Sê God ook ‘Sela’?

Sela: Pause, and calmly think about that.

Kerk: ’n Stroom lewe-water – enkeldiep, knie­diep, heupdiep, uit ’n God-bron. Mooi, toe­gank­like, voedende, verkwiklike lewensguns. Dié Esegiël-beeld lê heelweek op die sinode-tafels. ’n Beeld van toeganklike, onbesoedelde oorvloed.

Kerk: ’n Droë loop. Soveel soutkuile. Gromstemme. Fronse. Verwarring. Agterdog. Onkunde. Blindekolle. Vrees. Ook lewensnoodsaaklike poele. Dié werklikheid, in honderde nuanses en gedaantes, sit in mense se harte om die sinodetafels. Almal is dors.

My instap-ervaring by die buitengewone si­no­de, Maandagmiddag, was een van spanning. Mense wat ongerus, onseker is oor mekaar. Mense wat nie weet wat om van mekaar te verwag nie. Wat nie weet wie aan wie se kant is nie. Of sterk vermoed wie sekerlik nie aan wie se kant is nie. Lugtig: Die rivier is nie altyd of vanselfsprekend veilig nie.

Deur bospaadjies wat oor jare uitgetrap is, kom hulle aan: Manjifieke groot bokke. Sebras en blouwildebeeste. Maar hulle kom buig onrustig om saam te drink. Bedag op krokodille wat onder die oppervlak skuil. Versigtig vir leeus wat in die langgras op loer lê.

Hoog teen die rivierwal kom ander bokkies behoed­saam nader. Hulle waag dit nie sommer tussen die ander in nie. Weerloosheid maak hulle sku. Dit is ’n hartseer ervaring. Hulle word nie uit die staanspoor spon­taan nader genooi nie.

Want die sebras en blouwildebeeste, hoewel hulle meestal saam wei, groet mekaar by die rivier in regs­taal, met woorde soos “moontlike laster” en “vervol­ging”. Verbete op soek na ’n uitweg. ’n Vlugplan. Ver­de­dig, beveilig. Natuurlik. Daar is immers altyd iewers ’n bedreiging.

Dalk is dit dáárom dat baie van hulle nie die bokkies se oë sien nie? Hulle sien net die bokkies-klere. Wat het van ons geword? Hoe het ons tot hier gekom? Hier, waar ons gesteurd kibbel oor T-shirts, terwyl ons die mens binne die T-shirt miskyk en bespreek?

Ons veg teen (of vir) hulle met meesal robuuste selfversekerde uitsprake. Ons maak aanmatigende uitsprake oor die lywe met (of by tye – o ongemaklike ge­dagte! – sonder) daardie swart #liefde-is-liefde hem­pies. Terwyl ons dikwels die hart wat binne-in daardie lyf se borskas klop en pyn nie ook in ons eie har­t herken nie.

Hoe het ons tot hier gekom? Hier, waar “hulle”- en “ons”-taal onbedagsaam gebruik word. Hier, vlak by die helder stroom. Met lankuitgetrapte bospaadjies?

Ek het my hart beangs vasgehou en gewonder: Wat gaan die komende dae saam oplewer? Gaan ons mekaar kan vind? Kan hoor? Is ons ruim genoeg vir “ons”? Of gaan ons mekaar finaal verloor? En toe word ek ontstel en ontnugter en verras.

Die diere het lank rondgetrap, deurmekaar gemaal. Die water bemodder. Mekaar ingeasem. Sommige sebras en blouwildebeeste het koppe gestamp. Ander het saamgekoek – koppe bymekaar. Daar is baie stof op­geskop. Harde hoewe. Skerp horings. Skouers skuur. Party het gesê: Staan hier, hier is die water onbesmet. An­der het gesê: Drink daar, daar vloei die stroom on­gehinderd.

Gaandeweg het die gewoel effe bedaar. By tye skielik weer opgevlam. Soms het die bokke selfs roerloos stil net geluister. Diep gedink. Weeg, moenie tel nie, het een gevra. Ons weeg nie net woorde nie, ons weeg lewens, het ’n ander gemaan, bepleit. Hoe durf ons besluit, uitsluit, wegwys van die blink water, het party gewonder. Hoe durf ons nie, was die teenvraag.

Hoe maak bokke vir mekaar ruimte? Staan nader of staan opsy? Watter soort kerk is ons? Belangrik of belaglik? Ballinge of bevryde(r)s? Of is ons onvermydelik beide?

In weke soos hierdie, wonder ’n mens: Hoe wyd kring ons klippies-in-die-water rimpels regtig? Wie gee werklik nog om wat hier bepraat en besluit word? Behalwe ons uitsonderlik lojale LGBTIQ-lidmate en hulle familie en vriende.

Die meerderheid mense het waarskynlik min erg aan ons teologiese tafeltennis. Hulle het lankal hulle eie menings gevorm. Wens nou net dat ons rigting kry. Ophou karring! Posts op sosiale media lag ons uit. Koe­rantbriewe sug. Kritiseer. Met reg. Kerk? Onbe­nul­lig vir baie.

En deurgaans staan daar bokkies op die rand. Nie net rooibokkies nie. Bruinbokkies ook. En alleenbokkies. Drumpelbokkies. Lieflike diere.

Ek het hierdie week, vermoeid en besorg, al die bokke dopgehou. Op die rand. En tussen mekaar. “Sien jy dit, mens?” Die Esegiël-woorde eggo – oor die stroom. Oor die trop ook? Toe ek weer sien, is die bokkies daar bo teen die rand almal weg!

Ai, ai, ai! “Amen”die sebras en die wildebeeste. Hulle vat hande, seën mekaar. Vat hulle onderskeie voetpaadjies huis toe. Terwyl die ander bokkies, verwilderd, hardloop vir skuiling. Sien jy dit mens? Sela.

Annalise Wiid is ’n vryskutjoernalis.