Die kerk mag nie sonde goedpraat nie

In die voortgaande teologiese gesprek oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag besin dr Tinus van Zyl van Durbanville oor die vraag wanneer iets sonde is.

By die buitengewone Algemene Sinode van 2016 het ek herhaaldelik die refrein by my tafelgenote gehoor: “Die kerk mag nie sonde goedpraat nie.” Ek het nie geweet hoe om daarop te reageer nie, want alhoewel ek heelhartig met hierdie gedagte saamstem, het die opmerking my tog gehinder. Ek het myself afgevra: Is dit wat die Algemene Sinode in 2015 oor selfdegeslagverbintenisse besluit het, om sonde goed te praat?

Toe ek in die bus klim na afloop van die sinodesitting, vra ’n vroulike ouderling langs my: “Maar wát is die sonde waarna tekste soos Levitikus verwys?” En ewe skielik gee sy vir my taal vir iets wat ek lankal in my binneste voel, maar nog nooit onder woorde kon bring nie.

In my gemeente, na afloop van die 2015-besluit, was daar ’n lidmaat wat vir my gesê het die kerk trippel met mooi teologiese woorde rondom die eíntlike kwessie, naamlik dat die kerk ’n perversie, ’n onnatuurlike seksuele daad, wat nie God se bedoeling vir seksualiteit was nie, wil goedpraat.

Maar wát is die sonde? Is die sonde ’n spesifieke seksuele daad, sonder dat ons enige konteks aan daardie daad gee? Dit kan tog nie wees nie.

As ek vir jou R100 gee, is dit sonde? Wel, dis onmoontlik om te sê. Dit hang af van die situasie. As ek ’n vriendelike donasie aan jou maak, dan is dit liefdadigheid. As ek die geld vir jou leen, of iets by jou koop, dan is dit ’n besigheidstransaksie. As ek jou omkoop, dan is dit korrrupsie. Of as ek jou betaal vir seksuele gemeenskap, dan is dit prostitusie. Jy kan nie die daad isoleer van die konteks nie. Dit is die konteks wat bepaal of dit sonde is of nie.

(Waarskuwing: Die res van hierdie skrywe mag dalk affronteer, omdat dit baie reguit praat oor intieme sake, maar ek wil poog om nie met mooi woorde óm die kwessie te trippel nie.)

Dieselfde geld vir seks. Die sonde, as dit kom by seksuele gemeenskap, kán tog nie wees dat ’n sekere liggaamsdeel in ’n sekere gaatjie ingaan nie. ’n Penis kan ’n vagina penetreer, selfs binne die huwelik, en dit kan sonde wees – as ’n man sy vrou verkrag.

Wat maak van enige seksuele gemeenskap sonde? Wel, wanneer iemand deur middel van seksuele dade ’n ander persoon verneder, seermaak, afbreek, misbruik, mishandel, domineer, minag of geweld aandoen, dan is dit sonde.

Maar wanneer seksuele gemeenskap plaasvind binne ’n konteks van liefde en trou, en wanneer daardie twee persone hulle seksualiteit aanwend om mekaar op te bou, te geniet, te waardeer, te vertroetel, te troos en te koester, met wedersydse respek, sensitiwiteit en deernis, dan is dit nie sonde nie, maar wel Goddelike liefde.

In huweliksvoorbereiding gesels ons nie met mense oor watter liggaamsdeel in watter gaatjie mag ingaan nie. Ons sê nie vir mense dat om mekaar op die mond te soen onnatuurlik is, omdat die mond gemaak is vir kos nie. Ons sê nie dat ’n man nie sy vrou se borste mag soen, omdat dit God se bedoeling was dat babatjies aan borste sou suig vir melk nie. Ons vra nie uit watter vorme van liggaamlike intimiteit die paartjie in die privaatheid van hulle slaapkamer wil eksploreer nie.

Ons praat slegs oor wat liefde en trou is, en wat die liefde en trou nié is nie, met ander woorde wat ’n mens as sonde sou kon beskryf. Ons help mense om te verstaan dat alle vorme van liefkosing binne die veilige ruimte van ’n huwelik toelaatbaar is, solank albei partye mekaar respekteer, solank daar oop en eerlike kommunikasie is, solank albei partye gemaklik is en die seksuele praktyke vir albei opbouend en genotvol is.   

Liefde bou verhoudings en sonde breek verhoudings af: my verhouding met God, my verhouding met my medemens, my verhouding met myself en my verhouding met die omgewing. Om te kan onderskei of iets sonde is, moet ek dus aandag gee aan die skade wat my aksies doen, of potensiëel kan doen, aan die verskillende verhoudings waarbinne ek lewe.    

Die kerk mag nooit sonde goedpraat nie, verál nie seksuele sonde nie, want dit doen geweldige skade aan mense. Ek het baie begrip vir lidmate wat bang is dat die sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings die deur sal oopmaak vir seksuele promiskuïteit. Ek wil ook nie hê dat die kerk onverantwoordelike seksualiteit, waardeur mense skade aan mekaar en aan hulleself doen, moet goedpraat nie.

Maar die posisie waarin die kerk homself tans bevind, is dat die kerk seksuele losbandigheid onder gay gelowiges bevorder, aangesien ons nie vir gay gelowiges ’n veilige ruimte bied waarbinne hulle hulle seksualiteit op ’n verantwoordelike wyse kan uitleef nie.

Die kerk mag nooit sonde goedpraat nie, maar terselfdertyd mag ons ook nie mense in ’n sondige lewenswyse indwing, omdat daar vir hulle geen moontlikheid is om in ’n vaste verbintenis van liefde en trou te lewe, waarbinne gesonde seksualiteit kan gedy nie.