Hoe lank hou julle aan om op twee gedagtes te hink?

Prof Hermie van Zyl se artikel in Volksblad van 29 November 2016: “Wat van konteks in Skrifbegrip?” verwys. Ek dink dit is ‘n belangrike artikel vir die kerk in die breë om van kennis te neem.

Na Hermie se oordeel is daar twee paradigmas van Skrifberoep wat die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings dryf. Die een gaan uit van die huwelik tussen man en vrou as die enigste ruimte vir geslagtelike verhoudings. Die ander heg baie waarde aan die groterwordende inklusiwiteit en insig van ons eie konteks wat tekste wat tradisioneel homoseksuele dade afwys, relativeer.

Hy gee toe dat daar vir albei paradigmas van Skrifberoep baie te sê is. Hy wil egter konsekwent wees. “As jy eenmaal toegegee het dat die eietydse konteks ook ’n rol speel in die verstaan en toepassing van Skrifgegewens, kan jy nie langer arbitrêr kies watter tekste daarby in- en uitgesluit word nie … Dit maak ander maniere van omgaan met my medemens oop as wat tradisioneel voorgeskryf is.”

Ek hou van die manier waarop hy die essensie van die saak raakvat. Ek kies egter anders as hy om die duidelike tekste in die Bybel na te volg dat die huwelik tussen man en vrou die enigste ruimte vir geslagtelike verhoudings is. Soos die buitengewone algemene sinode 2016 ook gedoen het. Daar is twee redes vir my keuse. 

Die eerste word in die verhaal van Elia en die Baälprofete in 1 Konings 18 gevind.  Hierdie dissipels van Isebel het vanuit hulle eie konteks die verbod op afgodery en onsedelikheid in die Dekaloog en die breër wet van die Pentateug afgewys.  Hulle eie konteks het die duidelike boodskap van die Bybel getroef.

Elia het nie daarmee genoeë geneem nie en die volk gewaarsku om te kies vir die Bybelse boodskap téén die afgodery en onsedelikheid van hulle konteks. “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baäl is, volg hóm.”

Toegepas op vandag. As die Here deur die Bybel gesag het oor ons denke oor die huwelik, ongeag ons eie konteks, volg Hom. As ons eie konteks ’n groter gesag het op ons as die Bybel, volg dit.

’n Mens sien dieselfde gebeur in Josia se tyd toe die Bybel wat in die tempel weggeraak het – kan jy dit glo! – gevind is (2 Konings 22). Met die hulp van die profetes Gulda het hulle die Bybel gelees en aan die hand daarvan omvattende hervormings aangebring. Hulle het hulle eie konteks in lyn probeer bring met die boodskap van die Bybel. Die Bybel het hulle konteks getroef, selfs al het die hervormings net vir ’n tyd gehelp totdat die ballingskap onafwendbaar opgedaag het.

Die tweede rede vir my keuse is die raakpunte van die verhaal van Elia met dié van die gemeente Tiatira in Openbaring 2. Jesus skryf aan die gemeente van Tiatira en verwyt die gemeente dat hulle die profetes Isebel toelaat om onsedelikheid en afgodery te bedrywe. Hy skryf dat Hy haar kans gegee het om haar te bekeer, maar dat sy dit nie wil doen nie. Hy gaan haar daarom oordeel saam met almal wat hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, sê Jesus, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond.

Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Jesus wil hê, sal die mag en gesag van die Here self ontvang oor die nasies.  Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê, sluit Jesus sy brief af.

Ek is oortuig dat ons eie konteks nooit kan triomfeer oor die uitleg van die Bybel in sy eie konteks nie. Soos Elia die Bybelboodskap gebruik het om sy eie verworde konteks aan te spreek, so doen Josia dit, en só doen die Here Jesus dit self. Ons as NG Kerk kan nie anders doen nie. Die Bybel het groter gesag as ons eie konteks. Dit is wat sola scriptura beteken.