Totsiens, Pieter Fourie

Einde Desember lê dr Pie­ter Fourie die tuig neer as uitvoerende hoof van Bybel-Media, die NG Kerk se publikasiehuis. NEELS JACKSON kyk terug oor ’n lang en merkwaardige loopbaan.


As student het die jong Pieter Fourie op Loeriesfontein gelyktydig vakansiewerk gedoen as af­los­dominee in twee gemeentes, dié van die NG Kerk en dié van die destydse NG Sendingkerk.

Binne die eerste dae, vertel hy onlangs, het hy al ge­weet dat hy sy lot sal ingooi by die randmense van die Sendingkerk.

As jong wit dominee in die Sendingkerk het hy later verwyte van sy bruin kollegas gehoor. “Julle wittes kan bekostig om binne die Sendingkerk teen apartheid te rebelleer,” is daar gesê, “want as dinge vir julle hier te warm word, weet julle die arms van moeder NG Kerk is oop vir julle.”

Om sy lojaliteit te demonstreer, het hy sy legitimasie binne die NG Kerk opgesê.

In die 1980’s is hy as predikant van die Rynse gemeente op Stellenbosch deel van die sinodes wat die Belydenis van Belhar opstel en aanvaar.

En apartheid was nie maar net ’n teorie waarteen hy geprotesteer het nie, dit was deel van die harde werklikheid waarin sy gemeente geleef het.

Fourie vertel van die dag dat hy met ’n jeuggroep van hul gemeente met die trein van Stellenbosch af Kaapstad toe gery het. As wit man mag hy net ’n eer­steklaskaartjie gekoop het. Die bruin jongmense mag net derdeklas gery het.

Toe hy met sy duur eersteklaskaartjie by die kinders in die derdeklaswa gaan sit, wou die kondukteur hom van die trein afgooi. Dit het dreigemente met die pers gekos voordat hy saam met sy kinders tot in die Kaap kon ry.

Later het hy dosent geword op die Vrystaatse kampus van die Universiteit van die Noorde. Toe sy studente voorbokke is in die eerste betoging op dié kampus, word hy geskors. Witmense, verduidelik hy, het destyds gedink swartmense is te dom om self te protesteer teen wat hulle pla. Daar moes ’n witmens daaragter gesit het. En dit moes hy wees. Die tugverhoor het egter op niks uitgeloop nie.

By ’n ander geleentheid het hy en prof Benito Khotseng, later een van die Universiteit van Kaapstad se vise-rektore, tussen betogende studente en senuwee­agtige tuislandpolisie met groot gewere gaan staan om ’n bloedbad te probeer voorkom.

Daardie dag het die skote nie geklap nie, maar in sy jare as redakteur van die Ligdraer, die Sendingkerk se koerant, het hy meermale die spreekwoordelike vuur op hom getrek. Onder meer van dr Andries Treurnicht wat wou weet of hy besef waar sy soort teologie Suid-Afrika sou laat eindig.

Uit dié anti-establishment-agtergrond, aanvaar Fourie toe die pos by Bybel-Media, in die hart van daardie einste establishment.

Vroeër, as Sendingkerkdominee, het hy Bybelkor­kursusse in sy gemeente gebruik, maar toe Bybelkor begin om Bybelstudies uit te gee ter ondersteuning van dienspligtiges se stryd teen die “totale aanslag”, het hulle opgehou om Bybelkor te ondersteun.

Oor sy eerste vyf jaar by Bybel-Media sê Fourie dat hy nie kan onthou dat hy ooit so hard gewerk het nie. Hy het nie ’n sekretaresse gehad nie en by tye moes hy homself bemoei met die aankoop van melk vir die personeel se koffie en tee.

Maar hoe het dinge nie onder sy leiding verander nie. Verantwoordelikhede soos die Tydskriftemaatskappy het bygekom en die balansstaat, wat aanvanklik skaars R1 miljoen was, het gegroei tot meer as R20 miljoen sedert 2010.

Danksy goeie strukture en “uiters bekwame personeel” voel hy nou dat Bybel-Media amper op auto-­pilot loop.

Daar was vir hom teleurstellings: dat eenheid met die Christelike Lektuurfonds nie bereik kon word nie, dat samewerking met die VGK oor kategesemateriaal en ’n gesamentlike kerkblad nie verloop het soos hy gehoop het nie.

Maar, in geheel gesproke, kan ’n mens verstaan dat Pieter Fourie sy kantoordeur vir ’n laaste keer met groot dankbaarheid sou kon toetrek.

Soos wat Bybel-Media se werknemers dankbaar is oor hom, want dit is die ander sy van die saak.

Vroeër vanjaar speel ’n ondenkbare treurspel hom af toe een van Bybel-Media se werknemers hoor dat sy seun by die skool met ’n mes doodgesteek is. Dis ’n trauma met verskeie dimensies.

’n Kollega vertel later hoe “dr Pieter” en Bybel-­Media dié man ondersteun het, ook finansieel. Hy vertel wat dit vir almal beteken, dat dit wys as jy jou kant vir die maatskappy bring, sal die maatskappy sy kant vir jou bring. En ’n mens hoor die waardering daarvoor dat die werknemers tot op die laagste vlak ge­waar­deer voel.

En hy wonder waar Bybel-Media weer so ’n formidabele leier gaan kry.

’n Ander werknemer vertel dat hy vir hom ’n bakkie gekoop het, en hoe ’n groot ding dit in sy lewe is. Hy vertel hoe “dr Pieter” hom gehelp het – nou, toe hy die bakkie gekoop het, maar ook vroeër toe sy lewe gedreig het om te ontspoor.

As ’n mens sulke verhale hoor, besef jy dat al tree Pieter Fourie af as die man aan die stuur van ’n suksesvolle maatskappy, iemand wat met begrotings van miljoene werk, is hy steeds dieselfde mens wat hy as student was: iemand wat gekies het vir ’n evangelie met ’n hart vir die minstes in die samelewing.