Genesis 1 se ‘beeld van God’

Genesis 1:27 getuig: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger; as beeld van God het Hy die mens geskep; man en vrou het hy hulle geskep”. Oor die betekenis van dié getuienis word daar wyd gespekuleer. Meeste antwoorde getuig eerder van hedendaagse sielkundige, antropologiese of filosofiese beïnvloeding as van kennis van die destydse sosio-antropologiese en historiese konteks.

Ook word Genesis 1:1 – 2:4a as geheel se literêre genre selde ernstig geneem wanneer hedendaagse ge­lo­wi­ges vra na die betekenis en boodskap van dié teks. Dit is een van die groot redes waarom daar soveel gelowi­ges en ongelowiges is wat verkeerdelik meen dat die getuienis van Genesis 1 en ons huidige kennis ten opsigte van die heelal oor die algemeen en lewe in be­sonder wedersyds uitsluitend is.

Die literatuursoort wat die beste pas by Genesis 1: 1 – 2:4a is die van ’n verhalende gedig. Indien ons ’n eietydse verhalende gedig letterlik interpreteer, sal mense waarskynlik vermoed dat ons op skool nie goed gedoen het in Afrikaans en Engels nie. Kinders leer reeds op skool dat daar meer literêre tipes as byvoorbeeld geskiedenis, wetenskap of ekonomie is. Kinders onderskei op ’n jong ouderdom literêre tipes en weet om nie dieselfde betekenis aan byvoorbeeld ’n gedig as aan ’n biologiehandboek toe te ken nie.

Indien ons in ag neem dat Genesis 1 uit priester­geledere van die ballingskap se Judese gemeenskap kom, val daar meer lig op die getuienis oor die “beeld van God”. Die Judeërs was bekend met die praktyk van onder meer Assiriese en Babiloniese konings om aan die grense van hulle ryk “monumente” te laat op­rig wat die omvang van hulle heerskappy en hulle grootheid bevestig het. Hulle was ook bekend met beelde van gode in ander volke se tempels.

Die Judeërs in ballingskap in Babel onthou dat daar geen beeld van hulle God in die tempel in Jerusalem was nie. Meer nog, hulle tempel is deur die Babiloniërs vernie­tig en hulle het geen grondgebied waaroor ’n ko­ning uit die geslag van Dawid regeer nie. Vir hulle is daar geen teken van God se teenwoordigheid, grootheid of heerskappy nie. Talle het dan ook hulle geloof versaak.

Uit priestergeledere kom daar egter nuwe lig. Ons mense is “beeld van God”. Ons is die sigbare, tasbare tekens van die omvang van God se teenwoordigheid en grootheid. Nie dooie klippe deur mense gevorm, getuig van die grootheid van ons Here nie. Mense van vlees en bloed, deur God gevorm getuig van die Bron van lewe. Waar ons is, daar is die beeld van God.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.