Hennie se Ma wil nie praat nie

Ek wil nie met jou waag nie – hoeveel sal jy verstaan?
Jou mis-tas van my waarheid sal onhoudbaar seer kan slaan.
Maar ek wens nog steeds ek kan my hart-ek voor jou wees …
Ek wens ons kan mekaar se fynskrif lees.

Dié lirieke uit ’n lied wat ek tydens 2005 se troebelte vir die NG en VG Kerke geskryf het, draai die afgelope dae deur my kop. Want ek hou haar dop – heeltyd – die mooi gryskopvrou op die galery: Emma Pienaar. Sy het al die pad van George af gekom om hier langs haar seun, proponent Hennie Pienaar, te wees.

Hoe voel sy, wonder ek? Sy lyk sag. Hoe voel dit om langs jou seun op die galery te sit? En daaronder praat en praat en praat die “ander”. Soms harde woorde. Soms soekend. Oor jou kind. Jou liefkind. Luister sy met hoop? Luister sy met pyn? Ek wonder …

Dinsdagoggend gaan vra ek haar vir ’n onderhoud. Sy sê dadelik ja. En toe: Maar ek gaan huil. Dis okay, sê ek. Dan huil ons saam. Maar as jy kans sien sal ek graag wil vra: Hoe het jou Ma-pad met Hennie geloop? Daar is ’n ooglopende gemaklike liefde tussen julle. Het jy van altyd af geweet hy is gay? Was daar ’n uit-die-kas-gesprek tussen julle? Hoe voel jy oor die sinode se verloop?

Dinsdagmiddag, toe Stefan de Klerk sy Pa se brief lees, toe die seun-stem die Pa-woorde vir ons aangee: “Ek sal God ewig dankbaar bly vir ‘n seun soos jy!”, let ek op dat sy huil. En ek wonder – is dit omdat sy verstaan? Omdat sy ook as ouer kan sê: “Ek is uit ’n kokon. Soos ’n skoenlapper ná die transformasie sien ek alles baie helderder vanwaar ek nou sweef!”

Is dit werklik moontlik, wonder ek, om te sweef langs jou seun op die galery tydens hierdie sinode?

Vanoggend, Woensdag, toe ons mekaar ontmoet vir die afgespreekte onderhoud, sê Emma egter: Ek kan nie. Ek sien nie kans nie. Ek kan nie oor my en Hennie praat nie. Ek kan nie my vreugde oor hom met dié mense deel nie. Ek voel te hartseer oor hulle.

Die lied wat begin met: Ek wil nie met jou waag nie – hoeveel sal jy verstaan? Jou mis-tas van my waarheid sal onhoudbaar seer kan slaan. Eindig met hierdie woorde: Ek wens ek weet ons sal die pyn-skrif mooi kan lees. En ek wens ek weet dat ons okay sal wees.