Johan Smit het aan geloof woorde gegee

Met die dood van Johan Smit het ons kerk en Afrikaans een van ons vrugbaarste skrywers van boeke oor die geloof verloor. Sy dood laat ’n baie groot leemte.

Johannes Jacobus Smit het op Stellenbosch studeer, ’n kort rukkie in Hebreeus klasgegee, NG predikant geword van Wynberg, Bellville-Oos en Helderberg, raadgee-briewe en -rubrieke vir Bybelkor en kerklike tydskrifte geskryf en in die 1970’s met sy skitte­rende Bybelkor-kursus oor Amos, As die Leeu brul, groot aandag getrek.

Dit is in die dekades daarna opgevolg met talle boeke vir die jeug (verhale soos Dwelmgevaar op Krombaai en Moord op Krombaai), vir jongmans (Grens toe met Christus) en studente (Kampuskroniek), vir mans in die fleur van hulle lewe (Man van formaat), weduwees (Weduwee, waarheen?), mense in nood (Al gaan ek deur donker dieptes), ouer mense (Voluit lewe ná aftrede) en oupas en oumas (Loshande die beste Oupa en Ouma saam met sy vrou, die bekende Nina Smit). 

Johan Smit het dagboeke, troosboeke en Bybelstudieboeke geskryf, met in die laaste jare veral ook werke waarin hy diep nagedink het oor die gebed.

Ons paaie het lank gelede die eerste keer gekruis toe hy as pastorale raadgewer ’n oggend per week na Wellington gekom het om daar briewe te help skryf aan die talle mense wat na aanleiding van die verskillende kursusse vrae gestel het. Sy briewe, soos sy latere boeke, het getuig van sy geloof, sy medemenslikheid, sy toewyding, sy pastorale insig.

Later het hy ’n rukkie in my plek waargeneem as redakteur van die Kerkbode en dit ook op ’n verstandige manier in ’n stormtyd gedoen. In die jare ná ons albei se aftrede het ons minder met mekaar te doen gekry, maar ek sal hom altyd onthou as die vriendelike, effens gereserveerde mens met die vaardige pen, die vonkel in die oog en die onverwagse kwinkslag. Hy het met sy boeke – etlikes was blitsverkopers  vir duisende mense op hulle geloofspad gehelp.

Aan Nina, sy kinders en kleinkinders: baie mense is saam met julle hartseer … en dankbaar.