As die sout dan simpel word

In die antieke wêreld was sout ’n wondermiddel.

In ’n wêreld sonder yskaste het dit nie alleen smaak aan kos gegee nie, maar dit ook gepreserveer. Sout is verder as kunsmis, ’n katalisator in oonde, en as velsorgmiddel gebruik. Volgens Plinius die Oudste was ’n beskaafde lewe doodgewoon onmoontlik sonder sout!

Die veelvoud van gebruike van sout het dit ook ’n gewilde metafoor gemaak. So verklaar Jesus in Matteus 5:13 aan sy dissipels: “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?” (OAV)

Volgens die Noorweegse teoloog, Ernst Baasland, is die uitspraak van Jesus vreemd om verskeie redes.

Eerstens word daar nooit van mense in Joodse teks­te gesê dat hulle sout is nie. Dit is eerder die Wet of die Tempel wat soos sout is.

Dit is ook onduidelik watter eienskap van sout Jesus in gedagte het. Moet die dissipels smaak gee aan die wêreld?

Nog vreemder is die gedagte dat sout “laf” – letterlik “gek” of “simpel” – kan word. Sout se chemiese samestelling kan immers nie verander nie.

Moontlik verwys Jesus na die sout as simbool van vriendskap. Sout was naamlik ’n duur wondermiddel wat jy net met jou familie en vriende gedeel het. Die verwysing in Handelinge 1:4 om saam aan tafel te wees is in die Grieks letterlik om saam sout te eet.

In Markus 9:50 word Jesus se uitspraak oor sout wat laf word, dan ook gevolg met die oproep: “Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

Om sout te wees is dus oënskynlik volgens Jesus die vermoë van sy volgelinge om ’n diep, innige gemeenskap tussen mense te smee. Om laf te word – jou southeid te verloor – was om dié vriendskap te verloën.

Só beeld Leonardo da Vinci in sy fresco van die Laaste Avondmaal Judas se verraad van Jesus uit deur ’n omgekeerde soutbeker wat voor hom op die tafel lê.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.