wat dit beteken om jouself lief te hê. Da­delik wil mense dan sê: “Nee, ons kan nou ook nie selfsugtig leef nie.”

So het ek ’n bietjie orals gekyk en gewonder hoe lyk hierdie liefde dan nou werklik. Want daar is ’n besonderse groot verskil tussen selfsugtig wees en self-liefde hê.

Selfsug gee nie om oor ’n enkele ander mens nie, maar self-liefde is daar waar die tekkie die teer tref. Dink so daaraan, wanneer jy jouself “commit” aan die Here, word jou identiteit die “commitment”. Dan is ek ’n kind van God.

Net so word ons identiteit gevorm deur enigiets waaraan ons onsself toewy. As ’n mens dan nou nog dieper daarin wil delf, kan ons dink oor wat “liefde” en “onvoorwaardelike liefde” dan nou is.

Wanneer ons na 1 Korintiërs 13:4-7 kyk, kan ons ’n stukkie verstaan van hoe groot liefde regtig is. Wanneer ons besef God is ’n God van liefde en dat Hy al daardie eienskappe het, en wanneer ons besef, Hy ís dit, terwyl ons nog pro­beer om dit te wees, eers dan sal ons iets begin snap van hoe die liefde binne ons moet lyk en hoe ons dit werklik kan begin uitleef.

Dan gooi ons nou nog onvoorwaar­delike lief­de daarin en besef dat om onvoorwaardelik lief te hê, be­teken ek het jou lief of jy verander of nie.

Ek besef toe nou die dag, maar wag … ons kan nie sê ek het ander onvoorwaardelik lief, terwyl ek myself dan nie eens onvoorwaardelik liefhet nie.

Ons sien gereeld hoe mense hulle eie maatstaf maak. “Wanneer ek dít bereik, sal ek bly wees/lief wees/tevrede wees …”

Waar mis ons die punt? Ons sien dan hoe liefde moet lyk en hoe ons dit moet leef. Dan worstel ons nog met: “Ag, ek probeer darem.” Wat probeer ons?

Dis waarskynlik regtig so moeilik soos ons sê dit is, om liefde of dan nou ook nog onvoorwaardelike liefde uit te leef.

Ek wonder net, wanneer gaan ons ophou sê en dit begin doen? Die wêreld smag na liefde ken, en ons is geskep deur die bron van liefde.

Wanneer ek 1 Korintiërs 13 se liefde verstaan en begin leef, sal dit elke dag makliker word, want dis soos oefening, ons sal fiks word en dan sal ons net liefde ken.

Nicole Robarts is ’n spreker. Sy is huisma in ’n Echohuis in Centurion en skrywer van Genade, ’n boek oor haar eie genadepad.