Moeilikheid is Jaco se besigheid

’n Klompie jare gelede was ds Jaco Strydom in baie se oë nog ’n alternatiewe, hiepierige jeugdominee op die rand van die kerk. Deesdae word hy al meer gesien as ’n profeet na wie se stem geluister moet word. Neels Jackson het met hom gesels.


Jaco Strydom se geloofstorie begin in sy graad 11-jaar toe hy tydens ’n belydeniskamp van die NG gemeente Fontainebleau in Randburg tot beke­ring gekom het. Daarna het hy by die middestadbe­diening MES betrokke geraak.

Die passie wat hy daar vir mense gesien het, die alter­natiewe manier van kerkwees, dit het ’n onuit­wis­bare indruk op hom gemaak.

Hy het sy studie op Potchefstroom begin, maar kontak gemaak met die sendingbediening Echo of His Call in Chennai, Indië. Dit was vir hom ’n inspirasie en hy het ’n jaar lank daar gaan bly. Dis ook waar die Echo-jeugbediening aan sy naam gekom het.

Indië duik ’n paar keer in Jaco se storie op. Moeder Teresa se bediening in Kolkata het byvoorbeeld een van die inspirasiestories van sy lewe geword.

Later was hy betrokke by die Bramley-kinderhuis in Pretoria.

Toe die NG gemeente Villieria in Pretoria se Moot ’n missionêr-gerigte jeugpos geadverteer het, het hy aansoek gedoen. En, lag Jaco nou, hy dink dit het beter gewerk as wat hulle gehoop het.

Hy het ’n spreekkamer begin by die Hoërskool Hendrik Verwoerd en kampe begin hou vir kinders in nood.

Van die begin af was hulle motto: “Don’t tell them Jesus loves them until you are ready to love them too.”

Met dié motto kon hy nie net preek en berading doen nie, sê Jaco. Hierdie kinders het nie charity nodig gehad nie, maar familie. ’n Woord wat hy dikwels gebruik, is “community”.

Dit is toe dat hulle die eerste huis begin het waar kinders in nood kon kom bly.

By die kerk het hulle Dinsdagaande ’n jeugaksie gehad. Daar het hy agtergekom daar is kinders wat enig­iets sal doen om net nie by die huis te wees nie. Toe hulle die stukkende ouens begin nooi, toe kom hulle.

Daarmee saam was daar die “aan die brand, vuurwarm kinders”, kinders wat hulle geloof in diens wou uitleef. Hierdie twee groepe kon ’n wonderlike kombinasie vorm.

Wie nie by hulle tuis gevoel het nie, was dié kinders wat net geestelik ge-entertain wou word, sê Jaco. “Jy was óf besig om te help, óf besig om gehelp te word.”

Jaco glimlag as hy sê hulle praat van die saamwoon-beginsel. Deur in een huis te bly, deel mense mekaar se lewe en help hulle mekaar om deur die moeilikhede van die lewe te navigeer.

Community.

Hulle het T-hemde gemaak met die woorde “Moeilikheid is ons besigheid”.

Vir hom is dit eintlik so vanselfsprekend. “’n Brandweerman kla nie oor vuur nie. ’n Kers kla nie oor die donker nie – hy soek die donker op. Ons het mense wat dit glo.”

’n Kind kom bly by hulle in ’n Echo-huis as dit met hom (of haar) sleg gaan. Hy word deel van die community. Hy leef saam met hulle en in die proses kom daar heling. Wanneer dit beter gaan, gaan hy weg en dan kom daar ’n ander een met moeilikheid.

By Echo is die evangelie baie meer as woorde. Dis ’n manier van lewe.

In Villieria, waar alles begin het, is daar nou al ’n handvol Echo-huise. En steeds wys hulle elke maand meer as 20 mense weg omdat hulle nie plek het vir almal nie. Maar hulle wil nie groter word nie, want hulle is bang hulle verloor hulle diepte, sê Jaco.

Wat hulle wel al gedoen het, is om elders Echo-gemeenskappe te vestig. In die Kaap, in Johannesburg, in ander dele van Pretoria. Maar om dit te doen, is daar leiers nodig.

As hulle die regte leiers het, huur hulle ’n huis. Dit het al gebeur dat mense vir hulle ’n huis aangebied het, maar daar was nie leiers nie. Toe kon hulle niks met die huis doen nie.

Benewens die Echo-huise is daar ook ander aspekte van Echo se bediening. Echo-kids is ’n bediening wat Bybelklassies by laerskole aanbied. Hulle het ook onlangs begin met Divorce-care. Dit is ’n steungroep vir kinders wie se ouers deur ’n egskeiding gaan of wat reeds geskei het.

As Jaco nou terugkyk op die 15 jaar sedert die ontstaan van die Echo-jeugbediening, voel dit vir hom dit is glad nie so radikaal as wat mense dit wil maak nie.

By Moeder Teresa se plek het hy gedink: “Wat het van ons geword as hierdie abnormaal is? Moet dit nie oral so wees nie?”

Maar terwyl die pad met Echo een is waar mense hulleself gee, is dit ook een met groot belonings.

Jaco vertel dat dit “die amazingste mense” in sy lewe ingebring het.

“Die kerk is arm sonder die armes. Hulle verryk jou lewe ongelooflik. Dis beslis nie boring nie.”