Wat bely ons op biddae vir reën

Jeremia 14:7-10 en 19-22 is in die Algemene Lees­rooster voorgeskryf vir Sondag 23 Oktober. As ’n mens die hoofstuk van die begin af lees (en nie net hou by die verse wat voorgeskryf is nie), is dit regtig treffend hoe van toepassing daardie eer­ste ses verse op ons konteks is.

Dit praat van droogte, van moedelose boere, verslae slawe en donkies wat die lug snuif soos jakkalse. Ek vermoed die donkies snuif in die hoop om verlangs die reuk van water te kry, maar dit is tevergeefs.

Die woorde van hierdie eerste ses verse eggo met wat op baie plekke in ons land aan die gang is. Dit laat ’n mens ook dink aan baie Afrikaanse liedere wat vertel van hierdie hunkering na reën. Ek dink dadelik aan Radio Kalahari Orkes se “Reën”, of verder terug, Laurika Rauch se ou bekende “Stuur groe­te aan Mannetjie Roux”. In beide hierdie liedere hoor ’n mens van die boer in Afrika se afhanklikheid van reën.

Dit is altyd moeilik om dit vir Europeërs te verduidelik. Ek het dit onlangs weer ervaar toe ’n Duitse kollega van my in Pretoria was. Hy kom hier einde Augustus aan en kla oor hulle nat somer en dat hy hunker na ’n bietjie sonskyn.

Ek probeer vir hom verduidelik dat ons hier kan doen met ’n bietjie reën, veral daar onder in die Kaap waar die damme leeg is en die reënseisoen einde se kant toe staan. Hy begryp dit eenvoudig nie, maar hy kom van ’n stad waar die gemiddelde jaarlikse reënval meer as 900 mm is. Februarie is hulle droogste maand, dan kry hulle net 80 mm! Dit klink redelik nat vir my.

In ons teks word daar ’n spesifieke rede gegee vir die droogte. Ons kry dit veral in verse 7-10. Die volk het gesondig en was ontrou aan die Here, dit is hoekom die reën wegbly. Die Here het hulle verlaat, want hulle het verkeerd gedoen.

Ek wonder wat sou ons vandag antwoord op die vraag na hoekom dit so droog is. El Niño? Klimaatsverandering? Ons lewe in ’n wêreld waar omtrent alles deur die wetenskap verduidelik word.

In ou Israel was dit totaal anders. In hulle voorwetenskaplike wêreld was daar vir alles ’n bonatuurlike verduideliking. Die Kanaäniete het geglo dat die wegbly van reën te doen gehad het met Baäl se afwesigheid. As hy weg was, het die reën weggebly en as hy teruggekeer het, het dit begin reën.

Maar hoe gemaak in ons wêreld waar alles deur middel van die wetenskap verduidelik word? Wat bid ons op ’n biddag vir reën? Watse skuld bely ons by so ’n geleentheid?

Gelukkig stem die wetenskap in dié geval dalk saam, dat ons wel iets verkeerds gedoen het. Daar is grootliks konsensus dat ons as mense besig is om die aarde en al die spesies op die aarde te vernietig. Dit sluit natuurlik onsself as spesie in. Miskien is dit ’n goeie plek om te begin bely.

Ons het mos vroeër jare gesing “hoe skoon die aarde, dit het min waarde.” Wat verwag ’n mens sal gebeur as jy die aarde so waardeloos maak? Gelukkig sing ons darem deesdae “mooi is die aarde, dit het groot waarde.”

Dr Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit Pretoria.