Jesus het ’n passie vir randfigure

“As die kerk hierdie blink Nico ruimte kan gee, dan is dit vir my onuithoudbaar dat die mense in die T-hempies op die galery nie ’n kans kry nie. Ons sluit die skatkis van bediening toe,” het ds Nico van Rensburg net na afloop van die buitengewone Algemene Sinode gesê. CONETTE LE ROUX het met hom gesels.


“Ek wonder of een van die 12 apostels nie gay was nie.”

Met dié stelling het ds Nico van Rensburg, uitvoerende amptenaar van die Goudland Si­no­de, die onlangse buitengewone Algemene Sinode vir ’n oomblik tot stilstand gebring.

“Ek wou die sinodegangers se aandag trek met dié stelling,” vertel hy.

“Ek wat ’n randfiguur is, is genade gegun om die hele bediening te beleef.” Daarom wou hy afgevaardig­des oortuig om gay mense ’n kans te gee. Veral dié gay men­se wat teologie studeer het en nie selibaat in die be­diening wil staan nie.

Hy verduidelik: “As ek op die meterstok van gay tot straight 10 cm anderkant toe gelê het, sou ek selibaat moes bly om in die bediening te kom. As sinodegan­gers hul oordeel net enkele sentimeters anderkant toe kan skuif, dink net aan die moontlikhede!

“As die kerk hierdie blink Nico ruimte kan gee, dan is dit vir my onuithoudbaar dat die mense in die T-hempies op die galery nie ’n kans kry nie. Ons sluit die skatkis van bediening toe,” sê Nico na afloop van die sinode.

Hy het vir die sinode gesê hy spot saam met sy bynaam, “Blink Nico,” maar weet nog altyd waarna dit eintlik verwys. Dat hy “verfynd” is.

Die tafels en stoele is leeg nadat 200 afgevaardigdes nog ’n paar minute gelede hier gesit het. Nuwe besluite is sopas geneem wat lynreg teen die 2015-besluite vír gay mense is.

Hy dra sy kenmerkende pak klere met ’n das en ’n blommetjie pryk op sy lapel.

Ds Nico van Rensburg by die kruis. “Oor die visier van die kruis,” sê hy, “sien jy God se somer kom.” Foto: Louise Jackson

Ds Nico van Rensburg by die kruis. “Oor die visier van die kruis,” sê hy, “sien jy God se somer kom.” Foto: Louise Jackson

Hy dink terug en vertel dat hý van jongs af ’n randfiguur was om twee redes. Eers as nerd op skool. “Ek het net een dag per jaar openbare plesier gehad en dit was met die prysuitdeling,” lag hy.

Dan ook die feit dat hy “verfynd” is. “Dié skoenlapper was ’n brose skoenlapper. Ek is verfynd. Ek het dit aanvanklik probeer wegsteek want jy word getag. Ge­spot en uitgesluit.

“Maar dis nie ’n straf om ’n randfiguur te wees nie. Jesus het op die rand van die samelewing gewerk waar Hy my geroep het. Maar vandat die Here my geroep het om ’n dominee te wees, het die skoenlapper uit die kokon gekom.”

Hy beskryf homself as ’n “arend-skoenlapper wat sweef op die wind van Gods genade”.

Nico het aanvanklik politiek geswot, maar later oorgeskakel na teologie.

By sy eerste gemeente in Benoni “het hulle die ­kluis van my lewe oopgesluit,” vertel hy. “Hulle het gehou van wie ek is. My kunstigheid. Ek was selfs met blom­me besig.”

Daarna is hy na Kameeldrif in Pretoria en toe na Helikonpark in Randfontein in 1990. “Hier het ek werklik geleer om te blom waar ek geplant is,” sê hy.

Nico woon steeds in Randfontein saam met sy vrou, Ina. Oor sy vrou sê hy: “Sy is ondersteunend en verstaan.” Deesdae is sy dogter, ds Irma Nel, die predikant by Helikonpark.

Nico is al sedert 1999 in die leierskap van die kerk. Hy is sedert 2007 uitvoerende amptenaar van die Wes-Transvaalse sinode, wat nou Goudland heet. En sedert 2016 is hy ook besturende direkteur van NG Welsyn.

Hy dink terug aan al die geleenthede wat hy gehad het om in elke provinsie van die land ’n spreker te wees. En die Kerkbode-prys wat hy ontvang het vir sy radiopreke waarvoor hy alombekend is.

“Die Here het dié randfiguur gebruik om te doen wat ek nooit verwag het nie. Ek en my ma het nou die dag gehuil oor alles wat die Here vir ons gedoen het,” vertel hy.

“Die probleem is baie mense dink oor verfynde mans en gay mense en roep dadelik gay parades en sulke goed op. Dis nie die realiteit nie.

“Van die afgevaardigdes maak of sommige leefstyle nie in die bediening bruikbaar is nie. Ek glo nie iemand wat ’n ander seksuele oriëntasie het, is gebroke nie. Dis nie sonde nie. Jy word so gebore. En gedoop!”

Oor die besluite wat nou gay lidmate uitsluit sê hy: “God se somer sal kom!” Intussen beywer hy hom allereers vir die eenheid van die kerk. “Dís my roe­ping,” sê hy. En die selfdegeslaggesprek bedreig dit, daarom sy uitgesproke getuienis, sê hy.

Soos dit ’n goeie oupa betaam wys hy, voor ons ­groet, ’n foto van sy kleindogter – Cathrien (2) – wat hy onlangs op facebook geplaas het. Die volgende woorde staan daarby geskryf: “Mag ons ’n kerk nalaat wat Jesus se passie vir randfigure het.”