’n Hawe vir haweloses

In ’n onlangse oordenking wys die Amerikaanse Fransiskaan Richard Rohr daarop dat Christene vir die eerste 300 jaar ná die dood van Jesus ’n onderdrukte minderheid was en sou as “rebels hiding in catacombs” beskryf kon word.

Teen die jaar 400 het die situasie egter drasties verander. Christene het van die katakombes na die basilikas beweeg en toenemend ’n posisie van bevoorregting en mag in die samelewing ingeneem.

Dit het volgens Rohr ’n ingrypende invloed uitgeoefen, ook op die manier waarop ons die Bybel lees. Ons het dit nie meer as sub­versie­we literatuur verstaan wat bedoel is om die be­lange van gemargi­naliseerdes te beskerm en te be­­vorder nie, maar as establishment-literatuur wat toe­nemend gebruik is om die belange van die in­vloed­rykes en magtiges te beskerm.

Rohr lewer dan ’n pleidooi vir die lees van die Bybel “through the eyes of vulnerability” – vanuit die perspektief van die armes en verontregtes. Die be­lang­rikste vraag is dan nie meer: “Hoe kan die Bybel gebruik word om die status quo te handhaaf?” nie, maar: “Hoe kan ons almal saam die samelewing ver­ander sodat daar meer geregtigheid kan geskied?”

’n Onlangse kunswerk wat uitdrukking gee aan hierdie benadering om deur die oë van weerloosheid en kwesbaarheid te kyk, is die lino-druk, Entertaining Angels, deur die kontemporêre Australiese kuns­te­naar, Luke Devine.

Soos die skildery wat ek in die vorige kunsrubriek bespreek het (Kerkbode, 20 Januarie 2017), is hierdie werk ook gebaseer op die ikoon, Die Gasvryheid van Abraham, deur die vyftiende-eeuse Russiese kuns­tenaar, Andrei Rublev.

Andrei Rublev se vyftiende-eeuse ikoon, Die Gasvryheid van Abraham.

In sy kunswerk vervang Devine die drie engele wat volgens Genesis 18 by Abraham in Mamre besoek afgelê het, met drie hawelose persone wat besig is om die tipiese maaltyd wat by sopkombuise bedien word, te nuttig. Op die agtergrond word ’n moderne stad uitgebeeld as konteks waarbinne die Mamre-verhaal opnuut geïnterpreteer word.

Soos in die Rublev-ikoon, sit hierdie haweloses aan by ’n tafel met stoele wat ’n agtkantige patroon vorm. In die Christelike tradisie speel die getal agt ’n belangrike simboliese rol, veral met verwysing na die dag van Jesus se opstanding op die dag ná die Sabbat, dit wil sê op die agtste dag.

As sulks kan die getal “8” dan gesien word as ’n simbool van redding, wedergeboorte en herlewing. Die implikasie daarvan vir die interpretasie van Devine se uitbeelding van die haweloses, is dat hulle (en alle ander gemarginaliseerdes) volledig ingesluit is by die heilswerk van Christus. Die tafel is nie ’n plek van uitsluiting nie, maar ’n ruimte van radikale inklusiwiteit.

Dit sluit natuurlik ook aan by Lukas 4 waar Jesus self sê dat Hy gekom het om die evangelie aan armes te verkondig, en by Hebreërs 13 waar die oproep tot Christe­like gasvryheid gemotiveer word met die woorde: “deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

So gesien is Christelike gasvryheid – en veral gasvryheid teenoor weerlose en gemarginaliseerde mense – nie net ’n prysenswaardige deug nie, maar ’n kernaspek van die evangelie self, ’n manier waarop die lewenswerk van Christus gestalte kry in die lewe van die geloofsgemeenskap.

Wat Devine se aansluiting by die Rublev-ikoon redelik problematies maak, is dat Rublev se uitbeelding van die engele by Mamre ook geïnterpreteer kan word as ’n uitbeelding van die Goddelike Drie-eenheid. Die implikasie hiervan sou wees dat die drie haweloses in Devine se werk ook verstaan sou kon word as uitbeelding van die drie Persone wat volgens die Christelike tradisie uitdrukking gee aan die wese van God self.

Die probleem van hierdie identifikasie van die drie haweloses met die drie Persone van die Drie-eenheid word natuurlik opgelos wanneer daar in lyn met Filippense ook oor God deur Richard Rohr se “eyes of vulnerability” gekyk word.

Die menswording van Christus gee, in die woorde van Filippense 2:6-7, naamlik uitdrukking aan die feit dat ’n “bestaan op Godgelyke wyse” nie iets is waaraan daar deur God vasgeklem word nie, maar dat die ware aard van God juis na vore kom wanneer die Seun van God “Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word”.

Hierdie kunswerk daag ons inderdaad uit om ons ver­onderstellings wat deur eeue se establishment-denke gevorm is, krities onder oë te neem en in die proses te ont­dek dat ons op ’n byna fatale manier toegegee het aan die versoeking om die Bybel uitsluitlik “van bo af” te lees – met die ewe fatale gevolg dat die Bybel teen sy bedoeling in gebruik word om kwesbare mense nog verder te marginaliseer.

Die bevryding van hierdie soort denke is daarin geleë dat die ware aard van die Bybel ontdek word as Woord van dié God wat vreemdelinge beskerm en weduwees en weeskinders help. En waar dit gebeur en die Bybel “van onder af” gelees word, kan die kerk ook weer van sy mag­ti­ge heersersposisie bevry word om waarlik ’n “hawe vir die haweloses” te word.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.