Die taal van sonde

In die debat oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, kom sonde dikwels ter sprake. Nadia Marais gee ʼn teologiese perspektief oor hoe ons oor sonde praat.


“Sonde en weerstand,” sou Martin Luther antwoord op die vraag: Wat dra ons by tot ons verlossing?

Dit is veelseggend dat die punt by herhaling gemaak sou word, oor eeue en kerkvergaderings heen, dat mense op géén manier bydra tot hulle eie verlossing nie en dat géén inherente goedheid in selfs die beste, mees onskuldige, mees moreel-etiese, mees voorbeeldige onder ons kan verlos nie. Daaroor sou die kerk oordeel dat dit kettery is – pelagianisme – om te glo dat daar énigeen onder ons is wat nié diep gebroke is nie, of dat daar énige manier is om ons verlossing uit ons eie goedheid, vroomheid, of wysheid te bekom.

Wanneer ons dus praat oor sonde moet ons mooi dink wat ons self bedoel. Dit geld ook vir die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings, waarbinne daar met groot vrymoedigheid oordele gevel word oor watter seksuele dade en watter liefdesverhoudings “sondig” is. Dit het dalk nodig geword dat ons mekaar herinner aan die belangrike lyne en grense wat ons eie tradisie stel wat betref hoe ons praat oor sonde, sodat ons op ’n lewegewende manier oor ons sonde en ellende sal kan praat.

Eerstens, die taal van sonde is ingewortel in ons verstaan van verlossing. Die beginplek vir énige refleksie oor sonde is die goeie nuus van die evangelie – níé ons eie voorkeure, menings, of standpunte nie. Daarom word daar in die gereformeerde tradisie dikwels éérs oor die verlossing wat Jesus Christus bewerk gepraat vóórdat sonde en boosheid hanteer word. Die Heidelbergse Kategismus begin immers deur ons daaraan te herinner dat ons énigste troos in lewe en in sterwe Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker, is. Daar is ‘n belangrike rede voor. Juis omdat sonde beteken om ingekeer op onsself en ingesteld op onsself te leef, is ons blind vir onsself, en het ons die evangelie nodig om ons sonde raak te sien. Ons leer ken ons sonde dus nie vanself nie, maar vanuit die evangelie wat ons vryspreek, verander en vernuwe.

Tweedens, die taal van sonde herinner ons daaraan dat ons as verlostes moet lééf. Dit beteken dat ons met vryheid leef – vryheid van sonde, en vryheid vir ’n lewe wat gekenmerk word deur dankbaarheid, goedheid, en volheid. Dit behels nie net om ons te weerhou daarvan om sekere goed te doen – soos om nie dood te maak – nie, maar ook dat die verantwoordelikheid op ons berus om God en ons medemens lief te hê. Ons leef as verlostes wanneer ons liefde leef, en deernis, en genade. Dit is om hierdie rede wat die Heidelbergse Kategismus se bespreking van verlossing oorslaan na ’n bespreking van dankbaarheid. ’n Lewe wat in dankbaarheid geleef word, behels om alles tot my beskikking te doen om die lewe in volheid moontlik te maak vir my medemens. Ons erkenning van sonde herinner ons aan die buitengewone verantwoordelikheid wat ons opgelê is om mekaar se bewaarders te wees.

Derdens, die taal van sonde kan daarom nie gereduseer word tot moralisme nie. Ons sien dit vanuit ons eie geskiedenis, waarin ons geoordeel het dat dit sonde is om te dans, te drink, te rook, en op ’n Sondag te swem. Sonde is nie elkeen se lysie, of die kerk se lysie, van goed wat ons nie mag doen of sê nie. Die Heidelbergse Kategismus praat inderwaarheid van “ellende” – nie alleenlik “sonde” nie – juis omdat dit bely dat dit waarvan ons verlos word veel meer omvangryk en ingrypend is as net dit wat ons individueel doen of nie doen nie. Indien ons werklik die allesomvattende, diepgaande, oorweldigende, verleidelike en verwoestende mag van sonde en dood verreken kan ons sonde nie reduseer tot dit waarmee ons nie gemaklik is nie. Dit sou beteken om die reikwydte van sonde en ellende sélf te onderskat, en daardeur die sonde nie ernstig genoeg op te neem nie.

Kortom, die taal van sonde is ontsettend belangrik. Dit sou uiters kommerwekkend wees indien ons hierdie taal sou afleer of vir eie gewin sou misbruik om ’n bepaalde agenda te dryf. Die taal van sonde is, en was nog altyd, té belangrik om ligtelik of onnadenkend te gebruik. Feministiese teoloë wys al vir ’n geruime tyd daarop dat die taal van sonde ons in staat stel om te artikuleer wat verkeerd is in die wêreld, aangesien die sondeleer aan ons die taal gee om onreg en geweld aan te spreek. Dit is dus van die allergrootste belang dat die kerk die taal van sonde met groot omsigtigheid gebruik – maar wél gebruik, verál wanneer daar oor diskriminasie en die skending van menswaardigheid gepraat word.

Hóé ons egter die taal van sonde inspan is belangrik. Indien ons taal van sonde die goeie nuus van die evangelie verskans – deur die Drie-enige God se liefdevolle genade wat aan ons geskenk is te beperk tot dit wat vir ons op hierdie tydstip moreel aanvaarbaar is – moet ons onsself afvra of ons nog binne die dampkring van die gereformeerde tradisie se diepe erns met sonde en ellende beweeg. Martin Luther sou in sy nadenke oor sonde, boosheid, ellende en sy eie diep gebrokenheid worstel met die vraag: Waar sal ek ‘n genadige God vind? Dalk is daar ‘n soortgelyke vraag wat ons onsself binne die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings moet afvra: Waar sal ek ’n genadige kerk kry?

▶ Dr Nadia Marais is ʼn dosent in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.