Deur die oë van weerloosheid

Dr Charlene van der Walt se woorde, haar teenwoordigheid, skakel ’n lig aan: Verhelderend. Ondersoekend. Soos die lamp wat ’n dermatoloog nader trek om so goed as moontlik te sien. En te genees. ANNALISE WIID het met Charlene op Stellenbosch gesels, waar sy in Oktober 2016 voltyds aangestel is as dosent met die fokus op Gender en Gesondheid.


Charlene is 12 jaar gelede gelegitimeer. Sy was eers predikant in Grahamstad. Later in Maitland, aan die afskeep-kant van Kaapstad. “Waar mense géén sosiale kapitaal het nie. Waar sommiges onder die brug woon. En voel hulle word nie gehoor nie.” Sy het navorsing gedoen vir Inclusive and Affir­ming Ministries (www.iam.org.za). En sy het ook reeds sedert 2012 deeltyds MTh-studente met die fokus Gender, Gesondheid en Teologie aan die US begelei.

Sy ry met ’n Vespa-bromponie. Oral. Selfs in die gie­tende Kaapse reën. Sy is sonder smuk. En beslis nie bang nie. Gewillig, gewoond, om weerloos te wees. Maitland toe het sy soms trein gery. “Dán weet jy van jou weerloosheid.”

Nou hang haar foto teen die Fakulteit Teologie se muur. Haar naam sit netjies op ’n blinkswart bordjie bo haar kantoordeur.

“Ja,” sê sy, “Stellenbosch en Maitland – so uiteenlopend. Maar dit is ons landskap, né? Party goed werk, party goed nie. Party mense kan hulle veiligheid koop, ander nie. In dié land leef verskillende waarhede teen­aan mekaar. Bewussyn daarvan is belangrik. ’n Mens se sosiale konteks informeer ongetwyfeld, dikwels on­gemerk, die manier waarmee jy met die Bybel omgaan.”

Charlene is, soos haar vriend prof Gerald West van die Universiteit van KZN, ’n “socially engaged Biblical scholar”.

“Ek kan nie los van my konteks preek nie,” verdui­delik sy. “Maar ek mag die evangelie ook nie verdraai of verwater nie. Dit moet goeie nuus bly – selfs vir die mees weerlose mens, vir dié wat nie eens ’n gemaksone hét nie. Dít is die uitdaging: Dieselfde “goeie nuus” in beskutte Stellenbosch sowel as in weerlose Maitland.

“Weerloos”. Sy gebruik die woord dikwels. Hoekom staan dit vir haar so sentraal? “Omdat dit die storie is wat ek leef. Vandat ek weet van myself, van baie klein af, weet ek dat ek gay is. En alles en almal sê: Nee, dit kan nie. Jy mag nie. Moet dit nie sê nie!”

Vir 37 jaar het sy nie gepraat nie. Tot ná die Algeme­ne Sinode van 2015. Op 12 November 2015, by die US Fakulteit Teologie se Eendag-konferensie oor Self­de­geslagverhoudinge, het sy vir die eerste keer in die openbaar gepraat. Waagmoedig. Blootgestel. Weerloos. (Die video is op YouTube beskikbaar.)

En toe … 2016 se Buitengewone Algemene Sinode. In die ná-lig daarvan, vra Charlene: Hoe nou vorentoe ná die trauma? “Jy weet, 2015 en 2016 se twee sinodes was vir baie mense soos: Ons nooi jou vir ete, maar sodra jy aansit en jou mes en vurk optel om te begin saameet, word die bord skielik voor jou weggevat. En jy hoor: Eintlik is jy nie genooi nie.”

“Ons moet praat. Maar ‘namens praat’ het ’n rakleeftyd,” meen sy. “Vir te lank het ons óór mense gepraat. Of námens hulle. Dit het tyd geword om mét mekaar te praat. Maar ons sukkel. Dis moeilik, selfs ongemaklik om oor seksualiteit te praat. ’n Mens moet mooi dink, versigtig trap. Ons het nie die woordeskat nie.”

Dié dilemma word prakties aangespreek in die MTh met die fokus Gender, Gesondheid en Teologie, waar sy en kollega prof Julie Claassens studente begelei in ’n tweeledige interdissiplinêre proses: Om woorde te vind vir ’n genesende gendergesprek, sodat mense volledig kan leef en kan floreer. En om goeie, teologies-geïnspireerde hermeneutiese prosesse te volg. Die Kerk van Swede is hulle hoofborg.

Slegs 10 studente per jaar. Vanuit verskeie dissiplines: Praktiese Teologie, Ou Testament, Nuwe Testament, Jeugwerk, en wat nog. “Dink net aan die moontlike gesprek-scenario’s vorentoe,” sê Charlene. “Hulle gaan te doen kry met kinders in ’n gemeentekonteks; met gendergeweld; met MIV; met verlossing …! Ons ontwikkel die taal vir allerlei sulke gesprekke saam met hulle. Help hulle om netwerke, sisteme, verbande te identifiseer. Alles is so kompleks. Niks gebeur in isolasie nie. Ons skep dinamiese gesprekspasies. Praat, dink, luister, ontdek. Stel bloot. Leer van mekaar. Konfronteer die moeilike vrae.”

Die terugvoer van oud-studente, soos byvoorbeeld dominees Rethie van Niekerk van Port Elizabeth, Rudi Swanepoel van Johannesburg, Michelle Boonzaaier van IAM, is vir Charlene wonderlik. Om te sien hoe almal van hulle kreatief inisiatief neem en konkreet ’n verskil maak, werklike hoop bring.

Charlene van der Walt is tuis in haar vel. In haar beroep ook. Sy hoef vir niemand verkleurmannetjie te speel nie. Die US het haar voltyds as lektor aangestel. Nie ondanks die feit dat sy gay is nie. Ook nie omdat, as ’n toegewing, nie. “Ons het jou insette en intellek nodig,” sê die aanstelling. “Jou perspektief: Vertroud met weerloosheid. Buitestander wat die binnekring help belig. Helend. Jou wese is vir ons ’n volledige aanwins!”