’n Gebed vir Advent

Baie is reeds gesê oor die onlangse besluit van die Buitengewone Algemene Sinode. Dalk te veel. 

Maar daar is iets wat (dalk nog een keer?) gesê moet word: wat daar gebeur het, was nie ’n oorwinning vir die Woord, God se wil, of rigtinggewende (en allermins nie lewe-gewende) etiek nie. 

Dit was ’n oorwinning vir wet en prosedure. 

Dit was reeds duidelik in die nadraai van die Algemene Sinode van Oktober 2015 dat die wet en die mees vernuftige hanteerders van die wet uiteindelik sou wen. Is dit vreemd? Ongehoord in die kerk? Verkeerd? 

Ek weet nie. 

Wat ek wel weet, is dat daar ’n groot aantal mense is wat nie aptyt of energie het vir ’n gewoeker met die wet nie, wat nie krag het vir gravamina, regsmenings, beskrywingspunte en ellelange verklarings en besluite en verklarings oor besluite nie. 

Hoekom sou dit wees? Omdat hulle liberaal is? Permissief? Meegesleur deur die tydsgees? Of dalk is hulle net dom en lui. 

Tog, nee. Hierdie mense sien hoe Jesus met die wet gemaak het. Dat Hy die wet oortree het om liefde te laat wen. Hoe Hy verduidelik het dat die sabbat vir die mens gemaak is (om lewe te gee), en hoe Hy beduie het dat die mens nie vir die sabbat gemaak is nie. 

Hulle hoor hierin hoe Jesus mense (sy liggaam, uiteindelik) bemagtig om dit wat lewe gee op te soek, in te drink en te deel. 

Hierdie hele situasie was nooit oor die vraag ‘is gay OK’ nie. Dit was oor verwelkoming, oor identiteit, oor aanvaarding, oor dit wat versoening bring en lewe gee. Dit was oor Goeie Nuus. Dit was oor presies hoe verwelkomend ‘die wêreld’ kan wees (skreiend tenoor ‘die kerk’), maar hoe ‘die wêreld’ nie altyd heilsame ruimtes bevorder waar mense kan commit nie. Dit was oor ’n kerk wat die arms wou oopmaak vir liefde en trou, oor die bekamping van isolasie en depressie en vervreemding. 

Dit was oor ’n geleentheid vir die liggaam van Christus om te deel. 

Dit was oor die herwinning van verspeelde kanse om oor menswees te praat: oor die verskillende fantastiese fasette wat ons meer mens maak, baie op die trant van ’n geskrif soos Hooglied. 

Daarom dat daar hartseer en verleentheid by baie is. 

En kommer. Kommer dat die liefde skipbreuk ly omdat sommige meer vaardig is met groot woorde en argumentering en die aanhaal van navorsing. 

Maar dit gee ook hoop omdat daar in die afgelope paar weke lekker woorde in die kerklike ruimte gebruik is. Woorde wat liggame beskryf, woorde wat oopmaak, woorde wat lug en lig en lewe bring. 

Vir nou, is ek moeg vir donker en benoude woorde. Sielsmoeg. 

Daarom bid ek in Advent 2016:

Here

Ek is moeg.
Soos ’n swanger een wat lankal wag,
dae tel
en elke teken
van die klein nuwe weerlose lewetjie
as dié teken sien,
is ek moeg.

Ek is moeg.
Ek wil iets nuuts hê,
maar nie nuwe geskenke
wat blink (maar strak) by die boom bly lê nie.

Ek wil nuwe lewe verwelkom
ou bekende gesigte sien
en nie langer bang wees nie.

Ek is moeg.
En dors.
Ek wil nie langer oor die lewende water praat nie.

Ek wil in die snikhete somer
daarin swem en gulsig daarvan drink.

En rus.