Sola Scriptura?

In die voortgaande gesprek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, skryf dr Johann Theron van die NG gemeente Kraaifontein-Noord oor die besluite van die Algemene Sinode en die Gereformeerde wekroep sola Scriptura.


By die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se verandering van die besluite oor selfdegeslag-verbintenisse het die Reformatoriese sola Scriptura (die Woord alleen) ’n kernrol gespeel. Siende dat ons die 500-jarige herdenking van die Reformasie vanjaar vier, lyk dit nogal gepas.

Dit wil voorkom of hierdie klem op die Woord alleen ons as kerk plaas teenoor die meesleurende mag van die liberale teologie soos dit Luther geplaas het teenoor die onteenseglike mag van die tradisie en die pous. Die liberale Skrifbeskouing en Skrifgebruik is natuurlik ’n troebel saak. Die kerk het wel ten goede ingesien dat ’n liberale beskouing daartoe kan lei dat jy min of meer enigiets in die Bybel kan aanvaar of verwerp as jy lukraak dele van die Bybel bloot as kultuurgebonde beskou.

Die vraag is egter of die kerk se heteroseksuele slaak van verligting by die omkeer van die Sinodebesluit enigiets te doen het met sola Scriptura en die eerbied vir God se Woord. Die Reformasie het nie net gesê sola Scriptura nie, maar ook sola gratia – deur genade alleen word ons gered. Die boodskap wat deur die spesiale Algemene Sinode se besluit in 2016 uitgestuur word mag voorkom na sola Scriptura, maar het nie veel te doen met sola gratia (genade alleen) nie. Die besluit bring nie die gewone lidmaat tot die besef dat ons deur genade alleen gered word nie, maar eerder dat ons deur heteroseksualiteit alleen gered word.

Ons moet onthou dat die Reformasie ook gesê het tota Scriptura – die hele Bybel – saam met sola Scriptura gesien moet word. As illustrasie hiervan kan ’n mens kyk na die duiwel in Lukas 4 waar Jesus versoek word. Die duiwel sê Jesus moet van die tempel afspring en haal dan pragtig gereformeerd aan uit Psalm 91 dat Jesus op engelvlerke gedra sal word.

As ’n mens sola Scriptura sou sien as bloot die gebruik van tekste uit die Bybel, sou dominee duiwel self ook ’n voorstander van sola Scriptura blyk te wees. Sola Scriptura as blote aanhaal van tekste uit die Bybel beteken nog nie ons volg die wil van God nie.

’n Kern van Luther se teologie wat hy by Paulus gekry het, handel dan juis oor die verhouding tussen wet en evangelie, waarna daar bykans nie verwys word in die kerk se debat rondom die gay saak nie.

As illustrasie van die komplekse verhouding tussen wet en evangelie sou ’n mens kon gaan kyk na die Sabbatsgebod. Anders as die redelik obskure wette oor gay verhoudings wat ook nie werklik verduidelik word nie, vind ’n mens die Sabbatsgebod as ’n sentrale en onoorkomelike wet in die kern van die 10 gebooie.

Juis hierdie wet word blatant deur Jesus oortree. Jesus en sy dissipels oes koring en eet dit op die Sabbat – direk teen die wet van God. Jesus stel dit aan hulle dat Hy Here is van die Sabbat en dat die mens nie gemaak is vir die Sabbat nie, maar die Sabbat vir die mens. Juis daarom soek die Fariseërs ’n geleentheid om Jesus om die lewe te bring.

Vir die Fariseërs is Jesus ’n aartsliberalis wat nie hou by God se wet nie. Indien ’n mens Jesus sou volg in sy argument sou ’n mens moet sê dat die mens ook nie vir die huwelik gemaak is nie, maar die huwelik vir die mens. Sou Jesus dan nie ook Here wees van die huwelik nie?

Die anti-gay-standpunt sou ’n mens kon opsom in die slagspreuk wat gebruik is by 2016 se Sinode: “Sonde is sonde”. Dit staan teenoor die pro-gay-slagspreuk wat by die 2015 besluit gehoor is: “Liefde is liefde”. 

Wanneer Jesus sy dissipels laat koring pluk en eet op die Sabbat, dan kom die wet en die liefde bymekaar. In Christus sien ons dat die wet in diens van Christus se liefde staan. Die Gees bring ook die liefde en die wet bymekaar in Romeine 13 omdat die sonde en die liefde slegs in die gebroke liggaam van Jesus aan die kruis verstaan kan word.

As Gereformeerdes moet ons dus die hele Bybel (tota Scriptura) lees en nie net die stukkies wat ons pas nie. Dit is nie te moeilik om ’n saak uit te maak dat die groot sonde in die Nuwe Testament nie ’n paar obskure sedelike voorskrifte is nie, maar veel eerder die eiegeregtigheid en wetsgeregtigheid van die Fariseërs. Wetsonderhouding is ook sonde – indien jy jou daarop wil beroem voor God. Dit was immers nie die onsedelikes wat Hom gekruisig het nie.

Die regverdiging van die goddeloses (Rom 5) wat die sola gratia van die Reformasie geword het, bevat nie ’n oordeel oor die onsedelikes nie, maar eerder ’n oordeel oor die sedelike Fariseërs. Dit sien ons duidelik deur Jesus geïllustreer in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Sonde is sonde – doodreg, onthou dan daarby dat eiegeregtige, heteroseksuele Fariseërs Christus gekruisig het, nie “onsedelikes” nie.

Die onoortuigende van die Sinodale besluit van 2016 is te sien in die verband tussen die Belhar-besluite in 2015 en die selfdegeslagbesluite in 2016.

Belhar wys vanuit die sola Scriptura op die NG Kerk se sonde teen Woord – ’n sonde teen die kernbelydenis van die eenheid van die liggaam van Christus soos ons dit in die hele Nuwe Testament uitgeskryf sien. Ons as NG Kerk het hierdie sonde teen die Woord nie bely deur Belhar te aanvaar nie. Nadat Belhar en die Bybelse opdrag tot eenheid nie aanvaar is nie, was daar geen algemene verontwaardiging dat sola Scriptura geminag is nie.

Met die besluit oor die aanvaarding van selfdegeslag-verbintenisse in 2015 was daar egter ’n kollektiewe beroep op sola Scriptura met sowat 600 bladsye se gravamina wat na die spesiale Sinode van 2016 ingestuur is. Toe dit in die kerk handel oor ons eie sonde teen Christus se liggaam – sy Woord – was daar geen beroep op sola Scriptura nie, maar toe dit handel oor ander mense se moontlike sonde – toe gryp almal skielik na sola Scriptura. Sonde is sonde, maar dit het veel duideliker geblyk in die wetsgetroue Fariseërs se spoeg op Jesus se wang toe Hy aan die skandekruis hang as by Maria die prostituut wat gehuil het by sy graf.

Ons Sinode mag tekste uit die Bybel gebruik het in die 2016-besluite – maar dit sou hoogs onoortuigend wees om die besluite triomfantelik te sien as ’n bevestiging van die Reformatoriese sola Scriptura