(On)welkom

Eendag was daar ’n kerk wat lank en diep gedink het oor die Bybel en oor die kerk se gay lidmate.

By ’n groot sinode is die wyses uit verskillende streke byeengebring en na lang besprekings is daar toe besluit om gay lidmate (on)voorwaardelik te aanvaar.

Die wyses van die kerk het gewerk met die uitgangs­punt dat die mens en sy of haar seksuele oriëntasie (on)onderskeibaar van mekaar is, en het tot die gevolgtrekking gekom dat dit (on)wenslik is om vir ’n gay persoon te sê dat hy of sy nie die oriëntasie mag uitleef nie.

Die eis van selibaatheid vir gay mense, het die wyses gemeen, is ’n (on)redelike eis, want dit is (on)moontlik vir ’n gay lidmaat om sy of haar seksualiteit te onder­druk en dit is (on)wenslik dat hy of sy dit probeer doen.

As ’n mens die Bybel se boodskap oor die liefde reg verstaan, sal jy sien dat die opsie van burgerlike verbinte­nisse, nie vir God en vir die kerk (on)aanvaarbaar is nie.

Teenoor die opsie van burgerlike verbintenisse vir gay lidmate is ’n selibate lewenstyl – so het die wyses by die sinode geredeneer – ’n seker manier om gay lidmate by ’n (on)gelukkige en (on)vervulde lewe te bring. Om dit te vra, sou neerkom op ’n (on)menswaardige behandeling van gay lidmate.

Vir die kerk en uit die oogpunt van die liefde is dit ’n (on)gewenste resultaat. Dit is die soort resultaat wat volg as ’n mens (on)gehoorsaam is aan die diepste be­doe­ling van God se wet, en uit totale (on)begrip van wat dit beteken om gay te wees.

By gay lidmate self was daar geen (on)gelukkigheid oor die (on)voorwaardelike aanvaarding wat die kerk hulle bied nie. Ook by hulle vriende en familie was daar geen (on)tevredenheid nie.

Vir hulle het dit nie oor lang redenasies en ingewikkelde argumente gegaan nie. Hulle het eenvoudig aangevoel dat hulle nie langer (on)welkom in die kerk is nie.