Kom ons leer die kinders!

Wat het die herdenking van die Reformasie vyf eeue gelede te doen met van die uitstaande skole in ons land soos Grey Kollege in Bloemfontein? Wel, eintlik alles!

Die verhaal loop soos volg: In 1855 het Andrew Murray jr met sy bediening in Bloemfontein begin. Murray het gou bewus geword van die behoefte aan ’n goeie skool en het ’n leidende rol gespeel in die vesti­ging van ’n kollege waar jong mans opgelei kon word as onderwysers.

Sy toewyding aan die saak van onderwys en ’n donasie van £4,500 (R74 934,11) deur Goewerneur George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie, het dit moontlik gemaak dat die hoeksteen van Grey Kollege op 13 Oktober 1856 deur president Boshoff gelê is. Met die amptelike opening van Grey Kollege op 27 Ja­nuarie 1859 is Murray as die eerste rektor aangewys.

Dit is dieselfde Murray wat bykans 20 jaar vroeër tydens sy studie in Aberdeen, Skotland, met die werk van die Skotse hervormer John Knox te doen gekry het. Knox het op sy beurt weer in Genève met Calvyn se standpunte oor die onderwys te doen gekry.

Van Calvyn in Genève via Knox na Skotland via Murray na Suid-Afrika – en 500 jaar later pluk Suid-Afrika steeds die vrugte van uitnemende skole soos Grey Kollege.

Om die impak van die Reformasie op die onderwys van die tyd te verstaan, moet ons egter vir ’n oomblik stilstaan by Luther. Luther het meer breedvoerig oor die onderwys geskryf as enige van die ander hervor­mers. Sy twee uitstaande werke was: Aan die Raadslede van alle stede in Duitsland sodat hulle Christelike skole kan vestig en onderhou (1524) en ’n Boodskap om kinders in die skool te hou (1530).

In hierdie twee dokumente het Luther breedvoerig geskryf oor die noodsaaklikheid van opvoeding en onderwys, verskillende curricula, metodes van onder­wys, die noodsaak van biblioteke, die verantwoordelikheid van die staat, die verantwoordelikheid van ouers en die belangrike rol wat Christen-onderwysers moes speel.

Daarmee het Luther ongetwyfeld die fondament gelê wat deur ander hervormers soos Calvyn, Melanchton, Zwingli en Knox verder uitgebou en ontwikkel is.

Vyfhonderd jaar later leef Suid-Afrikaners in ’n land met ’n onderwysstelsel in chaos. Miskien moet deel van ons feesvier wees om dit wat hervormers oor die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van on­der­wys en opvoeding geskryf het, te herbesoek.

Op die spoor van ’n Andrew Murray jr sal daar dalk iewers ’n skool of skole ontstaan wat oor dekades heen ’n positiewe bydrae tot kerk en samelewing kan lewer en dan sal ons kan juig: “Ecclesia Reformans semper reformanda” – Leer die kinders!

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.