Onkruid

In ’n tyd van diep kerklike verdeeldheid is dit dalk goed om ’n slag stil te staan by Jesus se gelykenis van die on­kruid en die goeie saad (Matt 13:24-30 en 36-43).

Dié gelykenis maan, dalk verrassend, daartéén om die onkruid te gou uit te trek. “As julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek,” sê die boer vir sy slawe.

In die huidige kerklike meningsverskil oor verhou­dinge tussen mense van dieselfde geslag, staan daar twee kampe teenoor mekaar opgestel, en elke kant is baie seker van sy saak. Elke kant grond sy standpunt op die Bybel. Elke kant dink sy standpunt is die regte ma­nier om Christus te volg.

Hierdie gelykenis maan almal in die kerk om nie te seker van hulle saak te wees nie. Dit kan so maklik gebeur dat dit waarvan ’n mens seker is dat dit onkruid is, eintlik koring is.

Daarom moet almal in die kerk versigtig wees vir praatjies van verdeling of uitdrywing van diegene wat anders dink. Op ’n verrassende manier lewer hierdie gelykenis nie ’n pleidooi vir “suiwerheid” nie. Inteendeel, dit lewer ’n pleidooi vir geduld en verdraagsaamheid. Dit sal later duideliker word wat is onkruid en wat is koring.

Daarom is dit ook belangrik dat die Algemene Sinode besluit het om nie standpunte op gelowiges en gemeen­tes af te dwing waarvan die Gees hulle nie oortuig het nie.

Terselfdertyd is dit jammer dat die Algemene Sinode die amendement afgekeur het wat eksplisiet gesê het dat die saak waaroor dit hier gaan, nie tot die kern van die geloof behoort nie, en dat die kerk met die verskille kan saamleef. Hoewel daar verskillende Skrifvertolkings is, is die gesag van die Woord nie in gedrang nie, het die amendement gelui.

Jesus se gelykenis maan ons juis om met die verskille saam te leef.