NG Kerk lui om te dink?

“Die professore praat te geleerd”.

“Is dit net professioneel-opgeleide teoloë wat die Bybel mag uitlê?”

“Om konteks, historiese verstaan, literêre genre, die konteks van die Bybelleser deel van die lees en interpretasie van die Bybel te maak, maak dinge net te gekompliseerd”.

“Die afstand tussen dosente aan teologiese fakul­teite en die kerk is te groot”.

“VBO moet meer prakties wees”.

“Ek is nie lus om na ’n klomp teorie te luister wat in die lug rond hang nie, ek wil praktiese wenke hê wat ek in my gemeente kan gaan toepas”.

“Teologiese opleiding moet meer prakties wees”.

Dit is die soort van kommentaar wat ek die afgelope klompie maande in die kerk hoor. Dit lyk vir my al hoe meer na dit wat in Amerika genoem word, anti-intellektualisme. Anti-intellektualisme word omskryf as ’n skeptisisme en selfs afwysing van die logiese redenasie, wetenskaplike argument en rasionele denke.

“Anti-intellectualism is an attitude that minimizes the value of intelligence, knowledge and curiosity,” sê RationalWiki. Kennis en kundigheid is elitis­ties. Na alles is die Titanic deur eksperte ontwerp en gebou. Waarom sal ons dan ag slaan op die mening van eksperte?

In die Huffingtonpost (11/2/2016) skryf ’n persoon ’n artikel met die titel “The new plague in America: the denial of reason”.

Ons wil maklike antwoorde op moeilike vrae hê. Ingewikkelde argumente verwar mense net. Google help ons in dié opsig. Google gee presies dit: klinkklaar, maklike, eenvoudige antwoorde op komplek­se vrae. Die internet maak ons eksperte oor ’n onder­werp binne ’n paar minute. Die antwoord is be­langriker as die vraag.

Dit maak ons lui om te dink. Hoekom moet ons dink oor komplekse vraagstukke en antwoorde versigtig formuleer as die antwoorde al klaar voor die hand liggend beskikbaar is?

Ons dink vanjaar na oor die Hervorming van 500 jaar gelede. Die Hervorming het ons geleer om die Bybel noukeurig te lees en om erns te maak met veral die historiese dimensie van Skrifverstaan.

Martin Luther was professor aan die Wittenbergse universiteit. Dit is sy noukeurige eksegese van die Romeine-brief wat die insig gebring het dat God mense uit genade, sonder verdienste red.

Calvyn het ’n intellektuele erfenis nagelaat wat vandag nog nagevors word. Dit is die erfenis van die reformasie dat die Bybel vanuit die oorspronklike tale bestudeer moet word om die Bybel steeds beter te verstaan. ’n Intellektuele begrip van en worsteling met die teologie is deel van die vrug van die Hervorming.

In ’n tydsgees van anti-intellektualisme herinner die Hervorming ons tereg daaraan dat om wetenskaplike teologie te bedryf, deel is van die erfenis van die Hervorming.

Die opskrif van die artikel is vaag en algemeen maar met die artikel steek ek ’n rooi vlag op. Is dit waar dat die NG Kerk besig is om lui te word om te dink oor vraagstukke? Kom ons maak dit persoonlik: Dominee, is jy wat die artikel tot hiertoe gelees het, besig om lui te raak om te dink?

Prof Fanie Snyman is dekaan van die Fakulteit Teo­logie aan die Universiteit van die Vrystaat.