Bevrydende Waarheid

Gerrit Engelbrecht lewer ’n bydrae tot die teologiese gesprek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.


Vir ’n rukkie tydens en na die Algemene Sinode van 2015 het die NG Kerk daarin geslaag om kerk te wees soos Willie Jonker dit verwoord het: “Wanneer die Heilige Gees die kerk in ’n uur van beslissing aanraak, vind die gemeente telkens weer woorde van vreugde om die troos en bevryding van die evangelie van God se genade uit te spreek.”

Twee kante van ’n knyptang waarmee gepoog kan word om gay gelowiges in vaste, liefdevolle selfdegeslagverhoudings uit die hart van die heil uit te haal, is sigbaar.

Hoe beskerm die NG Kerk as Moeder haar kinders teen, aan die een kant, biblisisme? Dit is ’n eienaardige soort rasionalisme waarin die letter van die Skrif die boodskap van die Skrif oorheers. Teksgedeeltes word nie gelees in die konteks van die gerigtheid van die hele Skrif op God se genadige ingrype in Jesus Christus nie. Net té gemaklik en begryplik vir die menslike verstand word die Skrif dan gebruik as ’n arsenaal van tekste om eie voorkeure te ondersteun. Juis daarom het dit dan ook ’n wettiese krampagtigheid. Ons belydenis weier tog om te aanvaar dat Christus en die Gees se inwerking in die wêreld uiteindelik in letters vasgeloop het.

Hoe beskerm die NG Kerk as Moeder haar kinders teen, aan die ander kant, skolastieke teologie? Die skolastieke wyse waarop bv skeppingsordeninge hanteer is in die 20ste eeu, het tragiese gevolge gehad vir die kerk en die wêreld. Dit is wanneer geloofswaarhede in ’n rasioneel deursigtige sisteem gegiet word. Die skepping kry ’n selfstandigheid buite die verlossende en vernuwende werk van God omdat die sondeval onderskat word. Die Skrif word doodgedruk in die benoude klimaat van menslike instellings en menslike insette.

Na die Barmen-verklaring het Emile Brunner gesê skeppingsordeninge is tog bruikbaar, en hy maak onderskeid tussen ’n grondstruktuur en historiese, wisselende uiterlike vorme wat ordeninge kan aanneem. Ordeninge is nie statiese, voor-tydelike dekrete nie, maar God wat trinitaries en dinamies in die geskiedenis werksaam is. Dis die ordeninge van Sy liefdevolle bemoeienis met die wêreld. Om dus een spesifieke gestalte van die huwelik te beskerm ten koste van die liefde, maak op geen manier enige evangeliese sin uit nie. Verder, om natuurlike onderskeidings in die NG Kerk steeds ondergeskik te stel aan die kerk as ’n herskepte mensheid, soos in die verlede gedoen is, neig weer terug na ’n soort natuurteologie.

Altwee kante van hierdie knyptang dink nie op ’n Bybelse manier vanuit die openbaring van God se liefde in Christus nie. Altwee kante is menslike steierwerke, die een ’n letter-like en die ander ’n orde-like konstruksie waarin daar nie meer ruimte is vir God om in vryheid in die geskiedenis te handel nie. Deur ’n algemeen menslike subjektivisme of deur ’n algemeen menslike sedelikheid kry die outonome mens hierin ’n plek. Altwee kante sluit aan by die oerneigng van die mens om sy eie posissie naas en teenoor God in te neem: “Ek gee sodat U kan gee.” Ons gereformeerde belydenis het hom op die sterkste moontlike manier afgeskei van die heidendom. Die kerk moet sy lidmate voortdurend verseker dat hulle toegevou is in die soewereine ingrype van God.

Homoseksuele gelowiges in selfdegeslagverhoudings deel ook in die hart van die heil. Die hart van die heil is tog Jesus Christus, die ja en amen op God se beloftes, wie Hom het, het die Lewe.

Geloof is om te leef uit die beloftes van God wat in die Woord en sakramente aan lidmate toegesê word. Geloof as die aanvaarding van die verlossing wat Jesus bewerk het, is nie ’n menslike moontlikheid nie. God regverdig die mens ondanks homself. In die heil speel daarom, aan die een kant, die Vader se verkiesing ’n rol, nie as ’n filosofiese vertrekpunt of as ’n prinsiepe in ’n godsdienstige sisteem nie, maar as die onderstreping en dieptepunt van die verlossing uit genade in Sy geskiedenis met ’n mens. Die verkiesing is dan ook juis ’n verkiesing tot geloof. Het God ’n fout gemaak om gelowiges in selfdegeslagverhoudings, wat die vrugte van die verkiesing, soos bv wedergeboorte en bekering, dra, te verkies? As Christus se verlossingswerk totaal genoegsaam is en Hy die spieël van ons verkiesing is, wat kan ons nog daarby voeg?

Die probleem wat ons meestal met die verkiesing het, is nie logies nie, maar sedelik. Dis dieselfde rede waarom ons ook nie hou van God se oordrewe en onsinnige liefde nie – dit kan mense insluit wat ons nie eintlik sou wou insluit nie.

