Keer die kerk terug na die heidendom?

In ’n bydrae tot die gesprek oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, skryf Peet Zeeman van Mosselbaai oor postmodernisme en die NG Kerk.


Onlangs moes ek in my kerk die volgende hoor: “Ons is tog almal postmoderne mense.” En dit oor homoseksualiteit in die kerk.

Postmodernisme word as volg deur Brian Duignan gedefinieer: “A western philosophy, a late 20th century movement characterized by broad self-criticism, subjectivism or relativism, a general suspicion of reason and an acute sensitivity to the rule of ideology in asserting and maintaining political and economic power.”

Dit is duidelik dat die “ideologie” ver wyer as die politiek en ekonomie strek, dit strek tot binne in die kerk. Sedert die 1980’s het die volgende onder invloed van die postmodernisme gebeur:

1. Die militante feminisme

Van die verbranding van bra’s het die feminisme redelik vinnig gevorder tot die kreet van pro-aborsioniste: “Baas in eigen buik.” Wat ’n verskriklike kreet vir hulle aan wie die Here juis die liefde en beskermingsdrang gegee het, om die lewe wat Hy volgens Dawid, met sorg in die buik geweef het, te bewaar.

In my kerk moes ek aanskou hoe ’n jong dominee op die verhoog verskyn in drie duim spykerhakskoene, ’n stywe denimbroek en ’n rooi leerbaadjie en preek oor die regte wat die Here aan vroue gegee het.

2. Die heilige huwelik

Gou het die postmoderne wêreld besluit dat die huwelik nie heilig is nie. Egskeiding kon tog nie na Christelike waardes slegs om een of twee redes geskied nie. Daar moes tog omgesien word na die arme mense wat vasgevang is in ’n huwelik wat hom of haar nie lekker pas nie.

Die Kerk, om nie agter te bly nie, het dit stilswyend aanvaar. (In elk geval die postmoderne deel van die kerk.)

In my kerk het die egskeidingsyfer sedert 1980 gestyg van sowat 10% tot die 51% vandag. Dit is net so hoog soos die syfer daar buite in die wêreld, sodat daar tussen my kerk en die wêreld geen verskil meer bestaan nie.

3. Reinheid verwerp

Laat in die 1980’s laat ons toe dat reinheid by die agterdeur uitglip. Saambly word geredelik aanvaar en die kerk laat dit stilswyend toe. Ons trou paartjies wat lank reeds saam woon.

My woordeboek definieer reinheid so: “Onvermengd en onverdun, suiwer. Oor seksuele reinheid; eg, kuis, onbevlek, vlekkeloos en waar.”

4. Aborsie gewettig

In Februarie 1997 word aborsie gewettig tot op 20 weke van swangerskap.

Ons word plegtig deur die postmoderniste verseker dat alle agterstraat-aborsies so beëindig sal word en lewens daardeur gespaar sal word.

Reeds voordat ’n vrou weet sy is swanger, op 4 weke na bevrugting, het ’n baba in die baarmoeder ’n hartklop en breingolwe. Op 20 weke is ’n baba reeds volmaak gevorm.

Vandag word daar 2 500 tot 3 000 aborsies per maand in staatshospitale uitgevoer, meer as die helfte daarvan op kinders jonger as 18 jaar. Kinders so jonk as 12 kan sonder hul ouers se toestemming gaan vir die prosedure. Die ergste is dat steeds 50% van alle aborsies, agterstraat- aborsies is.

In Amerika is die gemeenskap en kerk in twee geskeur en heers daar ’n voortdurende stryd tussen die groepe wat pro-life en pro-choice is. In my kerk is daar skaars ’n gemurmel hoorbaar oor die saak.

  1. Homoseksuele huwelike

In 2006 beveel die parlementêre verteenwoordigers van my kerk by die parlement aan dat die instelling van homoseksuele huwelike moet voortgaan.         

My kerk het, dank die Here, onlangs tot besinning gekom oor die saak en hopelik sal ons homoseksuele huwelike en homoseksuele predikante in ons kansels gespaar bly.

In 160 nC skryf die Apostoliese Vaders, so genoem omdat hulle nog die apostels self geken het en deur hulle onderrig is, die eerste katkisasieboekie – Die Didache. Hierin word vir die wat by die kerk aansluit die sogenaamde weg van die lewe en die dood uiteengesit.

Die eerste artikel sit die gebod van die liefde as die hoogste goed uiteen. Die liefde vir jou naaste, jou broers en susters en ook jou bitterste vyande.

Die tweede artikel gaan oor jou gehoorsaamheid deur rein te lewe. Dit verbied egskeiding, onreinheid, seksuele losbandigheid, homoseksualiteit, diefstal ens. Hulle was diep bewus daarvan dat sonder liefde die kerk niks is nie, en sonder gehoorsaamheid aan God die liefde geen inhoud het nie.

So het die Christene die heidense wêreld as’t ware teruggedwing, nuut gemaak, sout en lig geword in ’n verdwaalde heidense wêreld.

En ons? Wil ons terug na die heidendom? Sien ons kans om God met ons postmoderne filosofie uit te daag, ook in die kerk?

My hart was seer toe ek vir die eerste keer die pad soos bo uiteengesit, so helder gesien het. Ek glo dit was die werk van die Heilige Gees in my lewe. Ek bely dat ek te lank stil gebly het terwyl die dinge rondom my gebeur het.

Ek weier om ooit weer postmodern genoem te word en om aan ’n postmoderne gemeente te behoort.

Ek sal ten spyte van alle teenstand ʼn Christen wees en getrou aan die Woord met die hulp van die genade van my Heiland en Heer.