Begrip vir mekaar in godsdienstige verskille?

In die voortgesette gesprek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, skryf ds Johan Malan van die NG gemeente Goedgegun in Swaziland oor verskillende perspektiewe in die debat.


Wanneer ons mense op ’n godsdienstige lyn plaas sal die effek waarskynlik soos volg wees: Aan die regterkantste uiterste sal die mense wees wie se fokus geheel en al op God is en nie op die mens nie. Heel aan die linkerkant sal wees die mense wie se fokus geheel en al op die mens is en nie op God nie. Afhangende van hul sieninge sal mense hulself al meer van regs na links op die lyn bevind, in die mate waarin hul fokus minder op God en meer op die mens is. Iewers in die middel moet daar dan ’n kruispunt wees waar iemand hom sal bevind wie se fokus op God en mens gelyk is.

Mense wat hulself aan weerskante van die middelpunt bevind, sal moeilik eenstemmigheid bereik oor godsdienstige kwessies. Hoe verder mense hulself van die middelpunt bevind, party na regs en ander na links, hoe moeiliker sal hierdie gesprek raak. Dit is die rede hoekom mense mekaar nie kan vind oor ’n saak soos homoseks nie. Mense met hul fokus meer op die mens, sal uit daardie perspektief na die Bybel kyk en dié met hul fokus meer op God, weer uit daardie hoek.

Die feit is dat die Bybel volgens die gewone letterlike betekenis daarvan streng vereistes aan mense stel. Dit beteken nie dat ons gered word op grond van ons werke nie, maar ons lees in Romeine 6:15: “Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!” In vers 23: “Want die loon van die sonde is die dood.” Jesus sê ook in Matteus 5:7: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.”

Die Bybel stel God bekend as ’n God wat bo alles liefde is, maar ook as ’n verterende vuur wat sonde nie kan verdra nie. Hoe meer die mens vir iemand in die middelpunt is, hoe meer sal die Bybelse vereistes vir hom ’n probleem wees, omdat dit inmeng met sy vryhede en regte. Dit noop so iemand om dié vereistes af te water, anders te interpreteer of selfs heeltemal te verwerp. Dit noop so iemand ook om meer klem te plaas op die liefde van God en minder op sy geregtigheid. Hiervolgens sal God, in liefde, geneig wees om tevrede te wees met afwykings van die streng vereistes. In die proses word die persoon se eie siening van liefde dikwels aan Jesus toegeskryf. Jesus het Homself inderdaad by geleentheid verset teen liefdelose wettisisme wat mense verhinder om, let wel, goed te doen.

Hoe meer iemand egter vir God in die middelpunt plaas, hoe meer sal hy aandring dat God bo alles geëer word en dat sy wil sal geskied ongeag hoe “swaar” dit die mens tref. So iemand sal geneig wees om te vereis dat die mens God se wil doen al moet hy ’n prys betaal, selfs al is dit die dood. Veroordeling tot die brandstapel was byvoorbeeld ’n swaar las vir baie gelowiges. Daar was telkens ’n maklike uitweg, maar God het van die martelare gevra om getrou te bly. Dan het Hy hulle daardeur gedra. Dit is ook die pad wat Jesus vir ons geloop het. Vir iemand wat God in die middelpunt plaas sal God inderdaad God wees, ook vir randfigure. Die veronderstelling sal egter wees dat God sy genade aan alle mense gee sodat hulle hul swakhede kan oorkom en groei na volmaaktheid. Dit is immers wat die Bybel ons leer in byvoorbeeld Romeine 2:4: “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid … omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” Dit is ook presies wat Jesus gedoen het toe die godsdienstige leiers die vrou wat in owerspel betrap is, na Hom gebring het. Hy het vir haar gesê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Hoe meer iemand homself na links op die lyn bevind, hoe meer sal hy waarskynlik geneig wees om die sondeval te bevraagteken. Die gedagte van ’n gevalle mens doen immers afbreuk aan die mens se belangrikheid. Iemand wat neig na regs op die lyn, sal aanvaar dat God die mens aanvanklik goed geskape het. Na die sondeval word elke mens egter in sonde ontvang en gebore. Die implikasie hiervan is dat mense reeds met oriëntasies gebore word, die uitleef waarvan in stryd met die Bybel sal wees. Hierdie oriëntasies kan natuurlik ook aangeleer word. Die feit is dat daar geen mens is, wat nie een of ander so ’n oriëntasie het nie (Rom 3:10).