Omdat die heil ’n “vreemde” werklikheid is wat van God af kom, speel, aan die ander kant, die oorrompelende, onweerstaanbare werk van die Gees ’n beslissende rol. Die volle heil word net in die geloof ervaar. Geloof is ’n gawe van die Heilige Gees. Daarom het die reformasie in sy wese gegaan oor die plek en werk van die Heilige Gees. Want dit is die Gees wat die beloftes van die Woord realiseer in ons lewens. Wat moet ons nou vir gelowige gays in selfdegeslagverhoudings sê, hoekom het die Gees die menslik onmoontlike gedoen en aan hulle egte geloof gegee?

Ons heiliging as gelowiges is net soos die regverdiging ’n daad van God wat slegs deur geloof ontvang word. Die geregverdigde sondaar is ook heilig, totaal heilig, omdat Christus sy heiligheid is. Die heiliging vind subjektief neerslag in ons lewens deur die Gees van God. Die Gees werk op so manier dat ons menslike funksies ten volle ingeskakel word. Die verband tussen regverdiging en heiliging lê in die gelowige se eenheid met Christus, wat meebring dat die beslissing oor die mens se ganse verlossing, regverdiging en heiliging, klaar in Christus geval het. Ons kry die heil nooit in ons eie hande nie. Dit bly in God se hand. Juis daarom kan daar sekerheid wees in ’n gelowige se lewe.

’n Kern-effek van die geskenkte nuwe lewe is ’n daaglikse verinniging van ’n verhouding met God. Juis daarom kom daar ’n verandering in dit wat jou ten diepste besiel en motiveer. Hierdie innerlike en uiterlike verandering en vernuwing wat deur die Heilige Gees bewerk word, is dan ook, ten spyte van aanvegtinge en terugslae, soos vir alle gelowiges, duidelik sigbaar in die strewe en lewe van gay gelowiges, ook dié wat in selfdegeslagverhoudings is. Wat gaan ons doen as die Heilige Gees op heterdaad betrap word dat Hy hierdie gay gelowiges troos met die beloftes van die evangelie? Kom ons vra eerder hoe die bediening van die Woord en sakramente hulle kan begelei om by God se beloftes te bly te midde van aanslae en verwerping deur medegelowiges en die samelewing.

Een van die groot aanvegtinge en versoekinge van gay kinders van God is om nie hulle unieke menswees uit te leef nie. In ’n samelewing wat tradisioneel ’n natuurlike aversie aan homoseksualiteit het, is dit baie makliker om dit te probeer onderdruk of te ontken; om in die kas te bly is nog steeds vir baie verkieslik bo emosionele, geestelike of fisiese mishandeling. Hoe kan die kerk ’n veilige ruimte wees wat hulle kan help om getrou aan God se bedoeling eenvoudig te wees wie hulle is as nuwe mense in Christus? Om hulle te ondersteun om as gay gelowiges selfvertroue en selfrespek te hê?

Hoe moet gay gelowiges dit verstaan dat ons inderdaad nie soos Jona en Petrus en ander Bybelkarakters soek na redes om mense uit te sluit nie, maar dat ons meer soos die God van die Bybel redes soek om mense in te sluit, die God wat wil hê dat alle mense gered moet word? Terwyl ons hulle wil uitsluit? Ek hoor daar is gay kinders van God wat dit onaanvaarbaar vind dat ons sê hulle is welkom, ons is dan nou so lief vir hulle, maar ons misken ’n deel van hulle menswees – “Moenie sê julle het ons lief nie.” Ons stel eise aan hulle wat ons nie aan onsself stel nie. God se liefde is tog onvoorwaardelik, dis die hele punt van die Goeie Nuus. Soos Noordmans sê, die hele Bybel is die openbaring van wat in 1 Joh. 4:16 staan: God is liefde! Dit is ook nie moontlik dat gelowiges se liefde vir die medemens ’n ander uitkoms gaan hê as sy/haar liefde vir God nie. Ons liefde vir God word juis sigbaar in ons liefde vir die naaste.

Wat die liefde aan betref, lyk dit op die oog af asof die Skrif nie riglyne het vir die inrigting van kern-homoseksuele gelowiges se selfdegeslagverhoudings nie. Tog sê die Bybel ook daaroor heelwat, soos bv dat die dinamika van lewensmaats wees ’n verbondsmatige aard kan hê en dat Christelike waardes ook daarin ingebou sal word, dat God se liefde, die vrug van die Gees, ook daarin gestalte sal kry. Hoe kan die kerk deel word aan die sirkulasie van kennis en ervarings oor die inrigting van hierdie verhoudings? Hoe kan die samelewing bewus gemaak word daarvan dat homoseksualiteit nie slegs met seks te doen het nie, en begelei word om gay mense as volledige mense te aanvaar en te respekteer?

Mag die bevrydende waarheid van die Woord, die waarheid van God wat in Sy grondelose genade Sy verlore seuns en dogters tegemoet harloop, ook in ons omgang met hierdie gelowiges die deurslag gee.

– Dr Gerrit Engelbrecht is ’n emeritusleraar in ’n vastetermynpos in NG gemeente Die Strand.