Troos in ’n troostelose wêreld

Een van die beelde van 2016 wat feitlik oornag ikoniese status verwerf het, is die video van die vyfjarige Siriese seuntjie, Omran Daqneesh, een van die talle burgerlike slagoffers van die bombarde­ring van die Siriese stad Aleppo.

Die video wys Omran waar hy verwese en verdwaas in ‘n ambulans sit, doodstil sonder om ’n woord te sê of te huil. Sy ouerhuis is pas verwoes as deel van die volgehoue bombardering deur Russiese vegvliegtuie en Siriese regeringshelikopters van die rebel-beheerde deel van Aleppo. Hy en sy ouers en hulle ander twee kin­ders is uit hulle huis gered net voordat dit ineen­ge­stort het. Sy 10-jarige boetie het drie dae later beswyk aan beserings wat hy tydens die bombardering opgedoen het.

Die beeldmateriaal het binne ure oor die sosiale me­dia versprei en het aanleiding gegee tot skerp ver­ontwaardiging oor die voortslepende konfliksituasie in Sirië en die vernietigende effek wat dit op die le­we van onskuldige mense het. Vir baie mense was dit dui­delik dat hierdie beeld op simboliese wyse uitdrukking gee aan die sinloosheid en verskrikking van oorlog en geweld.

Judith Mehr

Judith Mehr se skildery Omran, angels are here.

Een van die persone wat deur die beeldmateriaal getref is, is die Amerikaanse skilder, Judith Mehr, wat besluit het om die skilderwerk Omran, angels are here te skep.

Wat hierdie skildery besonder treffend maak, is dat dit losweg gebaseer is op die beroemde ikoon Die gasvryheid van Abraham van die vyf­tiende eeuse Russiese kunstenaar, Andrei Rublev. Die ikoon beeld die drie engele uit wat volgens Genesis 18 by Abraham in Mamre besoek afgelê het, maar word in die Russies-Ortodokse tradisie ook gesien as ’n uitbeel­ding van die Drie-eenheid. As sulks word dit dan in verband gebring met die Drie-eenheid as beliggaming van gees­­telike eenheid, vrede, harmonie en wedersydse liefde.

Mehr beeld die drie engele uit, soos in die Rublev-ikoon, maar die middelste engel het ’n staande posisie ingeneem om plek te maak vir die figuur van klein Omran Daqneesh. Die feit dat hy só deur engele omring word, word deur die kunstenaar as troos in ’n troostelose situasie aangebied en word verder versterk deur die verwy­sings na hoop, vreugde en vrede in die stralekranse van die engele.

My eerste kennismaking met die skildery van Mehr was op Kersdag 2016 toe ek die Kersdiens in die St George’s-katedraal in Kaapstad bygewoon het. In sy preek het die deken van die katedraal dié kunswerk en die verhaal van Omran in verband gebring met die verhaal van die kindermoord onder koning Herodes in reaksie op die berig oor die geboorte van Jesus. Volgens hom is die verhaal van Omran Daqneesh, soos dié van die destydse kindermoord, net nog ’n voorbeeld van die brutale geweld waarmee maghebbers hulle magsposisies ten alle koste – en ver­al ten koste van die mees weerbares in die samelewing – handhaaf.

Dit het my net weer laat besef dat die Kersverhaal nie as ’n stukkie sentiment bedoel is wat ons een maal per jaar in ’n poging tot ontvlugting vier nie. Dis juis bedoel om ons daaraan te herinner dat die Seun van God in solidariteit met menslike ellende deel geword het van die ongenaakbare werklikheid waarbinne ons leef. Troos is nie in ontvlugting te vind nie, maar in die wete dat God in selfs die mees ondraaglike omstandighede nog altyd by ons is.

Rublev Drieeenheid

Andrei Rublev se skildery Die gasvryheid van Abraham.

Die skildery van Mehr sluit hierby aan deur daarop te wys dat daar in ’n wêreld vol sinnelose geweld en die skending van mense se Godgegewe waardigheid tog ook hoop, vreugde en vrede moontlik is. In sy preek het die deken daarop gewys dat die engele deur wie God hierdie troos bied, nie net bonatuurlike wesens is wat van buite af ingryp op die gebeure hier op aarde nie, maar dat dit ons as mense is wat geroep word om “engele” te wees – draers van hierdie boodskap dat die geweldpleging van die magtiges nie die laaste woord spreek nie.

Ek is nie seker of die kunstenaar dit so bedoel het nie, maar die verwantskap met Rublev se ikoon bring hierdie uitbeelding ook in verband met dit wat ons oor die Drie-eenheid glo en bely. Dit beteken veral dat ons as mense – veral in ons weerloosheid en kwesbaarheid – opgeneem en bewaar word in die onderlinge liefdesband tussen die Vader, Seun en Heilige Gees. So funksioneer die Drie-eenheid nie as ’n strakke kerklike dogma nie, maar as uitdrukking van die oortuiging dat ons werklikheid en ons wêreld, met al sy pyn en lyding, ten diepste gedra word deur die ontfermende liefde van God.

Dit is vir ons die troos waarmee ons lewe en sterwe: dat God nie werk van sy hande laat vaar nie, maar dat Hy Hom op ’n besondere manier oor ons ontferm. En dat Hy ons roep en toerus om ons op dieselfde wyse te ontferm oor al die weerlose mense wat op verskillende maniere altyd weer die slagoffers word van magsmisbruik en verguising.