Gelowig en groen

Kerkbode begin met ’n nuwe rubriek, “Gelowig en groen”.

In die feesjaar van die Reformasie herinner die kerk haarself onder meer aan die slagspreuk uit die reformasie dat die kerk altyd moet bly reformeer om nader aan God se wil te kom. As die kerk van 2017 na die wêreld om hom kyk, dan is dit duidelik dat die mens se verhouding met die omgewing waarin God ons geplaas het, een van die terreine is waarop ons moet hervorm.

Daarom het Kerkbode vir ds Anton Doyer gevra om vir elke uitgawe ’n paar gedagtes hieroor te deel. Die hoop is dat dit sal help om die bewussyn in die kerk van ekologiese kwessies te verhoog. Uiteindelik moet gelowiges op grond van hulle geloof in God, die Skepper, op hierdie uitdagings reageer.

Terselfdertyd nooi Kerkbode gemeentes om ons te laat weet van omgewings­projekte in julle geledere. Kerkbode sal graag daardie stories vertel as ’n getuie­nis van waartoe die geloof mense inspireer, ook in hulle verhouding tot die omgewing. Stuur gerus vir ons by kerkbode@tydskrifte.co.za ’n e-pos.

– Neels Jackson, redakteur.


Twee sake staan uit ná die pasafgelope feesseisoen: ons heelwat platter beursies en die snikhete dae gepaard met droogtetoestande in sekere streke.

Het die twee verskynsels dalk iets met mekaar te doen? Die verrassende antwoord is “ja tog” – en die verband tussen verbruikerskultuur en aardverwarming word uitgedruk met die begrip “koolstof­voetspoor”. Dit is ’n per capita-berekening van die omvang van koolsuurgasvry­stelling tydens energie­ver­bruik in produksieprosesse, vervoer, verhitting en verkoeling. Uitlaatgasse oorskrei die beperkte absorp­sie-vermoë van die biosfeer, versamel en vorm ’n “kweek­huis” wat klimaatsverandering aanhelp.

Die misvatting, aangehits deur die reklamebedryf, dat meer goedere en luukshede geluk bring, lê ten grondslag van ons verbruikerspatroon. Gevolglik be­no­dig ons reeds meer as twee en ’n half aardes.

Hoe om dit verbreek? Geen ander manier as om ons koolstofvoetspoor te verklein deur drasties te be­snoei nie. Sien jy kans?