Liefde vir God beteken liefde vir mense

In sy terugskouing beskryf Nelis Janse van Rensburg (Netwerk24, 30 Desember 2016) 2016 as die jaar van die groot nee’s – wêreldwyd asook plaaslik. Die munisipale verkiesings en die #FeesMustFall-veldtog dien as voorbeelde. Die uitdaging vir 2017 is nou om die nee’s te vervang met sterk ja’s.

As kerk vind ons die ja’s baie duidelik in die lewe en leringe van Jesus Christus. Dis veral na Kersfees en Epifanie, hier aan die begin van ons kalenderjaar, wat die kerk fokus op Christus se lewe op aarde. In die tydperk help die bestudering van die Bergrede Protestantse kerke dikwels om na te dink oor die sosiale implikasies van Jesus se lewe en leringe.

Die radikaliteit van Jesus se lewe in verhouding tot sy naaste word ryklik geïllustreer deur die genesings- en wonderverhale in die Nuwe Testament. En nogtans is dit vir Jesus nodig om die liefde vir die naaste met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan te verduidelik. Want, soos ons ook so dikwels, vind die wetgeleerde dit moeilik om te verstaan dat liefde vir God en liefde vir die naaste nie afsonderlik van mekaar staan nie. Die radikaliteit van liefde vir God beteken juis die beliggaming van hierdie selfontledigende liefde vir mense.

Ons nee vir apartheid en selfs ons meerderheid ja vir kerkhereniging het ons ongelukkig nog nie gebring by ’n beliggaamde eenheid binne die NGK-familie nie. Die susterskerke het wel saam ja gesê vir ’n Seisoen van Menswaardigheid omdat Jesus se lewe ons leer dat liefde vir God beteken dat ons teen­oor alle mense met respek, ’n luisterende hou­ding, selfontledigende liefde en omarming sal leef.

Hierdie ja verg selfprysgawe, opskorting van voor­oordele, vergifnis, risiko vir verwerping, uit jou pad gaan, ongemak en gevaar – dis nie goedkoop nie. ’n Ja vir naasteliefde impliseer ’n ja vir verantwoordelik leef met die natuurlike bronne wat ’n menswaardige bestaan vir almal op aarde moontlik maak.

Die uitwissing van ongelykheid en armoede verg ’n nuwe kyk na bevoorregting en welvaart. Die ja vir menswaardigheid vra dat ons elke dag opnuut ons eie rasvooroordele en die implikasies daarvan sal konfronteer. Ons moet verantwoording doen vir die afmetings wat geweld teen vroue en kinders aan­neem in ’n oorwegend Christelike samelewing.

Die kerk sal moet luister na die effek van die voorwaardelike insluiting van LGBTI-gelowiges op hul menswaardigheid. Ons sal harder moet werk om diegene wat met liggaamlike en psigiatriese siek­tes leef te omarm, te bevestig en in te sluit. Ons sal moet begin verstaan dat persone met gestremdheid baie het om te bied.

Die wetgeleerde wat Jesus toets, kan die wet wel seepglad práát, maar erken self hy sukkel bietjie om te weet teenoor wie hy dit moet lééf. My gebed vir 2017 is dat die Seisoen van Menswaardigheid ons as kerke sal help om ’n sterk ja te sê, maar ook die ja te doen.

Dit sluit aan by Nelis se uitdaging: “Waar die kerk sy eie grense ondersoek, sy eie verlorenes opsoek, na sy eie randfigure luister, sal dit oortuig dat dit ernstig is met sy identiteit as God se gestuurdes”.

Dr Elize Morkel is voorsitter van die Seisoen van Menswaardigheid.