Filemon moet uit liefde handel

Die Filemonbrief is Paulus se kortste brief. Hy skryf dit aan ’n vriend in Kolosse oor ’n netelige saak.

Saam met hom in die tronk was daar naamlik ’n ene Onesimus, ’n wegloopslaaf wat sy hulp kom vra het. Volgens die Romeinse regstelsel kon slawe wat in die moeilikheid by hulle eienaars was, ’n vriend van hul eienaar, die sogenaamde amicus domini, nader om tussenbeide te tree.

Onesimus het Paulus se hulp dringend nodig gehad deurdat hy sy eienaar skade berokken het (Filem 18). Sy enigste hoop was dat Paulus bereid sou wees om vir hom in te tree by sy eienaar.

Dié versoek het Paulus in ’n onbenydenswaardige posisie geplaas. Om as pleitbesorger vir ’n weg­loop­slaaf vanuit ’n Romeinse tronk op te tree was moeilikheid soek.

Paulus besluit egter om vir Onesimus met ’n brief terug te stuur na sy eienaar.

Dié brief is ’n retoriese meesterstuk. Paulus beveel daarin nie vir Filemon om Onesimus sy vryheid te gee nie. Hy lewer ook nie ’n algemene afkeurende uitspraak oor die euwel van slawerny nie. Hy tree eerder as die geestelike vader van sowel Onesimus as Filemon tussenbeide (Filem 10).

Paulus herinner Filemon daaraan dat hy sy verlos­sing aan hom verskuldig is (Filem 19) en op grond van sy geloof vra hy hom om nie vanuit plig of dwang nie, maar eerder sy liefde te handel (Filem 9).

Paulus staan verder pa vir Onesimus as sy eie geestelike kind deurdat hy bereid is om skadevergoeding namens hom te betaal. Hy vra vir Filemon egter dat hy Onesimus sal behandel soos ’n medebroer (vers 16-17) en vertrou hom om selfs meer as dit te doen (Filem 21).

Die Filemonbrief herinner ons dat ons optrede nie deur dwingende besluite deur kerkleiers of siviele wette bepaal word nie, maar eerder deur die wete dat ons almal danksy onverdiende genade in ’n nuwe verhouding met God én mekaar staan. Dat ons soos Paulus die vriend moet wees van diegene wat weerloos is.

Vir Paulus was die belangrikste saak immers nie Onesimus se slawerny nie, maar eerder Filemon se vryheid om hom as ’n broer te verwelkom.

Daarom gee hy nie vir Onesimus ’n regsmening oor slawerny om aan Filemon te besorg nie, maar ’n vrypas vir die totstandkoming van ’n nuwe verhouding tussen hulle.

Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.