Vrede vir julle

Die buitengewone Algemene Sinode was ’n intense ervaring. Soos in die res van die wêreldkerk bly homoseksualiteit maar net ’n baie verdelende onderwerp en enige gesprek daaroor ontlok uiteenlopende menings.

Ons moet nou goed dink oor die waarde van kerk­eenheid. Die Nuwe Testament ken net een kerk wat bestaan uit gemeentes wat saam dink, dien, stuur, getuig en mekaar versorg.

Hierdie gemeentes sluit mense uit diverse agtergronde in. Daar is ook meningsverskil oor talle kwessies in hierdie Nuwe-Testamentiese kerk. Besnydenis, offervleis, die verhouding tussen man en vrou, die uitverkiesing, seksuele gedrag en die opstanding van Jesus is almal onderwerpe waaroor daar verskil is.

Maar die kerk van die Nuwe Testament bly ’n enkelvoudige liggaam, nie liggame nie, die volk van God, ’n huisgesin, die bruid van Christus.

Kerkeenheid en waarheid behoort ook nie sommer teen mekaar afgespeel te word nie. Eenheid bestaan ter wille van die waarheid. Verskillende perspektiewe dien immers die waarheid, herinner aan werklikhede wat nie vergeet mag word nie, ontsluit ruimtes vir ver­kennende ondersoek, wys op die relatiwiteit van oortuigings wat in bepaalde kontekste verabsoluteer word, stel nog bronne van kennis aan die orde, bring insig, bring wysheid.

Ons het mekaar dus in hierdie tyd baie nodig. Na elke moeilike en dapper besluit moet ons mekaar vertrou, goed luister én soek na bevestigende wysheid.

In ons onderskeidingsproses oor selfdegeslagverbin­tenisse het dit duidelik geword dat die NG Kerk baie ernstig is oor die Bybel as geïnspireerde Woord van God. Die besluite van vorige sinodes oor die hantering van die Skrif, oor die wyse waarop die waarheid van die Bybel ontsluit word, die historiese konteks wat ernstig in ag geneem moet word, die groot afstand tussen verlede en hede wat gerespekteer moet word, die wêreld van die leser wat ernstig opgeneem moet word, die verstaansbril waarmee elke leser lees, is almal herbevestig. Die verbintenis hiertoe was eenparig.

Daar behoort ook na die sinode nie onsekerheid te wees oor die NG Kerk se verbintenis tot die huwelik as ’n heilige lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou nie. Dit is ’n oortuiging wat onder meer ge­skoei is op Jesus se radikale uitspraak teen die dominante patriargale diskoers van die Jode dat ’n vrou die eiendom van die man se familie word wanneer ’n huwelik gesluit word.

“Nee,” sê Hy: “Daarom sal ’n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een.” Die Algemene Sinode is ernstig oor die huwelik.

Die Sinode is ook ernstig daaroor dat die huwelik die enigste plek is waar seksuele omgang beoefen mag word. Hierdie oortuiging van die Algemene Sinode volstaan dus met ’n vroeëre besluit dat lukrake seksuele verhoudings en saamwoonverhoudings waar twee mense in ’n seksuele verhouding met mekaar leef, nie Bybels aanvaarbaar is nie. Dit sluit ook die moontlikheid van die kerklike aanvaarding van seksuele verhoudings tussen mense wat homoseksueel is, uit.

Die Algemene Sinode het ook duidelik verklaar dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar dat daar met respek en liefde teenoor alle mense as beelddraers van God opgetree moet word.

Al die ampte van die kerk is daarom ook toeganklik vir enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is. Kerkrade moet vir alle mense dieselfde Christelik-etiese standaarde aanlê.

Die Algemene Sinode het by die aanvang van sy stel besluite oor selfdegeslagverhoudings besluit om “nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waar­­van die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.”

Die Algemene Taakspan Regte het egter nou die funk­sie om aan te dui waar die grense lê van kerkrade se plig en voorreg om besluite te neem oor lidmate wat in homoseksuele verhoudings is. Dit lyk of die dringendste vraag is of kerkrade selfstandig kan besluit om homoseksuele verhoudings te seën. Die doel van die Algemene Sinode se beleid is immers om ’n raamwerk te bied vir kerklike optrede.

Ons het voor die buitengewone Algemene Sinode geantisipeer dat daar moeilik ’n besluit geneem gaan word waarmee almal gaan saamstem. Dit blyk nou uit die reaksie van kerkrade en lidmate dat daar inderdaad weerstand is teen die besluite van die sinode. Dit opsigself is nie ’n verrassing nie.

Die kuns is egter nou vir diegene wat verskil om selfbeheersing aan die dag te lê. Diesulkes het kerk­regtelike opsies om hulle besware te laat oorweeg.

Ons moet nou hiervandaan vorentoe gaan as die één kerk van Christus. Ons is immers soos die kerk van die Nuwe Testament ’n bruid van Christus, volk van God, liggaam en huisgesin.

Daar mag verskille tussen ons wees. Maar ons het nou die geleentheid om ’n sterk getuienis te lewer van die krag van die liefde van Christus, ons Hoof, waarmee Hy ons aan mekaar bind.

Mag daar in hierdie Adventstyd ’n diep bewussyn by ons almal kom van die vrede van Christus, vrede wat argumente en verskille te bowe gaan. Mag ons hier­die vrede na afloop van al die komplekse gesprekke mooier en beter ervaar as ooit vantevore.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.