Wat sal ons van die Algemene Sinode onthou?

Die buitengewone Algemene Sinode 2016 sal uiteenlopend onthou word.

Weens enorme protes teen die inklu­siewe besluite van 2015, moes kerkeenheid hoog op die agenda wees. Die leierskap was onder haas onhoudbare druk om beide eenheid en die sekskontroversie van homoseksualiteit te hanteer.

Met die eerste oogopslag het kerkeenheid gewen. Danksy 2016 sal die kerk nie skeur nie.

Die oorwinning het ’n enorme prys. Hoe meer perspektief op die sinode groei, hoe meer sal die so­sia­le en teologiese koste van die herstelde eenheid blyk.

Om mee te begin: Volgens baie het Moeder NG Kerk haar rug op haar eie gay kinders gedraai. Daarom kondig verskeie gemeentes nou publiek aan dat hulle kies vir die gay lidmate. Hulle is immers vlees van ons vlees, gedoop, opgevoed, het belydenis afgelê en is selfs deur ons teologies opgelei. Hulle kom met hulle seksualiteit na ons, nie as ongelowiges en verharde sondaars nie, maar om aanspraak te maak op hulle vanselfsprekende plek as lidmate. Gemeen­tes hoor wat die sinode nie kon hoor nie.

Die ondeursigtige en voorskriftelike huisreëls (konfidensialiteit van die agenda, reëls oor kleredrag en opnames, daaglikse registrasie van besoe­kers by ’n oop vergadering) wou die gays stil hou, ter wille van kerkeenheid.

Hierdie reëlings is so anders as die groeiende etos van openheid en luister in die kerk. Gay lidmate het dit as verdere marginalisering beleef, en ’n poging om hulle onsigbaar – of minstens stil – te maak.

Gevolglik ontstaan ’n breuk tussen die besluite van die sinode en die kerk se lojale teologiese denkers. Almal is dit eens oor Skrifgesag, maar Skrif­uitleg wat met konteks en nuwe insigte uit die we­tenskap worstel, is gedemoniseer.

Waarom was dit so belangrik om gays stil te maak en gay seksualiteit as vyand van geloof en ge­hoor­saamheid aan God uit te beeld? (Natuurlik sal baie afgevaardigdes dit ontken. Dit openbaar egter die sinode se blinde kol, wat nie kan sien dat bui­testanders die besluite as verbloemde afwysing beleef nie.)

Watter doel dien die gay-kwessie in die kerk? Die groter prentjie is dat die NG Kerk tans worstel om identiteit en roeping te organiseer. Dit veronderstel die skep van grense. Toe die duiwel en die kommuniste nog vyand nommer een was, was dit maklik. Lidmate was onkrities en het geglo soos sinode en dominee sê.

Vandag is Skrifuitleg al hoe meer in die bran­ding, veral in die lig van wetenskaplike perspek­tiewe. Angs groei oor die impak daarvan op ons belydenis oor wie die opgestane Jesus is. Baie verloor die moed om in ’n lewende, werkende, vernuwende, lewe-skeppende God te glo.

Dalk sal ons die sinode later as ’n lomp en oneffektiewe poging onthou, wat geloof in God, vertroue op die kernboodskap van die Bybel en eenheid in die kerk wou red. Sinodegangers wou hul Skriftoewyding demonstreer deur ’n vyand op te stel en uit te knikker.

Ds Danie Mouton is direkteur van die Oos-Kaapse Sinode.