Só verloop die sinode

By die Buitengewone Algemene Sinode het daar oor vier dae ’n proses plaasgevind wat uitgeloop het op die besluite wat uiteindelik geneem is. Hier is van die bakens in die verloop van die sinode.

1. Die sinode begin Maandagmiddag met die situasie dat die Appèlliggaam die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag ter syde gestel het weens wesenlike onreëlmatighede in die prosedure waardeur die besluite geneem is.

Van die onreëlmatighede is dat daar nie kennis gegee is van revisie van besluite van vorige algemene sinodes in 2007, 2011 en 2013 soos Reglement 3 punt 8 en Reglement 19 punt 1.1.1 en 1.2 bepaal nie.

Saam met die tersydestelling van die besluite, verwys die Appèlliggaam die saak terug na die Algemene Sinode.

Dié besluit van die Appèlliggaam plaas die buitengewone Algemene Sinode in ’n netelige posisie. Daar is ’n dik boek van meer as 600 bladsye vol besware teen en voorleggings ter ondersteuning van besluite wat skielik nie meer bestaan nie. Die vraag is: hoe vorentoe?

2. Op die agtergond is daar die wete dat vier afsonderlike regsmenings aangedui het dat die appèlproses self ongeldig is. As dié regsmenings korrek is, beteken dit dat enige besluit van die Appèlliggaam in ’n hof ter syde gestel kan word.

Die Algemene Taakspan Regte beskou egter die appèlproses as geldig en die sinode hanteer dit so. Verdere bespreking oor die optrede van die Appèlliggaam word nie toegelaat nie.

Of die geldigheid van die appèlproses verder in ’n hof bevraagteken sal word, sal die tyd leer.

3. Dinsdagoggend wys dr Johan van der Merwe, aktuarius, daarop dat die Appèlliggaam nie net die besluite van 2015 nietig verklaar het nie, maar ook die saak terugverwys het na die Algemene Sinode.

Dit kan gesien word as kennis van revisie en daarom kan die sinode die saak van nuuts af bespreek.

Die besware en voorleggings in die bundel sowel as dié van drie streeksinodes, kan dien as basis vir die gesprek.

4. Mense wat besware of voorleggings ingedien het, kry die geleentheid om die sinode toe te spreek om hulle standpunte toe te lig. Verskeie mense gebruik die geleentheid en dit word ’n lang proses om na almal te luister.

Twee van die sprekers, ds Pieter Oberholzer en Stefan de Klerk, ’n teologiestudent, is self gay en deel met die sinode van hulle persoonlike ervarings.

5. Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator, gebruik sy diskresie as voorsitter om ’n gravamen van die Noord-Kaapse sinode te kies as basis vir die gesprek.

Hy reël dat drie onderliggende sake in dié gravamen, naamlik die gesag van die Skrif, die interpretasie van die Skrif, en die Bybel en selfdegslagverhoudinge bespreek word.

Daar word heelwat tyd hieraan bestee, in gesprekke om die tafels en in oop gesprekke op die sinodevloer.

6. Tydens die gesprek oor Skrifgesag Dinsdagmiddag voor aandete kom verskeie sinodegangers tot die (vir party) verrassende ontdekking dat almal in die sinode die NG Kerk se bestaande besluite oor Skrifgesag onderskryf.

Dit bring mee dat daar ’n baie groter gevoel van samehorigheid onder sinodegangers ontstaan en dat die gesprekke met mekaar sagter en vriendeliker word.

In die gesprek oor die interpretasie van die Skrif na ete, blyk dit egter dat dit is waar die paaie begin uiteenloop. Daar word in die debat deur verskeie sprekers gesê dat daar nie een korrekte manier van Skrifuitleg is nie en dat dit noodwendig sal gebeur dat daar in enige kerk soms verskillende interpretasies van gedeeltes van die Bybel sal wees.

7. Tydens die gesprek oor die Bybel en selfdegslagverhoudinge op die Woensdagoggend kom die verskille weer na vore en word die debat ook skerper.

Janse van Rensburg gebruik baie tyd om die saak van verskillende kante af te laat bespreek. Dit word duidelik dat die sinode nie teen Woensdagmiddagete die saak gaan afhandel soos in die sinode se werksprogram voorsien is nie.

Intussen dien verskillende sinodegangers voorstelle in met die oog op die besluitnemingsproses.

8. Woensdagaand na ete kry die sinodegangers ’n dokument wat as basis vir die besluitnemingsproses gebruik word. Dit neem die gravamen van die Noord-Kaapse sinode as uitgangspunt en voeg die voorstelle van afgevaardigdes as ammendamente daarby in.

Die besluitnemingsproses loop gou skeef.

Na ’n bespreking stem sinodegangers ten gunste van ’n ammendament wat onder meer sê dat die saak waaroor dit gaan, nie tot die kern van die geloof behoort nie, en dat die kerk daarom met die verskille kan saamleef. Hoewel daar verskillende vertolkings van Skrifgegewens is, is die gesag van die Woord nie in gedrang nie.

Dit is die eerste van ’n reeks ammendamente wat daarop gemik is om ruimte te skep vir verskillende standpunte in die kerk.

Met die sinode se goedkeuring van die ammendament, word dit die voorstel en die sinode stem oor die voorstel. Terwyl die stemme getel word, kom dit aan die lig dat die voorsitter nie geleentheid vir repliek gegee het aan die Noord-Kaapse verteenwoordiger voordat daar oor die ammendament gestem is nie.

In die lig van al die besware oor die proses by die vorige sinode en in ’n poging om te sorg dat alles presies volgens die regte prosedure verloop, verklaar die voorsitter die vorige stemmings nietig, hy gee die Noord-Kaapse verteenwoordiger die geleentheid tot repliek en laat weer stem.

In dié stemming word die ammendament wat ruimte vir verskillende standpunte wil skep, verwerp. Die sinode besluit wel om nie standpunte op gelowiges of gemeentes af te dwing waarvan die Gees hulle nie oortuig het nie.

9. Donderdagoggend begin met ’n reeks besluite waarin onder meer die gesag van die Bybel erken word, erken word dat almal erns maak met die Skrif, wat sê dat daar teenoor alle mense gelykwaardig en met liefde opgetree moet word en waar vergifnis gevra word waar gay mense nie so behandel is nie.

Die eerste kritiese punt waaroor besluit moet word, is die huwelik. Die sinode “herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele huweliksverbintenis nie aan die Christelike riglyne voldoen nie.”

Dié besluit sluit enige ruimte vir seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag uit.

Met die sinode wat sy tyd vir verdaging nader en verskeie ander sake wat ook nog gehanteer moes word, word die laaste besluite onder groot druk geneem.

Van dié beslissings behels dat kerkrade nie kan toestemming gee dat dominees burgerlike verbintenisse mag bevestig nie en dat gemeentes, ringe en sinodes nie die reg gegee word om eie besluite te neem nie.

Lees ook: ‘Ons is nie welkom nie’