Die hantering van hierdie oriëntasies gaan radikaal verskil afhangende van die kant van die lyn waarop die betrokke persoon en die mense wat hom omring, hul bevind. Dit sluit in gesinslede, die gemeenskap en kerk. Indien hulle hul op die linkerkant van die lyn bevind sal hul geneig wees tot die volgende siening: Ons wil graag hê dat almal gelukkig sal wees en ’n vervulde lewe lei. Hierdie mense sal gevolglik geneig wees om die Skrif so uit te lê, op grond van Jesus se liefde, dat die uitleef van ’n oriëntasie aanvaarbaar is. Solank iemand anders nie benadeel word nie en daar volwasse instemming by die betrokkenes is. Die persoon hoef dus nie sy oriëntasie te bestry nie, hy is met sy oriëntasie en die uitleef daarvan welkom in hul geledere.

Iemand aan die regterkant kan argumenteer: Ons aanvaar alle mense met hul verskillende oriëntasies in liefde. Indien die uitleef van so ’n oriëntasie egter in stryd is met die gewone letterlike betekenis van die Skrif, is so ’n uitlewing nie aanvaarbaar nie. Wat ook al ’n bepaalde mens se oriëntasie is, God se genade is ook vir die persoon daar, om deur die krag van sy Gees nuutgemaak te word. Niks is vir God onmoontlik nie. Hy is die skepper van die heelal en ook van die mens. Jesus het juis aan die kruis gesterf om te betaal vir ons sonde. Nou wil Hy ons deur sy Gees herskep om al meer mense te word wat leef in ooreenstemming met sy wil. Mense wat eendag sal inpas in die ewige lewe saam met Hom. Wat nodig is vir die mens, is dat hy met die genade van God en die ondersteuning van sy mense, hierdie oriëntasie nie sal uitleef nie en verkieslik geheel en al sal oorwin. Hierdie stryd moet die persoon stry ten bloede toe (Heb 12:4). Hulle sal ook aanvaar dat waar hulle fouteer in hul strewe om hul onderskeie oriëntasies te oorkom, hulle kan staatmaak op die bloed van Jesus om hulle skoon te was. Maar hulle sal ook aanvaar dat waar iemand willens en wetens volhard in die uitlewing van sy oriëntasie in stryd met die Skrif, die persoon nie die koninkryk van God sal beërwe nie (Gal 5:19 en verder).

Dit blyk dus uit voorgaande dat mense in godsdienstige sake mekaar slegs sal vind indien almal óf na die regter óf die linkerkant van die lyn skuif. Dit is egter nie ’n lukrake saak nie. Albei kante kan immers nie reg wees nie. Een van die kante is dus verkeerd en dit het ewigheidsimplikasies. Dit is dus van deurslaggewende belang dat elkeen mooi sal nadink oor sy siening. Ons lees immers in 1 Korintiërs 11:31: “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.” Hoe doen ons dit? Mense aan die linkerkant sal waarskynlik kyk na dinge soos die nuutste teologiese konsensus, die maatskaplike konteks, die liefde en ’n Bybel wat in die lig hiervan woordwysigend uitgelê en sekere dele geïgnoreer kan word. Die Bybel is dus soos ’n wet wat verander na gelang van die omstandighede.

Mense aan die regterkant sal aanvaar dat God deur eeue bewerk het dat die Bybel as ’n betroubare handleiding ontstaan het om vir sy kinders die pad van redding te wys. Dit impliseer voorskrifte wat Hy aan hulle gee rakende hul lewe as geredde mense. Die feit dat sekere voorskrifte in die Bybel nie nagekom word nie, beteken nie dat alle voorskrifte verval nie. (Aanvaarding van die argument dat nie-nakoming van sekere voorskrifte of wette, gronde is vir die verwerping van ander, sal in enige gemeenskap lei tot anargie.) Agter die Bybel is dus ’n onveranderlike God, wat alle mag het. Daar is Jesus wat geregtigheid liefhet en ongeregtigheid haat (Heb 1:9). Jesus wat eendag gaan oordeel volgens dit wat Hy in sy Woord gesê het. Die beginsels van die Bybel verander dus nie volgens die getye in die wêreldgeskiedenis nie. Hierdie mense sal hulself dus streng volgens die Bybel beoordeel.

Waar iemand hom ook al op die lyn bevind, is dit dus van groot belang dat ons onsself sal beoordeel. Indien ons verkeerd is en boonop ander so leer, het dit ernstige implikasies vir leerder en leerling (Matt 23:15). Wat myself betref, kies ek om in kinderlike geloof by die gewone betekenis van die Skrifwoorde te staan. My ervaring is dat waar ek doen wat die Skrif sê, dinge uitwerk; indien nie, weet ek dat die probleme nie ver is nie. Mag die Here ons help.