’n Moderne gelykenis wat jou laat dink

THE HIGH MOUNTAINS OF PROTUGAL
Deur Yann Martel
Uitgegee deur Spiegel & Grau, 2016

Resensie deur Johan van den Heever


Waarom moet jy die boek lees? Ek dink dit is een van die beste voorbeelde van moderne gelykenisvertelling. Die manier waar op Martel (skrywer van die bekende The life of Pi) metafore gebruik om oor God en geloof te praat, is aangrypend. Tog is dit nie ’n geestelike of teologiese boek nie. Die spirituele is egter ’n goue onderliggende draad.

Die verhaal is drie verhale wat ineengevleg word. Die geheel is meer as die som van die dele en dit is eers met die laaste van die drie verhale wat die hele verhaal ontvou.

Dalk is die manier van skryf reeds ’n aanduiding van ’n trinitariese geloof wat by die skrywer leef.

Verhaal een: 1904. Thomas het sy seun, sy beminde en ook sy pa aan die dood afgestaan. Hy begin nou agterstevoor loop as teken van sy rou. Hy loop met sy rug na die wêreld en met sy rug na God. Wat anders is daar om te doen as om beswaar aan te teken – teen die lewe en teen God. Hy vertrek dan op ’n reis met sy ryk oom se motor, iets wat in daardie tyd beswaarlik van geweet was. Hy is op soek na ’n Christus-kruis wat die wêreld sal skok.

Verhaal twee: Dit is 35 jaar later en ’n Portugese patoloog, dr Lozora, wat die dood van ’n vrou ondersoek, is in gesprek met sy eie vrou. Sy verduidelik aan hom hoe hy die Evangelies moet lees. Wanneer ’n vrou met ’n lyk in ’n tas instap, begin metafore en simbole stadig die verhaal oopsny. Sy vra die patoloog om ’n outopsie op die liggaam te doen. Die outopsie vertel eintlik die verhaal verder.

Verhaal drie: Weer word daar dekades die toekoms in gespring. Die Kanadese senator, Peter Tovy – hy het ook sy vrou deur die dood verloor – koop ’n sjimpansee by ’n sentrum wat navorsing doen op primate. Hy verhuis na Portugal waar hy en die sjimpansee op ’n klein plattelandse dorpie gaan woon. Hier vloei die drie verhale in een. In hierdie laaste verhaal kom die mooiste mistieke beskrywing van God se verhouding met ons na vore. Alles egter in metafore wat die leser nou al behoort te snap.

Ek het terugskouend eers al die metafore in die boek raakgesien. Soos met ’n goeie gelykenis, is daar ’n veelkantigheid aan die verhaal wat jou bybly en my nog lank laat nadink het.

Dr Johan van den Heever is predikant van die NG gemeente Eldoraigne.